ONS IS OOK 'N GELOFTEVOLK

"As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees."

II Kronieke 7: 14.

In die huidige toestand wat ons Boerevolkie verkeer kan ons seker nie te veel na hierdie Skrifgedeelte verwys nie want dit is vandag ons enigste uitvlug uit die verdrukking, as ons net sal luister en dit gehoorsaam.

Toe die Here hierdie belofte aan Salomo gemaak het, was die pragtige tempel pas voltooi en was die volk besig om tydens die inwyding daarvan in ekstase fees te vier.

Maar die Here het geweet hoe maklik sy volk se aanbidding weer tot 'n laagtepunt sal versink.

Hy het vir Salomo gesê dat indien die volk weer van Hom en sy gebod wegdwaal, sal Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën val nie, of Hy sal die sprinkaan beveel om die land af te vreet, of Hy sal pes onder die volk stuur om hulle weer van hulle bose weë te bekeer.  Indien hulle dan luister en weer sy aangesig soek, sal Hy uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land weer genees van al die onheil wat daar gebroei het.

Israel was die Here se geloftevolk wat Hy met groot deernis uit hulle Egiptiese slawerny verlos het en hulle weer na hulle land van belofte teruggelei het.

Ons rvolk is ook 'n geloftevolk.

Ons kern is uit Europa aan die suidpunt van Afrika geplant.  Later het die Here ons deur middel van die Groot Trek van Britse arrogansie en versmoring gered en tot twee vrye republieke laat ontwikkel.  Hierdie vryheid het sy kruin bereik in die Republiek van Suid-Afrika in 1961, wat 30 jaar lank só deur ons volksvyande ondergrawe is, dat ons onder die hiel beland het van 'n heidense terroristiese bende, wat daarop uit is om ons finale ondergang te bewerkstellig.

Waarom het die Here toegelaat dat hierdie ramp wat ons bedreig, oor ons kom?  Is dit 'n strafgerig wat oor ons voltrek word, omdat ons weggedwaal het van ons Verbondsgod wat ons deur soveel gevare en krisisse veilig bewaar en deurgelei het?  Die oorblyfsel van die Afrikanervolk wat nog nie landuit gevlug het of deur die sataniese magte van die vyand vermoor is nie, het reeds in 'n groot mate in baie van die gruwelike sondes verval waarin die wêreld hom verlustig.

Die Here se beloftes aan Israel geld ook vir ons Afrikanervolk in nood:  "As julle jul van julle verkeerde weë bekeer en my aangesig soek, sal Ek uit die hemel hoor en julle sondes vergewe en julle land genees." Dit is ons innige en dringende gebed aan die almagtige God van hemel en aarde, in wie se hande ons volk se toekoms veilig is.