ANTWOORD NIE 'N DWAAS

Ons volkie word daagliks onderwerp aan beledigings en pogings om ons te verkleineer. Die media poog baie hard om ons volksnasionalisme as agterlik en outyds af te maak. Soms is dit moeilik om nie op dieselfde wyse terug te reageer op vernederende aantygings en skeltaal teenoor ons nie. Maar in Spreuke 26:4 lees ons: “Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie sodat jy ook nie net soos hy word nie.”

Laat daar geen vuil woord
uit julle mond uitgaan nie,
maar net ‘n woord wat goed
is vir die nodige stigting, sodat
dit genade kan gee aan dié wat dit hoor.
- Efésiërs 4:29

Toe Paulus hierdie ernstige vermaning aan die gelowiges gerig het, was dit seker vir elkeen van hulle duidelik dat hulle nie meer hierdie lelike heidense gebruik moet beoefen nie.

Die gewoonte om vir die geringste aangeleentheid in ‘n onbedaarlike woedebui los te bars met ‘n sarsie vloekwoorde wat al swetsende na iemand anders geslinger word, is meesal ‘n openbaring van swakheid, onsekerheid en vrees by die vloeker. Dit gaan gewoonlik ook gepaard met ‘n gebrek aan selfvertroue. In die waan dat hy sy teëstander daarmee kan oorrompel of afskrik, takel hy dié dan met beledigings en gekruide taal.

In Matthéüs 15:11 sê Christus: “ Nie wat in die mond ingaan maak die mens onrein nie, maar wat uit die mond uitgaan.” Daarom is die swetsende vloeker aanhoudend besig om homself te besmet terwyl die persoon teen wie hy dit rig nie in die minste mate daardeur geraak word nie.

Ons moet voortgaan met ons Goddelike opdrag as Geloftevolk hier in ons Gelofteland waar God ons geplaas het sonder dat die vyande se pogings ons raak want ons wil nie net soos hulle word nie.