MESSIAANSE MOEDERSKAP

Mev Anna van der Dussen

GESLAGSREGISTER VAN JESUS CHRISTUS NA DIE MENS

Ons glo dat ons Here Jesus Christus volkome God en volkome mens was, uitgesonderd die sonde (NGB Art 10 en 18). Jesus Christus het mens geword om aan die geregtigheidseis van God die Vader te voldoen ( HK Sondag 3). In die Kersnag is Jesus Christus in die stal van Betlehem gebore, 'n kindjie, 'n mens uit 'n vrou gebore, God wat mens geword het.

Hy is gebore soos elke ander mens uit die mensegeslag, met 'n voorgeslag in die heilshistoriese lyn.

In Matteus 1:1 lees ons 'Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham' en dan volg die name van die manlike voorgeslag van Jesus driemaal veertien geslagte, tot by Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus, wat Christus genoem word (Matteus 1:16). Ons glo en bely dat Josef nie Jesus se biologiese vader was nie. Tog word die mensheid van Jesus aan Josef se geslag gebind.

In die Bybel word Jesus al deur die profete die seun van Dawid genoem.

Die geslagsregister van Matteus begin by Abraham en noem die name van enkele vroue wat so in die heilshistoriese lyn 'n plek in die Bybel vind: Tamar, Ragab, die vrou van Uria (Batseba word nie by die naam genoem nie) en Maria, die moeder van Jesus. Van die name van ander vaders wat genoem word weet ons uit ander geskiedenisse uit die Woord dat Lea en Ragel, en Rut ook Messiaanse moeders was. Lukas 3 leer ons 'n meer uitgebreide geslagsregister van vader-seun tot by Enos, die seun van Set, en Set, die seun van Adam, die seun van God. Geen name van moeders word hier genoem nie.

Adam was die eerste mens en is deur God self aangestel as hoof van die menslike geslag. Eva is as hulp vir Adam gemaak, die hulp wat by hom pas. Hierdie twee mense is uniek in die heilshistoriese lyn. Hulle is nie gebore nie: God het hulle na sy beeld geskape (Gen 1:27).

EVA

God het Adam die sesde skeppingsdag uit die stof van die aarde gemaak. Maar God het gesien dat hy alleen was en het uit Adam se ribbebeen vir hom 'n vrou gemaak.  Adam het haar Mannin genoem, want sy was uit die man geneem en bestem om hom te help in die uitvoering van sy Goddelike ampsbediening: Adam moes die lof van God verkondig (profeties); hy moes die aarde bewerk en bewaak (priesterlik) en die aarde onderwerp en oor alle geskape dinge heers (koninklik). Eva is ook so geskape dat sy onontbeerlik was om Adam se opdrag te vervul van vrugbaar wees en te vermenigvuldig.

Die Godgewilde verhouding tussen man en vrou word egter deur die sondeval versteur.  In plaas van dat die vrou die man tot hulp is trek sy hom daarvan af, en Adam laat hom aftrek. Die gevolge van die ongehoorsaamheid aan die opdrag van God en hulle eiesinnigheid om soos God te wil wees, is nie net vir hulle nie, maar vir die hele menslike geslag verskriklik: Die HERE verbreek Sy gemeenskap met hulle en met die ganse menslike geslag waarvan Adam die hoof was. Mannin val saam met haar man van die ereplek by God in die poel van sonde en ongeregtigheid.

As God Adam tot verantwoording roep beskuldig hulle mekaar: Die vrou wat U my gegee het, nie meer Mannin nie, en die slang het my bedrieg.... Die hele mensgeslag, ook die kerk van nou, word in sonde ontvang en gebore. Die vrou se moeite en swangerskap word vermeerder, en haar man sal oor haar heers. Die man wat geluister en ook geëet het moet hoor dat die aarde om sy ontwil vervloek is en dat hy met moeite daarvan sal eet.

Wat nou? In Genesis 1:31 lees ons "Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en - dit was baie goed".

Nou breek die heil en ontferming van ons Hemelse Vader deur: Die belofte van verlossing! ( Gen 3:15). Die son van geregtigheid gaan op vir hulle wat sy Naam vrees en daar sal genesing onder Sy vleuels wees (Mal 4:2). In Genesis 3: 14-15 kondig God Self die stryd aan tussen die saad van die slang en die saad van die vrou wat sal uitloop op DIE SAAD, die Verlosser, die Tweede Adam, die stryd wat die hele geskiedenis van hemel en aarde beheers.

Aan die vrou en haar saad word die heerlike oorwinning reeds hier verkondig: Die slangsaad sal die vrouesaad groot moeite besorg, maar die volkome oorwinning word reeds hier verkondig: Die vrouesaad sal die slangsaad vermorsel ( Gen 3:15).

In die vervulling van God se belofte neem die vrou 'n besondere plek in: Sy sal die moeder word van die beloofde Verlosser! Eers was sy Mannin, uit die man geneem. Nou noem Adam haar Eva, haar lewe afgestem op haar man. Eva, haar lewe gerig op die moederskap,die voortbring van die Verlosser.

Die taak van die duiwel word nou die verhindering dat die Verlosser gebore sal word, dat die slangesaad vermorsel sal word. Hierdie stryd tussen die vrouesaad en die slangsaad beheers die hele heilsgeskiedenis tot Openbaring12. Dan sal op die jongste dag die moederbelofte van Genesis 3 ten volle deur die HERE vervul word. Dan sal die Saad van Eva, Jesus Christus, die duiwel in die poel van vuur en swael werp (Openb 20), en Eva se nageslag, die Kerk, sal ewig heers saam met Christus, die Triomfator!

Verwysing: Ds H J Nijenhuis: Messiaans Moederschap - 7 schetsen, 1967.