WAT IS CALVINISME?

Eers moet ons sê wat die Calvinisme nié is nie. Soos die Marxisme dui op 'n verheerliking van Marx se idees en van sy persoon, so kan die Calvinisme dui  op 'n verheerliking van die persoon en van die idees van Calvyn. Niks is egter verder van die waarheid as dit nie. Die Calvinisme wil nie die persoon van Calvyn verheerlik nie – dit sou juis teen die diepste bedoel van Calvyn self indruis. Dit wil ook nie die gedagte van Calvyn verabsoluteer nie –asof die ganse Calvinisme net bestaan uit 'n herhaling van wat Calvyn gesê het.

Ook sou dit in stryd wees met wat Calvyn bedoel het. Die Calvinisme wil niks minder wees as radikale en konsekwente Christendom nie. Radikaal – want tot in die wortel van menslike bestaan moet die Christendom deurgetrek word. Konsekwent – want as alle wortels van die menslike bestaan hulle lewensap uit die Christendom trek, dan sal al die mens se geestelike aktiwiteite tot in die verste verte met die Christendom deursuur wees. Die Calvinisme wil die koningskap van Christus op elke lewensterrein erken en proklameer.

Die Christendom bestaan nie net in een enkele kompartement bv in die kerkgebou of op Sondag of in een boek, nl Die Bybel, nie. As Christus Koning is van elke vierkante sentimeter van hierdie wêreld, dan is Hy Koning ook van die parlementsgebou, en Koning op Maandag en Koning in elke publikasie wat die lig sien. Die Calvinisme eis die gehoorsaamheid van die totale mens op elke lewensterrein. Daar is geen enkele ding wat die mens doen met sy gedagte, met sy woord of met sy hande, waarin hy nie onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Christus die Koning moet bewys nie.

En dit beteken konkreet gehoorsaamheid aan die Skrif as God se enigste en betroubaarse openbaring. Calvyn, begenadigde dienskneg van God, het die weg aangewys na hierdie waarhede , en op dié weg volg ons hom met graagte en dankbaarheid, in die wete dat ons daardeur verder bou op die fondamente wat hy gelê het.