NOG 'N GROOT TREK WAG

Maar die farao spot toe en vra: “Wie is hierdie HERE nogal dat ek na hom moet luister om Israel te laat gaan! Ek ken nie ‘n HERE nie. Ek sal Israel ook nie toelaat om te gaan nie.” Exodus 5:2  -  Nuwe Lewende Vertaling

Natuurlik sou die koning van Egipte weier om Israel op versoek van Moses en Aäron na hulle land Kanaän te laat trek, want die volk Israel se verblyf in Egipte was vir hom oneindig baie werd. Hulle moes vir hom die glorie van Egipteland help bou deur vir hom as slawe gratis diens te verrig. Maar die Here wou sy volk na hulle beloofde land terugbring en het vir Moses en Aäron as leiers gebruik om dit te bewerkstellig.

Om die Egiptiese vors te beweeg om Israel te laat trek, het die Here sy land met tien vernietigende plae getref. Maar selfs daarna wou die farao verhoed dat hulle wegkom deur hulle te agtervolg, maar die Here het hom en sy strydmag in die Skelfsee laat verdrink.

Daarna het die Israeliete veertig jaar in die woestyn geswerwe, maar uiteindelik het hulle die beloofde land Kanaän bereik en daar gaan woon.

In ons eie land het daar eenmaal ook so ‘n Groot Trek plaasgevind. Die onsimpatieke en tirannieke Britse owerheid wat van 1906 in die Kaap oor die voorouers van ons Afrikanervolk regeer het, het in verskeie opsigte hulle lewens só erg versuur dat hulle teen wil en dank vanaf 1836 tot 1838 hulle kakebeenwaens opgepak en die wilde woesteny binnegtrek het om vry van Britse oorheersing ‘n nuwe heenkom te gaan soek.

Net soos die Egiptiese farao van ouds probeer het om die Israelitiese trek te verydel, het die Engelse regering aan die Kaap getrag om die Groot Trek in die wiele te ry. Die Trekkers is belet om genoeg kruit en lood vir hul gewere saam te neem met die doel om hulle weerloos te maak teen die aanvalle van die barbare in die binneland waarheen hulle oppad was. Om hulle verder te ontmoedig, is alle gebiede tot aan die 25e graad Suiderbreedte deur wetgewing tot Britse gebied verklaar en is die Trekkers wysgemaak dat hulle maar altyd Britse onderdane sou bly, ongeag waarheen hulle ook sou trek. Daarna het die Engelse elke gebied wat deur die Trekkers verower is, kom annekseer en as Britse gebied verklaar.

Maar soos die farao destyds nie daarin kon slaag om te verhoed dat Israel sy erfland weer inneem nie, kon die magtige Brittanje ook nie daarin slaag om te verhoed dat die Afrikanervolk uiteindelik sy vryheidsideaal in 1961 verwesenlik nie met die totstandkoming van ‘n eie vrye republiek.

Die Almagtige Heerser oor volkere en nasies sal tot eer van sy eie Naam weer die Afrikanervolk bevry van die farao wat hul tans onderdruk, laat uitmoor en vernietig. Laat ons Hom smeek om ons te bekeer sodat ons na Hom kan terugkeer.