Chris J. Malan
Ons leef in 'n krimpende wêreld.
Dis nie net afstande tussen lande wat krimp nie — ook geestelike en godsdienstige afstande krimp geweldig. Suid-Afrika word gebombardeer met strominge en dwalings uit die Ooste waarvan ons ernstig rekenskap moet gee. Een van die growwe dwalings is die leer van reïnkarnasie of sielsverhuising.
WAT IS REÏNKARNASIE?
Die leer van die sielsverhuising of reïnkarnasie is 'n algemene gedagte onder primitiewe volke. Vanaf die vroegste tye het dit egter 'n belangrike plek in die godsdienstige lewe van Indië ingeneem. Tot vandag toe is dit in Indië feitlik die sleutel tot elke teologiese sisteem. As 'n mens doodgaan — so beweer die Indiërs — skop die siel die liggaam weg en gryp na 'n nuwe liggaam om daarin te woon.
Hulle gebruik graag die beeld van die ruspe: Net soos 'n ruspe — as hy op die punt van 'n blaar gekom het — na 'n nuwe blaar gryp en hom daarnatoe trek, so gryp die siel na 'n nuwe liggaam. Die siel van die mens inkarneer in 'n nuwe liggaam — daarom word dit reïnkarnasie genoem.
As die siel 'n goeie lewe gelei het, mag hy na die wêreld in 'n hoër staat terugkeer; as hy 'n slegte lewe gelei het, is sy straf dat hy in 'n dieregestalte na die aarde terugkeer. As 'n mens nou vra wat die Indiërs met hulle reïnkarnasie probeer bereik, is die antwoord tweërlei:
Hulle probeer, eerstens, 'n oplossing vind vir die lyde in die wêreld. Jy kry nou so swaar in hierdie lewe omdat jy in 'n vorige lewe jou so sleg gedra het. Tweedens beweer hulle dat 'n mens deur reïnkarnasie een kan word met die godheid. Elke keer as die goeie mens reïnkarneer word hy 'n beter mens totdat hy uiteindelik — na 'n lang pad van eindelose geboortes — een word met die godheid.
OOK ONDER DIE GRIEKE
Die leer van die reïnkarnasie is ook sterk in Griekeland gepropageer deur wysgere soos Empedocles, Pythagoras en Plato. Dit word beweer dat Pythagoras by een geleentheid vir 'n man gesê het om sy hond nie so te slaan nie, want hy herken sy vriend se stem in die getjank van die hond. (Die vriend was reeds dood en het, volgens Pythagoras, in die liggaam van 'n hond gereïnkarneer).
Plato het 'n nuwe gedagte na vore gebring: Volgens hom het God alle siele tegelykertyd geskep, lank voordat daar nog liggame op die aarde was.
Hierdie siele het gesondig omdat hulle hul aangetrokke gevoel het tot die stoflike dinge. As straf het God hulle in liggame op die aarde ingesluit. Deur reïnkarnasie kan hulle aan die straf ontkom.
OOK ONDER JOODSE EN CHRISTELIKE SEKTES
Die leer van die reïnkarnasie het in die Middeleeue ook by Joodse en Christelike sektes ingang geving. Hulle het die gedagte van Plato oorgeneem dat God al die siele in een oomblik geskape het. Maar nou kom die probleem: God het te min siele gemaak vir al die liggame wat gebore sou word! Daarom moet 'n siel in baie liggame gehuisves word voordat hy die hoogste graad van sedelike ontwikkeling kan bereik. By sy intrede in die liggaam is die siel absoluut rein, sonder sonde. Vanweë die swakheid in die liggaam en die versoeking deur die duiwels, word die siel gaandeweg aangetas. Nie deur wedergeboorte nie, maar deur reïnkarnasie kan die siele gereinig word om so die kroon van saligheid te verwerf.
