Dr JP Botha
Hierdie baie interessante en insiggewende ondervinding het ‘n Christen-medikus, dr Arthur Brown, te beurt geval. Hy vertel daarvan:
Ek was besig met ‘n reeks dienste in die Baptistekerk in Indiana, en die pastoor het ‘n uitnodiging vir my gekry om die studente te gaan toespreek in die kollege, ‘n sogenaamde Christelike inrigting. “Ons is gelukkig om daar in te kom, “ het die pastoor gesê, “ want hierdie kollege is vinnig besig om modernisties te word.
Ek was bly om hierdie geleentheid te kry om ‘n byeenkoms van die studente toe te spreek. Die dag voordat ek moes praat, bel die president my op en sê: “Dr Brown, ons program vir môre-oggend is baie vol, en dit spyt my dat ek u maar net 12 minute kan gee.” “O, dis in orde, doktor,” het ek gesê; “Ek dink ek sal baie in twaalf minute kan sê.”
Ek vrees ek het bepaald te veel gesê, want ek kon sien dat my woorde nie ‘n goeie indruk gemaak het nie. Daar was ‘n groep professore hier regs voor my en hulle het niks gehou van wat ek gesê het nie. Daardie middag het ‘n deputasie studente hulle opwagting by my gemaak en gesê: “Dr Brown, te oordeel na wat u vanoggend gesê het, is u ‘n baie dogmatiese persoon.”
“Presies, kêrels!” was my antwoord; “Ek sou my skaam as ek nie dogmaties was nie.”
“Nou wel,” het hulle gesê, “As u so dogmaties is, behoort u gewillig te wees om u aan ‘n vraelys te onderwerp.”
Wel, so ‘n ondervraging is die ongemaklikste operasie wat ooit op ‘n mens uitgevoer kan word - om daar te staan en hulle toe te laat om vrae uit elke hoek op jou af te skiet. Enige gek kan ‘n vraag stel wat die slimste mens nie kan beantwoord nie, en ek is allesbehalwe ‘n wandelende ensiklopedie; maar dit sou nie deug om daardie seuns toe te laat om my van stryk te bring nie. Ek sê toe: “Nou goed, bring julle vraelys.”
Die ondervraging is gereël vir die volgende Vrydag, en ek kan u verseker dat ek van Dinsdag tot Vrydag beslis in ‘n baie onsekere stemming verkeer het. Ek het nie geweet wat hulle gaan vra nie, maar dít het ek geweet, naamlik, dat hulle daarop uit was om my onklaar te betrap. Daar was natuurlik geen sprake van voorbereiding nie, want die veld wat gedek kon word, was te groot. Vrydag het ek en my vrou in die hotelkamer neergekniel en gebid. Nooit vergeet ek die vreemde sensasie wat oor my gekom het terwyl ek bid nie.
“Here, ek gaan vanmiddag vir U spreek. Ek weet niks nie, maar ek weet dit, dat hierdie brein aan U behoort, hierdie stembande U s’n is, my lippe, my tong, alles wat ek besit, aan U behoort. Here, sal U vanmiddag daardie vrae beantwoord?”
En u weet, Hy het daardie gebed op ‘n baie wonderlike manier verhoor. Toe ek die gebou bereik waar die byeenkoms sou plaasvind, was die saal vol en daar was ‘n swak onderdrukte opgewondenheid. Hulle het gekom om die geveg te aanskou.
Wel, hier was my kans. Ek het nie geweet wat tussen Dinsdag en Vrydag plaasgevind het nie, maar die Here het. Dít is wat gebeur het: Een van die professore, ‘n professor in die dierkunde, het meer as een maal verskeie van sy studente byeengeroep om hulle voor te berei met vrae om aan my te stel. Die doel van hierdie vrae was om my persoonlik te beledig en my kwaad te maak. Later het ek verneem dat hy gesê het: “Nou sal ons hierdie man kwaad maak en dan sal hy opgewonde raak. Dit sal die hele vergadering in diskrediet bring.” Dis ‘n baie geslepe en doeltreffende manier om ‘n byeenkoms te bederwe.
Nou, hiervan het ek niks geweet nie, maar die Here het. Die ondervraging sou 45 minute duur, en u kan daarvan seker wees dit sou niks langer duur as ek dit kon verhelp nie. Ek het my horlosie uitgehaal en gesê ek is gereed vir die eerste vraag. Skielik het ‘n jong man ver agter tussen ‘n klompie professore opgestaan en gesê:
“Dr Brown, ons het navraag gedoen omtrent u, en ons inligting is tot dien effekte dat u blykbaar geen praktyk in die stad Vancouver gehad het nie; dat u feitlik verplig was om daardie stad te verlaat, en nou is u daarop uit om boontjies (geld) uit liggelowige mense te kry wat dwaas genoeg is om u vir u dienste te betaal.”
Wel, was dit nie ‘n goeie vraag om mee te begin nie? Ek het nie geweet wat om te sê nie. Ek was op die punt om iets te sê wat nie baie mooi was nie, toe dit was of ek ‘n Stem hoor sê: “Moet dit nie sê nie!” U weet dit is soms die moeilikste ding om ‘n mens se mond toe te hou. Ek het dit oopgemaak en ‘n glimlag tevoorskyn gedwing. As ek daaraan terugdink, moes dit ‘n baie sieklike glimlag gewees het! My antwoord was:
“Ou seun, jy het dit heeltemal mis. As ek boontjies wou hê, sou ek nie hier wees nie, maar daar ver in Vancouver waar ons die beste boontjies in die wêreld kweek.”
