SATAN SE MOORDTUIG

SIEKTE, KWALE, PYN EN LYDING

Tweederdes van die mensdom se grootste probleme is siektes, die liggaam s'n net soveel as die gees se lyding. Ons kan in die algemeen sê dat die gees en die liggaam so geïntegreerd funksioneer dat die een nie gesond kan wees indien die ander een groot lyding ervaar nie.

Nou is die vraag: waarom is daar soveel lyding, pyn en siekte in die wêreld? Ons kan dit terugherlei tot by Adam en Eva en hulle rebellie teen God in die Tuin van Eden, want toe het sonde in die wêreld gekom en sonde maak skeiding tussen God en die mens. As die mens van God geskei is, is hy weerloos teen Satan en die siektes wat hy op die mens se liggaam en gees lê. Want hy wil die kroon van God se skepping, die mens, vermoor en vernietig, en dis deur siekte en kwale wat hy dit doen.

Laat ons uit die Skrif uit oortuig word dat Satan die oorsaak van alle siekte is:

Petrus, een van die manne wat die nouste met Jesus self verband gehou het, getuig:

Handelinge 10:38: Jesus van Nasarét, God het Hom gesalf met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was omdat God met Hom was.

Let hier op: Jesus Christus is die Geneesheer, die duiwel is die verdrukker.

Dan lees ons van die vrou wat agttien jaar lank aan 'n siekte gely het.

Lukas 13:16: (Jesus het gesê) Maar hierdie vrou wat 'n dogter van Abraham is wat die Satan agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die Sabbatdag verlos word nie?

Let op: Jesus sê baie duidelik dat dit Satan is wat haar gebind het. En weer het ons reeds twee getuies uit God se Woord wat saamstem dat Satan mense gebonde hou deur siekte. Daarom is dit Skriftuurlik korrek dat Satan die groot verdrukker van God se skepsel, die mens, is.

Kom ons praat eers oor Job. God het 'n beskutting om Job en sy huis aangebring (Job 2:10), en Satan wou dat God hierdie beskutting afbreek.  Maar hierdie beskutting het Job self afgebreek toe hy God blameer terwyl dit nie God was nie maar Satan wat geneem het. En toe Job begin twyfel aan God se liefde en welwillendheid teenoor hom, en met sy mond al die mislukkings en negatiewe dinge uitspreek, toe waai die beskutting! (Lees Markus 11:23). God het dit wel toegelaat dat Satan Job teister, maar God het ook vir Adam toegelaat om te sondig, alhoewel Hy duidelik vir hom vooraf gesê het: Jy mag nie! Job en Adam, soos elke mens, het 'n vrye wil waarmee hy vir of teen God kies.

Ons is tog mense met 'n vrye wil om te kan kies vir die regte of die verkeerde! Het jy gelees wat God sê in Markus 11: 23?:
Elkeen wat glo wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.

En Job het gesê: As ek iets vreeslik vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe (Job 3:25).

En wat het nie alles oor sy pad gekom nie! Volgens die geleerdes het die hele verhaal van Job afgespeel in 'n tydperk van 9 – 12 maande. En al die maande het Job gesug en gekla en in ongeloof uitgeroep.

Maar God het as't ware vir hom gesê: Ruk jou reg. (Job 40:2). En Job het hom reggeruk, en weer sy onwrikbare geloof in God vasgegryp en vir sy vriende begin bid. En wat maak God?

Job 42:10: En die Here het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die Here het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.

Die King James-vertaling in Engels praat van "the captivity of Job", maw die Satan het Job gevange gehou en God het hom vrygemaak.

Wie het hierdie lot oor Job gebring waarin hy vasgevang was? Die Satan!

God het dit terugverander na wat Hy wou, vir Job, en vir elkeen van sy kinders – gesondheid en voorspoed en vrede.

Verstaan jy nou dat God nooit vir Job getoets het met terugslae en siekte nie – dit was beslis al die tyd Satan.

Nou lees ons oor Paulus in 2 Kor 12:7: En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie is my 'n doring in die vlees gegee (hy sê nie God het dit vir hom gegee nie!). 'n Engel van Satan om my met die vuis te slaan dat ek my nie sou verhef nie.

Daar staan tog absoluut niks van 'n siekte nie – Paulus sê self dit was 'n engel van Satan wat hom met die vuis geslaan het. En 'n mens kan dit baie goed begryp dat Satan oral vir Paulus die lewe wou ongerieflik maak, want was Paulus nie 'n magtige werktuig in God se Hand om siele tot bekering te lei nie? Maar dat dit een of ander gebrek of siekte was, kom uit die mens se verbeelding uit. En daar is werklik moderne vertalings van die Bybel wat sê dat Paulus siek was van 'n pynlike fisiese kwaal – wat 'n mistasting. Daar staan beslis niks hiervan in die oorspronklike Grieks nie. Nee, God het geen siekte op Paulus gelê nie en Hy doen dit ook nie op enige van sy kinders nie.

Joh 10:10: Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Toe Jesus van dié dief gepraat het, het Hy na die duiwel verwys. En die duiwel kom om te steel en te slag en te verwoes. Siekte is 'n dief. Dit steel gesondheid, geluk, geld wat ons vir ander dinge nodig het, goeie verhoudings, breek familiebande, en dit kan net van die duiwel kom want hierdie dinge is alles sonde, dit kan nooit van die Here kom nie. Ons plig is om dit te weerstaan en nie daaraan toe te gee nie, dan sal dit van ons wegvlug soos God ons leer in Jak 4:7.

Ons weet dat in enige offensief in oorlogs-maneuvers is een van die belangrikste vereistes in jou guns as jy jou vyand ken en herken. En ons kan die vyand, die duiwel, herken en ons ken hom deur God se Woord. Ons weet hy is 'n dief wat steel en slag en verwoes. Ons weet hy sondig van die begin af en kan ons selfs so siek maak dat ons hom nie kán herken nie. Laat ons dan soos Job ook vir mekaar bid sodat ons almal binne die beskutting van God kan help bring terwyl ons die Here Jesus Christus loof, wat meer as 2000 jaar gelede Satan se mag aan die Kruis vernietig het en vir ons die oorwinning oor Satan en sy werke behaal het.