Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle red met die driehonderd man wat die water opgeskep het. Ek sal vir Midian in jou mag oorgee.” Rigters 7:7
Die vyand wat Israel bedreig het, was talryk. In Rigters 7:12 staan: “Die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte.” Om hierdie groot mag te verslaan of te verdryf, het onmoontlik gelyk, selfs vir die 32 000 manskappe wat Gideon bymekaar gemaak het om teen hulle slag te lewer. Maar die Here sê hy moet almal wat te bang is om teen die vyand te veg, terugstuur na hulle huise. Die 10 000 man wat oorgebly het, was nog gans te veel want God self tree toe tot die stryd.
Na ‘n verdere siftingsproses wat tydens hulle waterdrinkery plaasgevind het, hou Gideon net 300 dapper manne oor. Dié wat ewe gemaksugtig gaan lê en drink het, sou in ‘n felle stryd teen die vyand nie deug nie en is ook na hulle huise teruggestuur. Daarna het die Here vir Gideon en sy klein bende van 300 dapperes gebruik om skrik en verwarring in die vyand se geledere te saai sodat hulle mekaar aangeval het en op die vlug gedryf is. So het die Here sy volk van die vyandige Midianitiese oorheersing verlos.
Ons volk is in die vorige eeu net so oorweldigend deur ons talryke vyande bedreig. Die Engelse en Amerikaanse wêreld en die hele Swart Afrika het ons nie ‘n vrye bestaan gegun nie. Die banges onder ons het soos die 22 000 Israeliete voortdurend geskree: “Ons kan nie teen die hele wêreld veg nie, ons sal ondergaan; ons moet toegee, ingee, opgee, afgee, weggee, oorgee.”
Net die simboliese 10 000 man het oorgebly om ons talryke vyande die hoof te bied. Maar helaas! Die groot meerderheid van hulle was verraaiers en onwilliges. Hulle is doodtevrede om onder die kommunistiese hiel wat tans oor ons heers, vertrap te word.
Maar wanneer ons talryke vyande teen mekaar self in opstand gaan kom en hulle eie val bewerkstellig, sal die HERE ook vir ons ‘n Gideonsbende van dapperes voorsien om ons vryheid weer te herower.