Hendrik Pretorius
"Op die 18de Julie het daar weer vir die soveelste keer die ondenkbare gebeur. Nou meer as ooit was kinders deur selfs Christenonderwysers aangesê om lofsange by spesiale saalbyeenkomste tot eer van die “mens-god” Mandela te sing. Kinders is goed laat verstaan dat dit verpligtend is."
Koning Nebukadnésar het ‘n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel.- Dan 3:1
Wanneer 'n mens die verhaal van Daniël se drie vriende tydens hulle ballingskap lees (hieronder aangeheg) dan is dit iets waarmee meeste van ons as Afrikaners ons kan vereenselwig. Met voorouers wat uit ander lande afkomstig is en alles agtergelaat het sodat hulle hier die ware God, die skepper van hemel en aarde kon dien. Mense wat ten spyte van groot druk getrou gebly het aan hul geloof. Daar kom 'n warm gevoel in 'n mens se hart op met die aanhoor van die verhaal van Daniël se drie vriende en verseker glo die meerderheid van ons dat ons so is en sal optree indien dit van my verwag word om die goue beeld van koning Nebukadnésar te aanbid. Baie van ons sal selfs sweer dat ons nooit sal buig voor die goue beeld nie en sal staan tot die dood toe vir Jesus Christus!
Ja ook net soos Daniël en sy vriende geweier het dat hulle geloof en die gebruike van hulle godsdiens tweede viool speel toe hulle nie die koning se kos wou eet volgens sy bevel nie.Die werklikheid is egter dat die verhaal van Daniël en sy drie vriende vir meeste van ons iets daar vêr in die verlede is en nie nou hier 'n werklikheid in die dag waarin ons lewe nie. Ja as ek in Daniël se tyd geleef het sou ek verseker nie die beeld aanbid het nie! Of so glo ons. Maar die vraag is wat van vandag hier en nou waar ek elke dag leef !
By ons skole is daar nog net sommige van ons onderwysers wat die waarheid van ons geloof onbeskaamd leer aan ons eie kinders. Daar word geleer van Jesus so lank die departementshoofde en die skoolhoof nie te veel praat nie. Maar meestal word daar geleer van die Godsonterende evolusieleer sonder om die waarheid van Skrif daarby uit te lê met die verskoning: “Dit is wat die handboek sê en julle moet dit leer”. Wanneer die departementshoof besoek aflê word daar gou uit vrees vir konfrontasie 'n nuwe landsvlag teen die muur geplak. Ja, die vlag wat die simbool is van kommunistiese oorwinning oor die Christene van ons land. Geen onderwyser mag en baie min sal dit waag om in die klas die Here Jesus as die enigste weg na Saligheid en die hemel voor te hou. Veral voor al die verskillende gelowe en kulture wat voor hulle in die klas sit. Nog minder onderwysers sal dit waag om Christus te verkondig as net een kind in die klas daarteen sou beswaar maak.
Op die 18de Julie het daar weer vir die soveelste keer die ondenkbare gebeur. Nou meer as ooit was kinders deur selfs Christenonderwysers aangesê om lofsange by spesiale saalbyeenkomste tot eer van die “mens-god” Mandela te sing. Kinders is goed laat verstaan dat dit verpligtend is. Nie een durf waag om te sê maar ek wil dit nie doen nie. Ewe gedwee het Christenonderwysers saam met kinders onder departementele toesig by sekere skole eer bewys aan 'n man wat openlik teen God staan. 'n Man wat sy vriende en kollegas met die kenmerkende kommunistiese gebalde vuis na die hemel groet! 'n Man wie se hele lewe getuig dat hy die vriend is van elke Godshatende kommunis regoor die wêreld. 'n Man met vriende soos Fidel Castro wat verantwoordelik was vir die marteling en dood van duisende Chritene! 'n Man wat persoonlik die 1983 Pretoria straatbom bewerkstellig het, wat 19 onskuldige mense gedood en talle vermink het, en sowat tweehonderd beseer het. 'n Man wat in ons land, sy eie mense wat nie met die kommunistiese ideale wou saamwerk nie, laat “necklace” het. Mense wat hy en sy vriende “collaboraters” genoem het net omdat hulle nie saam met die “comrades” die wrede dade wou pleeg nie. Baie van hierdie sogenaamde “collaboraters” was Christene. O weë my ! En nou sing Christenouers se kinders saam die lof van die groot “messias” en “bevryder”.
