'N GELOFTEVOLK BETAAL WAT HY BELOOF

As jy aan die Here jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die Here jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word. - Deuteronómium 23:21

Dit het dikwels in Bybelse tye gebeur dat iemand ‘n gelofte aan die Here gedoen het. Ons lees in Génesis 28 dat Jakob ‘n gelofte afgelê het dat as die Here hom in die vreemde bewaar en weer na sy eie land terugbring,  hy Hom sy hele lewe lank getrou sou dien.

Rigters 11 vertel die verhaal van Jefta en sy belofte aan die Here om vir Hom ‘n brandoffer uit sy huis te bring as die Here hom help om die Ammoniete te verslaan.

In 1 Samuel 1:28 betaal Hanna haar gelofte aan die Here deur vir Samuel permanent in diens van die Here te stel. Ons lees ook in verskeie Psalms van geloftes wat betaal word soos in Psalm 116:18: “Ek sal my geloftes aan die Here betaal in die teenwoordigheid van die ganse volk.”

Wanneer jy die Here beloof om iets te doen met sy hulp en Hy dit doen, moet jy uitvoering gee aan wat jy Hom belowe het want dit het ‘n gelofte geword.
In moderne tye kan die aflegging van ‘n gelofte aan die Here deur ‘n Christenvolk, groot invloed op die verloop van sy geskiedenis uitoefen.

Die Voortrekkers het onder aansporing en leiding van Andries Pretorius en Sarel Cilliers op Sondag 9 Desember 1838 by Wasbank die plegtige Bloedrivier-gelofte afgelê dat, indien dit God sou behaag om aan hulle die oorwinning te gee, hulle ‘n huis tot gedagtenis van sy Naam sou oprig, en dié dag van oorwinning bekend sou maak tot aan die laaste nageslag, sodat dit ter ere van God gevier sou word.
Die Voortrekkers het hulle gelofte aan die Here betaal en hul nageslag, die Geloftevolk, het jare lank die Bloedrivier-oorwinning op 16 Desember in herinnering geroep. Maar vandat die vyandige owerheid hierdie Afrikaner-feesdag nie meer erken nie, het die reeds tanende bywoning van geloftefeeste al meer gekwyn en op baie plekke waar dit vroeër met vreugde en dankbaarheid teenoor die Here gevier is, heeltemal doodgeloop.
Sal die Here nie ook hierdie traagheid en versuim om ons gelofte aan Hom te betaal, uiteindelik by al ons ander volksondes toevoeg nie? Want die Here jou God sal dit sekerlik van jou eis en dit sal sonde in jou word.