ONS HET 'N FONDAMENT!

Een van die grootste probleme wat ons volk tans beleef is ‘n vertrouensprobleem want ons weet nie meer wie om te vertrou nie. Soveel mense het ons al in die steek gelaat dat ons nie meer weet wie om te vertrou nie. Ons word daagliks verraai, onderkruip en benadeel deur mense wat ons tevore wel vertrou het.

Die rewolusionêre magte wat Afrika al dekades lank teister, het ons land sedert 1994 soos ‘n getygolf getref met plaasmoorde, kapings, daaglikse rooftogte en talryke nuwe misdade. Opregtheid, goedheid, regverdigheid en verdraagsaamheid bestaan nie meer nie. Ons beleef ‘n skrikbewind van haat wat in Swart bemagtiging en regstellende aksie openbaar word. Hulle braak selfs gal oor ‘n tyd toe daar wet en orde geheers en God in Suid-Afrika geëer is. Die goddelose vyand is besig om die laaste fondamente van ons Christelike volksbestaan om te gooi.

As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?
Psalm 11:3

Psalm 11 vertel vir ons hoe Dawid God 100% vertrou het en nie bang was om ‘n onbekende toekoms heelhartig aan Hom toe te vertrou nie. Die opskrif by hierdie psalm is: “Wees nie kleingelowig nie!” Die psalm fokus op Dawid se geloofsvertroue en leer ons dat as ons God as Vader het, dan bou Hy ‘n stewige geestelike raamwerk om ons hele bestaan sodat ons nie kan uitval nie.

Psalm 11 is geskryf tydens die burgeroorlog wat Absalom teen sy vader Dawid gevoer het om sy koningskap met geweld van hom af te neem. ‘n Groot deel van sy volksgenote het nou sy vyand geword wat saamgesmee het om die samelewing en die staat se geordende fondamente te ontwrig en om te gooi. Dawid se getroue volgelinge (die regverdiges) het hom aangeraai om vir die opstandelinge (die goddeloses) te vlug. Hy het geweier en verkies om nie na die berg toe nie maar na God self toe te vlug.

Dawid leer ons hiermee ‘n belangrike les om nie vir die goddeloses bang te wees nie al is hulle ook hoe talryk want God sal met hulle afreken.

Dawid was hartseer oor hierdie gebeure want baie van sy eerstydse lojale onderdane was nou onder die vyand. Die regverdiges het vir ‘n toekoms waarvan die fondamente voortdurend omgegooi sou word, bang geword, maar Dawid het geweet dat die vyand die onderspit sou delf en dat God in beheer van sake is al keer die goddeloses ook die samelewing om.

Ons volk verkeer in dieselfde omstandighede wat Dawid destyds ondervind het. Mense uit ons eie volksgeledere span saam met volksvyandiges teen ons. Ons land wemel van volksaboteurs. Selfs die kansels word misbruik om in die naam van ‘n universele broederliefde die fondamente om te gooi. Die aanslag van die goddelose is fel; alles word omgekeer. Die aanhoudende proses word in die nuusberigte gereflekteer. Godvresende Afrikaners is daagliks die prooi van geweld. Ons het nog nooit in ons geskiedenis so ‘n ommekeer van fondamente gesien nie. Die staatsbestel, administrasie, werksplekke, kerke, skole, kultuurorganisasies, ja, alles is omgekeer!

Dit het dringend tyd geword om onsself van ondergang te red en weerstand te bied teen die haat van die goddelose vyand wat ons wil vernietig. Ons moet soos Gideon en sy handjievol manskappe op ons plek bly staan. Soos Dawid moet ons nie vir die vyand bang wees en land-uit vlug nie maar in ons nood na God toe vlug. Ons moet baie meer op ons knieë voor die troon van God deurbring. Hy hou die lotgevalle van ons volk in sy hand en sal op die dag wat Hy reeds daarvoor bepaal het, met die goddelose vyand afreken en aan ons Afrikanervolk weer sy verlore vryheid skenk.