REÏNKARNASIE OOK NOG VANDAG
As hierdie gedagte van die sielsverhuising maar tot die Middeleeue beperk gebly het! Maar nee, in die negentiende eeu het die belangstelling in reïnkarnasie sterk toegeneem vanweë vertaalde dokumente wat uit die Ooste gekom het. En vandag ….. stroom hierdie Oosterse leringe die Westerse wêreld binne en waai ook na ons land toe. Ons kry dit baie sterk in die moderne teosofiese beweging (Yoga, Transendentale Meditasie). Omdat reïnkarnasie 'n kenmerkende leerstuk van die teosofiese beweging is, is dit nodig om 'n paar woorde daaroor te sê.
PLATO
MODERNE TEOSOFIESE BEWEGING
Die moderne teosofie streef na 'n kennis van God, maar wil dit nie verkry deur denke (filosofie), ook nie deur openbaring nie (teologie), maar deur na binne te kyk (intuïsie).
Deur hulle fynere geestelike vermoëns wil hulle direk tot God deurdring. Volgens hulle is die mens deel van die ganse wêreldproses. Die mens moet geleidelik tot hoër vlakke opstyg totdat sy individuele bestaan ophou en hy een word met die godheid.
As 'n mens vir hulle vra: Hoe kry jy dit reg? is hulle antwoord: Deur reïnkarnasie. Elke lewe is die gevolg van 'n voorafgaande lewe en is ook weer die oorsaak van 'n volgende lewe.
Reïnkarnasie stel jou in staat om 'n proses van rypwording te bereik — dit louter jou, dit lei jou op jou pelgrimstog na jou Hoë Self, dit stel jou in staat om 'n vrye, geestelike, goddelike persoonlikheid te ontwikkel.
BEOORDELING VAN DIE LEER VAN REÏNKARNASIE
Die leer van die reinkarnasie is heidens, onskriftuurlik en vals. Ons wil dit nou graag in die volgende stellings aantoon:
DIE BYBEL KEN GEEN SIELSVERHUISING OF REÏNKARNASIE NIE
Die Here Jesus sê in die gelykenis van die ryk man en Lasarus dat Lasarus se siel deur die engele weggedra is na die boesem van Abraham, maar dat die siel van die ryk man na die doderyk geneem is (Lukas 16:23). Lasarus geniet oombliklik na sy dood die vreugde in die hemel, terwyl die ryk man onmiddellik in die doderyk die smarte van die hel ondervind.
Volgens die voorstanders van sielsverhuising moes die ryk man weer 'n draai op die aarde kom maak om in 'n ander liggaam gereining te word — maar dis nie wat Gods Woord sê nie.
Christus sê hier duidelik dat hy oombliklik vergelding vir sy dade ontvang. Hier is geen sprake van nog 'n kans vir die siel om te vergoed vir sy verbroude, onbekeerlike lewe op aarde nie.
Dink ook aan die woorde wat die Here Jesus vir die kwaaddoener aan die kruis sê:
"Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees: (Lukas 23:43). Die Here Jesus maak nie melding van 'n louteringsproses iewers in die hemel (vagevuur) of op die aarde (reïnkarnasie) nie, maar van 'n oombliklikke opname in die hemel. Voeg nog by hierdie woord van Jesus die woorde van Paulus:
"Want ons moet almal verskyn voor die regterstoel van Christus, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad" (2 Korinthiërs 5:10) — en dan is dit baie duidelik: Die siel van die mens gaan na sy dood dadelik na die hemel of die hel en bly daar. As daar 'n groot kloof tussen hemel en hel is waaroor niemand kan gaan nie (Lukas 16:26) — nog groter isdie kloof tussen hemel/hel en die aarde: Geen siel kom ooit weer na die aarde terug om in 'n bepaalde mens in te gaan nie. Nêrens lees ons in die Bybel daarvan nie. Inteendeel. Ons lees dat die siele van die afgestorwenes geen kontak met die aarde het nie:
• Prediker 9:5: ...die dooies weet glad niks nie,want hulle nagedagtenis word vergeet;
Prediker 9:6: .... hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
• In Job 14:21 word van die dooie gesê: Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gewaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie.
• In Jesaja 63:16 sê Israel: Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie.
• In Openbaring 6:9 sien Johannes die siele van die wat gedood is terwille van die Woord van God onder die altaar (nie weer op die aarde in 'n ander menslike liggaam nie).
