JESUS SE MOEDER, MARIA

Opvattings oor Maria

Prof. FAH van Staden

Die leer van die Rooms-Katolieke Kerk (RK) oor Maria, die Mariologie, bestaan hoofsaaklik uit ‘n aantal dogmas wat elke pous periodiek “ex cathedra” oor haar persoon en lewe vir dié Kerk geproklameer het. Dit is nie gegrond op die Skrif nie, maar is menslike standpunte wat deel vorm van hul tradisie, wat gelyk geag word aan die Skrif en selfs bo die Skrif.

DIE MAAGDELIKE GEBOORTE

Die getuienis van die Skrif aangaande die maagdelike geboorte is dié van ‘n ongekompliseerde, sobere geboorteverhaal. Dit begin met die Godsbesluit en handeling: Die geboorte van Jesus Christus was dan so:

Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees (Mt. 1:18). Op Maria se twyfelvraag hoe dit kan gebeur daar sy geen man het nie, was die antwoord: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu (Lk. 1:34). ‘n Maagd het swanger geword. Sy was nog net verloof aan Josef.

Volgens Joodse gebruik was die verlowing so ‘n hegte band dat ‘n man reeds na sy verloofde kon verwys het as sy “vrou”, hoewel die huwelik eers tot stand gekom het as die man sy bruid huistoe bring. Toe Josef daarom bewus geword het van haar swangerskap, het hy haar beoordeel as ontrou aan hom en het hy besluit om in die geheim die verlowing te verbreek. Hy wou haar nogtans beskerm teen die veroordeling van die Joodse godsdienstige leiers. Die Here het hom egter deur ‘n engel ingelig oor die waarheidsgebeure en dat hy haar as vrou by hom moes neem soos hy gedoen het, met daarby: hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie (Mt. 1:25). Maria was daarom steeds maagd tot met die geboorte van Jesus as Mens.

Anders egter as prof. E Brunner en later die sogenaamde ‘nuwe hervormers’, wat die maagdelike geboorte verwerp, handhaaf die RK dit. Dit blyk volgens die “Jesus Seminaar” (1985) van die “nuwe hervormers” (deformiste) dat hulle ganse siening en ongeloofsuitsprake oor die Jesus van die Skrifte in die volgende ongeloofswoorde vervat is: “Jesus was a mortal man born of two parents, who did not perform mature miracles and die as a substitute for sinners nor rise bodily from the dead.” Sy ontvangenis volgens hierdie skreiende ongeloofsuitspraak was dus nie ‘n wonder van God deur die Heilige Gees nie. Hy was glo net ‘n sterftelike mens gebore uit mense op menslike wyse. Hy was glo nie God, Verlosser, Plaasbekleder en “Eersteling” uit die dode nie. Daarmee is Maria se swangerskap onder verdenking geplaas van ontrouheid teenoor Josef en losse, onsedelike gedrag. Dít verloën die Skrif se lering oor die maagdelike geboorte.

Die  probleem met die RK is egter dat hulle klomp pouse nie die klem met die maagdelike geboorte op Jesus, die Seun van God se menswording en verlosserskap geplaas het nie, maar op die maagd Maria om wie se persoon die Mariologie met dogma op dogma opgebou het. Sy is toegedig met buitengewone kwaliteite wat haar verhef en verheerlik het in die kerk en in die hemel tot ‘n besondere ereposisie, nie net bo alle ander mense nie, maar tot naas Christus. Maria is oorlaai met eerbewyse as dogmas: die ewigdurende maagdelikheid; moeder van God (Efese 431), wat, alhoewel aanvanklik op “die Seun van God” bedoel, gelei het tot erkenning van haar goddelikheid; middelares naas die enigste Middelaar, Jesus Christus; voorspraak en toe ???; koningin van die hemel; onbevlekte ontvangenis (08-12-1854, pous Pius IX); haar hemelvaart (01-11-1950).

EWIGDURENDE MAAGDELIKHEID

Terwyl die RK die ewigdurende maagdelikheid van Maria leer, loën die “nuwe deformiste” die feit dat Maria die “maagd” was waarvan Mt. 1:23, Lk. 1:27 en ander spreek. Die ewigdurende maagdelikheid vind geen grond in die Skrif nie. Dit hou verband met die vroegste toedigting van die “onbevlekte ontvangenis” dus dat Maria sonder erfsonde, erfskuld, erfsmet en daadsonde was. Mt.1:25 stel dit uitsluitlik: en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie. “Nie … totdat” beteken nie "nooit" nie, dog spreek van ‘n verhouding “totdat” gebaar is.

Daarna het die huwelikslewe normaal verloop. Die Here Jesus is daarom ook gevolg deur ander kinders, vergelyk Mt. 13:55 en Mk. 6:3. Hier word duidelik deur die Nasaretters, wat die gesin geken het, verwys na Jesus as die “timmerman” – die seun van Maria – “sy broers” by die name genoem – “sy susters”. Die verduideliking van Roomse kant dat dit hier gaan om sy volgelinge word nie aanvaar nie, want die Skrif is te duidelik op die punt. Dit bevestig dat Maria ná die geboorte van die Here Jesus nié ”maagd” gebly het nie.

Eweso is dit af te wys dat Maria volgens die “deformiste” nie ‘n “maagd” was met die ontvangenis van die Here Jesus nie. Die Skrif spreek van ‘n “maagd” en van geen ontrou en losse sedelike gedrag nie.

Ruimte ontbreek om volledig met prof. GC Berkouwer hieroor te handel. Die kritici gryp na die aanhaling uit Jes. 7:14 deur Matthéüs in Mt. 2:23 aangehaal. In Jes. 7:14 word die woord “alma” (jong vrou) gebruik en nie “bethula”, “maagd”, nie. Die Septuaginta vertaal “alma” by Jes. 7:14 met “parthenos” (maagd) en elders met “neanis” (jong vrou). HN Ridderbos toon aan dat J Ridderbos by Jes. 7:14 die klem plaas op die feit dat ‘n seun genaamd Immanuel gebore is en nie op die jong moeder nie. Dit gaan by Matthéüs om die “vervulling” en nie die “aankondiging” van die maagdelike geboorte nie. Dit is ook so dat “alma” elders in die Ou Testament gebruik word waar kennelik ongehuud bedoel word. Daarom is die vertaling van die Septuaginta met “parthenos” (maagd) regverdigbaar.

Lukas verwys ook na “maagd” sonder verwysing na Jes. 7:14. Die Skrif laat ook duidelik verstaan dat sy by die aankondiging deur die engel ‘n maagd was sonder losse lewe, wat die gevaar van swangerskap ingehou het, wanneer Maria verklaar dat swangerskap buite die kwessie is daar sy “geen man het nie”. Josef aanvaar daarom ook sonder meer die waarheidsbekendmaking deur die Here aan hom en dat hier nie sprake is van ontrou en onsedelike gedrag nie, dog dat sy steeds reine maagd is. Sy is net deur God uit alle vroue gekies, nie omdat sy iets in haarself is, heiliger as ander nie, om uitvoering te gee aan sy raadsplan. Sy is “begenadigde”, die genade van God rus op haar, omdat

Hy haar opgeneem het in die uitvoering van sy heilsplan, terwyl sy, soos sy self in haar lofsang betuig, net sy “diensmaagd” is sonder verheffing. Ná die gebeure in Hand. 1:14 vermeld, verdwyn sy geruisloos uit die Woord en uit die kerkgeskiedenis.