Skrikwekkend om te dink dat daar nie eers 'n brandende vuuroond was wat gereed gestaan het nie.
Die Goue beeld word elke jaar net groter en die druk op diegene wat nie wil buig nie net al hoe groter. Die groepie wat nie buig nie word al kleiner.
Het u kind of kleinkind gebuig in aanbidding op die 18de Julie? Het u kind deur u tydige Bybel onderrig by die huis geweet dat dit afgodsaanbidding is? Soos die drie vriende van Daniël maar die enkeles van die volk van God was wat opgestaan het so sal u ook maar enkelinge wees indien u en u familie opstaan. Maar onthou dat die Bybel in Open 22:8 die vreesagtiges tel saam met die ongelowiges gruwelikes, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars wat in die poel wat brand met vuur en swawel gewerp sal word. Die Here Jesus waarsku in Mat 7 dat min ingaan deur die nou poort. Dat nie elkeen wat sê Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie maar die wat die wil doen van sy Vader wat in die hemel is!
As ons volk maar die vrese van die Here geken het sou ons geen smaad of dood gevrees het nie. Sou nie een onderwyser of ouer dit durf waag om een kind te laat buig nie. Want die Woord van God sê dat dit beter is vir elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in Christus glo laat struikel dat 'n meulsteen om sy nek gehang word en hy in die see gegooi word.
Ons sou ons harte skeur en nie ons klere nie. Want ons sou weet dat soos in Esg 9 net die mense in die oorblyfsel van die volk wat in diep berou gesug en steun het oor die gruwels, gered was nadat God laat doodslaan het tot vernietiging toe grysaards, jongmanne, jongedogters, kinders en vroue omdat die ongeregtigheid van die volk buitengewoon groot was! Ook onthou het dat God Herodes, toe hy so verhef was deur die Tiriërs en Sidóniërs, onmiddellik getref het en wurms hom verteer en hy gesterwe het.
Wees waaksaam, leef ootmoedig en staan sterk in die stryd want ons weet dat God se Woord sê dat hy wat oorwin alles sal beërwe !
DANIËL 3 : 1-18
AANBID DIE BEELD WAT EK GEMAAK HET
(1) Koning Nebukadnésar het ‘n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel.
(2) Daarna het koning Nebukadnésar die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies laat versamel, dat hulle moes kom na die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar opgerig het.
(3) Toe het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies bymekaargekom by die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar opgerig het, en hulle het voor die beeld gaan staan wat Nebukadnésar opgerig het.
(4) En ‘n uitroeper het hardop geroep: Julle word aangesê, o volke, nasies en tale,
(5) sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.
(6) En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.
(7) Daarom het, op die oomblik toe al die volke die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en van allerhande musiekinstrumente hoor, al die volke, nasies en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.
(8) Op grond daarvan het tegelykertyd Chaldeeuse manne nader gekom en die Jode aangeklaag.
(9) Daarop het hulle met koning Nebukadnésar gespreek en gesê: Mag die koning vir ewig lewe!
(10) U, o koning, het ‘n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld aanbid;
(11) en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word.
(12) Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednégo; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.
(13) Toe het Nebukadnésar, toornig en woedend, bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te laat kom. Daarop is die manne voor die koning gebring.
(14) En Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesê: Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie?
(15) As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?
(16) Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie.
(17) As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;
(18) maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.