Ja, so sterk wil die Woord van God dit na vore bring dat daar geen kontak na die dood met mense op aarde is nie, dat God uitdruklik sè: "Begeef julle nie na die geeste van afgestorwenes nie" (Lev. 19:31). Wie dit doen moet doodgemaak word (Lev. 20:6).
DIE BYBEL KEN GEEN SONDE VAN SIELE IN DIE HEMEL NIE
Die bewering dat die siele in die hemel gesondig het lank voordat hulle in die liggaam gekom het, is nie volgens die Skrif nie. Volgens Genesis 3 het Adam en Eva sonde gedoen toe hulle mense was, dit wil sê toe hulle siele en liggame gehad het. Ons lees nêrens in die Bybel van siele wat gesondig het voordat God die mens op aarde gemaak het nie (Ons lees wel van engele wat gesondig het en wat duiwels geword het, maar nie van siele nie). Ook lees ons nêrens dat God te min siele gemaak het en dat een siel daarom in baie liggame moet leef nie. Hierdie gedagte is 'n aanranding van die ondeurgrondlike wysheid en almag van God en is in stryd met die volgende tekste:
• Genesis 2:7 waar gesê word dat God in Adam se neus die asem van die lewe geblaas het en dat hy so 'n lewende siel geword het.
• Prediker 12:7: "en die gees na God terugkeer wat dit gegee het" (hier word duidelik gesê dat God die gees aan elke mens gegee het); Sagaria 12:1: Hier word duidelik gesê dat God die gees van die mens in sy binneste formeer;
• Hebreërs 12:9: Hier word God die "vader van die geeste" genoem.
Ons wil dus baie duidelik stel dat God nie alle siele tegelykertyd in die begin geskape het sodat elke liggaam by geboorte een van hierdie siele ontvang nie, MAAR dat God by die geboorte van elke mens sy of haar siel skep.
DIE BYBEL KEN GEEN VERAGTELIKE LIGGAAM VAN DIE MENS NIE
Nog 'n dwaling van die voorstanders van reïnkarnasie is dat die liggaam van die mens veragtelik en sondig is omdat stoflike dinge sondig is.
Kom ons kyk wat leer die Bybel:
Die Woord van God leer ons dat die liggaam van die mens 'n skepping van God is (Genesis 1:27) wat wonderlik is (Genesis 1:31; Psalm 139:15). Adam en Eva is na liggaam en siel na God's Beeld geskape (Genesis 1:26,27).
Deur die sonde van Adam en Eva het die liggaam van die mens aan die dood onderworpe geraak en het God gesê: "Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer" — maar dit gee ons nog geen rede om ons liggame te verag nie. Deur sy kruisdood op Golgota het Jesus Christus nie net die siele van die gelowiges vrygekoop uit die mag van dood en hel nie, maar ook die liggame. Daarom kan Paulus aan die Korinthiërs skryf: "Want julle is duur gekoop.
Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort" (1 Korinthiërs 6:20). Maar dit is nog nie al nie. God het sy Heilige Gees met Pinkster uitgestort om in ons harte te kom woon sodat ons liggaam 'n tempel van die Heilige Gees geword het (1 Korinthiërs 6:19).
En luister nou verder wat sê Gods Woord van ons liggame (wat die voorstanders van reïnkarnasie so verag);
• ons liggame word lewend gemaak deur die Heilige Gees (Romeine 8:11)
• ons moet ons liggame in diens van God stel (Romeine 6:13)
• die lewe van Jesus word in ons liggame geopenbaar (2 Kor. 4:11)
• ons vernederde liggame sal aan die verheerlikte liggaam van Jesus Christus gelykvormig word (Filipense 3:21)
En dis nog nie al nie!
Al moet siel en liggaam van mekaar in die dood skei — al keer die stof na die aarde terug en die gees na God (Prediker 12:7) — "daar kom 'n uur" sê Jesus, "wanneer almal wat in die grafte is sal uitgaan — die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling" (Johannes 5:28,29). Ja, die vernederde liggaam sal van gedaante verander om gelykvormig te word aan die verheerlikte liggaam van Christus (Filipense 3:21).
DIE BYBEL KEN GEEN EENWORDING MET GOD NIE
Die voorstanders van reïnkarnasie beweer dat 'n mens een kan word met die godheid. Dit kan gebeur — aldus die moderne teosofie — omdat die mens in sy diepste wese self 'n godheid is. Hier hoor u duidelik die stem van die satan wat in die Paradys vir Adam en Eva gelieg het: "Julle sal soos God wees" (Gen. 3:5).
Maar kom ons gaan verder:
Hulle beweer dat hulle eenwording met die godheid bereik deur intuïsie, ekstase en sielsverhuising. Hierdeur word die siele van alle vuilheid gelouter en kom die mens buite homself te staan om met die godheid verenig te word, om in kontemplasie die godheid te aanskou en die volmaakte saligheid te geniet. So vind die ver-moeide mens vrede en rus aan die boesem van die godheid. Hy verenig hom so met die godheid dat hy hom in die verborge wese van die godheid verloor, terwyl die godheid homself weer in die mens verloor.
Hierdie "eenwording" klink wonderlik, maar is niks anders as 'n versinsel van die menslike gees in stryd met Gods Woord nie. Ons besware teen hierdie "eenwording" is die volgende:
1. Die grens tussen God en mens word deur die reïnkarniste uitgewis. Op panteïstiese wyse vereenselwig hulle Skepper en skepsel — en dit is sonde. Die Bybel leer duidelik dat God en die wêreld nie een is nie maar twee. God is voor, bo en onafhanklik van die wêreld (transendent). Tegelyk is God na sy Wese in die wêreld teenwoordig (immanent), maar dan nie op so 'n wyse dat God en wêreld ineenvloei nie — nee, God bestaan onafhanklik van die wêreld (vgl. Prediker 5:1).
2. Hierdie mense sê hulle kom tot God, Eintlik bedoel hulle: Ons word tot God. En dit kan nooit nie. 'n Mens kan tot God deur Jesus Christus kom, maar jy kan nooit tot God word nie. Die menslike natuur kan nooit omgeskakel word in die Goddelike natuur nie.
3. Hierdie mense verloën dan ook die Middelaar, Jesus Christus, deur Wie ons alleenlik tot God kan kom. Hulle ontken dat Jesus Christus aan die kruishout vir hulle sondes gesterf het. Die naaste wat die teosowe aan die kruisdood van Jesus kom, is om te sê dat Jesus 'n teosoof was wat op 'n kruis-vormige bank in 'n skyndood gelê het — maar dat
• Jesus, die Christus, die Seun van die lewende God is —
• Jesus die vloek van God oor ons sondes gedra het —
• Jesus ons van ons sondes verlos — daarvan wil hulle niks weet nie.
4. Omdat hulle niks van die Jesus van die Bybel wil weet nie, wil hulle ook niks van die sonde weet nie. Hulle staan teenoor God nie as sondaar teenoor die Heilige nie, maar as eindige wese teenoor die Oneindige. Deur selfverlossing — so sê hulle — kan hulle daarom een word met die godheid. Ek hoop u kom die verskriklike hoogmoed van hierdie mense agter en—moet asseblief nie vergeet nie — hoogmoed kom voor die val! Geen wonder dat die teosowe dan ook reguit sê dat hulle die God van die Bybel nie kan aanvaar nie!
DIE BYBEL KEN GEEN REINKARNASIE NIE, MAAR WEDERGEBOORTE
Hierdie mense beweer dat hulle reïnkarnasie niks anders is as die wedergeboorte van die Bybel nie, maar hulle maak 'n baie groot fout. Kom ons kyk wat sê die Bybel van die wedergeboorte:
1. Die wedergeboorte is geen mensewerk nie, maar die werk van God, die Heilige Gees
(Johannes 3:1—8). Dit is om opnuut weer gebore te word. (Stel dit teenoor die "wedergeboorte" van hierdie reïnkarniste wat niks anders is as 'n selfverlossing nie).
2. Die wedergeboorte is 'n heerlike gevolg van die opstanding van Christus uit die dood (1 Petrus 1:3). (Die reïnkarniste ontken die opstanding van Jesus Christus — hoe kan hulle nog van wedergeboorte praat!).
3. Die wedergeboorte word in ons gewerk deur die prediking van die Evangelie (1 Petrus 1:23). (Die moderne teosofie ken geen persoonlike God wat tot ons spreek in sy Woord nie — allermins ken hulle 'n God wat ons deur sy Woord wederbaar. As hulle nog die Bybel aanvaar, vermink hulle dit om deur te dring tot die "esoteriese" betekenis).
4. Die Skrif bely dat die mens so verdorwe is dat ons heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad, tensy ons deur die Gees van God wedergebore word. Die moderne teosofie wil niks weet van sonde en skuld en daarom ook niks van verlossing en genade nie. Nee, hulle wil hulle self verlos.
5. Deur reïnkarnasie wil hierdie mense een word met die godheid. Die Bybel ken nie so 'n eenwording deur mistieke ekstase nie. Wat die Bybel wel ken is 'n mistieke vereniging met Jesus Christus deur die geloof, waardeur ons as ranke met die Wingerdstok verenig word (Johannes 15:1—6).
DIE PROBLEEM VAN DIE LYDE WORD NIE DEUR REÏNKARNASIE OPGELOS NIE
Die voorstanders van reïnkarnasie dink dat hulle met hulle leer die probleem van die lyde in die wêreld oplos. Volgens hulle lê die oorsaak van die lyde in die sonde wat die siel in die hemel of in 'n vorige liggaam verrig het. Dit is dan die rede waarom 'n regverdige dikwels so moet ly en waarom die goddelose dikwels soveel voor-spoed het.
Dat hulle met die lyde in die wêreld 'n probleem het, is verstaanbaar. Lees maar net Psalm 73 om te sien hoe Asaf met hierdie probleem geworstel het. Maar hulle oplossing is strydig met die Woord van God:
1. Die Bybel sê vir ons dat dit mense is wat gesondig het en nie siele nie. As mens aanvaar dat die siele lank voor die tyd gesondig het, dan word die sondeval van sy karakter en betekenis beroof, want dan hou dit op om 'n val te wees en word dit slegs die verskyning van iets wat lank gelede plaas-gevind het.
2. As die siele elkeen afsonderlik gesondig het (soos hulle beweer), dan het hulle geen gemeenskaplike hoof in Adam nie en dan het hulle ook geen gemeenskaplike Hoof in Christus nie. Elke siel moet hom dan weer self verlos— so kom ons dan weer by die selfverlossings-gedagte uit.
3. Die lyde het as gevolg van die sonde in die wêreld gekom (vgl. Genesis 3:14—19). Vir hulle wat in Christus glo word die lyde egter nie meer 'n straf nie, maar 'n beproewing en loutering voor hulle die Koninkryk van God ingaan (Hebreërs 12:5—11; Handelinge 14:22).
4. Om ons net vas te kyk teen die voorspoed van die goddelose is ook verkeerd. Asaf sê in Psalm 73 dat die goddelose in 'n oomblik vergaan (Psalm 73:19). En as die goddelose nie in hierdie lewe sy vergelding ontvang nie, dan wel eendag voor die troon van God (Openbaring 20:15).
EEN SAAK DUIDELIK
Uit die Woord van God is een saak duidelik:
Die mens kan homself nie verlos uit sy ellende nie — Die mens kan homself nie reinig van sy ongeregtigheid nie — Geen teosofie, transendentale meditasie, Yoga, Zen-Boeddhisme of godsdiens van die „innerlike self" kan deur reïnkarnasie ons in aanraking met God bring nie.
Slegs Jesus Christus, die Seun van God, kan ons sondes vergewe en ons van alle ongeregtigheid reinig (1 Johannes 1:9).
Op die bewende vraag van die sipier van Filippi: „Menere, wat Moet ek doen om gered te word?", antwoord Paulus: „Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word" (Handelinge 6:30,31).
As ek in Jesus Christus glo, is dit nie vir my siel nodig om in liggaam na liggaam te reïnkarneer om so geheilig te word nie — nee, God stort sy Heilige Gees in ons harte in om die sonde in ons lewe meer en meer weg te brand en ons meer en meer te vorm na die Beeld van ons Here Jesus Christus.