So, by daardie een het ek goed verbygekom, maar steeds het hulle gekom - onsinnige vrae, persoonlike vrae - ek het hulle almal beantwoord so goed as wat ek kon. Na ‘n rukkie het ek by myself gesê: “Hulle probeer jou maar net kwaad maak, dis al.” Ek kon sien hoe die uitdrukking van verbasing oor hulle gesigte kom wanneer hulle een van daardie vrae stel en ek baie innemend met hulle glimlag, want dit was net ‘n toets tussen twee partye, en ek het gemeen dat ek my man kon staan. Nog steeds het die vrae gekom. Vier-en-veertig minute was verstreke - een minuut oor.
“Kyk,” het ek gesê, “ Ek het al die vrae beantwoord. Ons het nog een minuut oor en die laaste vraag gaan ek self stel.” Ek het gesien dat die professor in die dierkunde oorbuig en ‘n student toefluister, en ek het die student sien opstaan met die professor se vrae. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie professor ‘n ateïs was, dus het ek gesê: “Professor X, ek gaan u nou ‘n vraag vra.”
Hy het verbaas regop gesit. “Hier is die vraag,” het ek gesê, “Glo u in God?” Hy het ‘n oomblik geaarsel en toe ‘n klein toesprakie begin hou, ‘n baie dubbelsinnige toesprakie, al om die bos. “O” het ek hom in die rede geval, “U het nie nodig om ‘n toespraak te hou nie. Ons het nog net dertig sekondes. Wat ek van u verlang, is een woord - óf u glo in God, óf u glo nie - ja of nee - wat is dit?”
Ek het die bloed oor daardie man se nek en gesig sien opstyg. Toe hoor ek hom sê: “Nee, ek glo nie.” En daardie studente-liggaam in daardie CHRISTELIKE Kollege het daardie man se loëning van God toegejuig! Kan u u iets ergers as dit voorstel? Hier is ‘n Christelike kollege met ‘n ateïstiese professor en die studente juig sy loëning van God toe. Wel my hart was seer. Ek het net ‘n kort getuienis gegee omtrent wat God vir my beteken het en toe gaan sit.
Die pastoor het na my gekom, sy hand op my skouer gelê en gesê: “Moenie so bedruk lyk nie, dr Brown. Weet u, dit is die wonderlikste byeenkoms wat ons nog ooit gehad het.”
“Ek kan dit nie verstaan nie,” het ek gesê. “Ek moes ‘n aaklige gemors van daardie vrae gemaak het.”
“O” het hy gesê. “Man, waar in die wêreld het u daardie antwoorde gekry? Nooit in my lewe so iets gehoor nie!”
Wel, ek kon dit maar nog nie verstaan nie, maar die volgende dag het ek dit verstaan. U sou verruk gewees het, net soos ek, om die STROOM STUDENTE te sien wat na my hotelkamer gekom het. En die eerste deputasie het die jong man ingesluit wat die eerste vraag omtrent die boontjies aan my gestel het. Hy het met ‘n vriend gekom en met skaamte gesê: “Dr Brown, ek is die jong man wat gister die eerste vraag aan u gestel het en ek het gekom om u om verskoning te vra. Daardie vraag was nie van my nie. Die vraag is aan my gegee en ek weet nie hoe u dit verdra het nie; niemand van ons weet dit nie. Trouens een van ons professors het gesê hy sou nie vir R5000 verdra het wat u gister verdra het nie. Ek vra u om my te vergewe. En nog iets, dr Brown, ek het gister gedink ek is ‘n evolusionis, maar vandag weet ek nie wat ek is nie.”
“ Ou seun,” het ek gesê, “as jy ‘n evolusionis is, weet jy nooit wat jy is nie - mens, aap of ontbrekende skakel nie.” Toe laat ek daarop volg: “Kom binne as jy wil uitvind.”
Hy het ingekom, en ek dink nie dit was langer as vyftien of twintig minute voordat daardie twee jongmanne neergekniel en Jesus Christus aangeneem het nie. Weet u dat dertien jong manne Jesus Christus gevind het as ‘n direkte gevolg van daardie ondervraging? Nogmaals het die duiwel homself oorskry.
Maar hier is die tragedie: Ateïsme word gedoseer in ‘n sogenaamde Christelike kollege van jong mans en vroue. Ek kan my niks ergers voorstel nie. Hoe moet die duiwel nie grinnik oor die sukses van sy helse plan nie! Maar ek glo dat God se kinders nader aan mekaar getrek word namate ons die einde nader. Ek glo dat dié van ons wat dieselfde geloof het, besig is om tot die gevolgtrekking te kom dat niks vandag so belangrik is as om lojaal te wees aan die Here Jesus Christus nie.
Dit was in Oktober 1925 dat die Here my van my mediese praktyk in Victoria weggeroep het om al my tyd aan die verkondiging van die geloof te wy. Ek het baie operasies verrig en meer geld gemaak as wat ek ooit van gedroom het in hierdie wêreld. Dit was juis toe God met my begin praat het en gesê het: “Ek wil al jou tyd hê.”
Ek kan u verseker ek was nie gewillig nie. Ek het gedurig daarvan weggeskram. Ek het neergekniel en keer op keer vir die Here gesê dat ek nie alles kon opgee om ‘n reisende prediker te word nie. Ek het ‘n reputasie gehad as snydokter en dit wou ek nie opgee nie. Buitendien, almal sou sê: “Die dokter het ‘n godsdienstige dweper geword.” Maar uiteindelik het ek by die plek gekom waar ek gesê het: “ Here, ek is gewillig om gewillig gemaak te word.” En nou het Hy my gewillig gemaak.
Ek het my lewe verloor om dit weer te vind.
( Dank die Here vir so ‘n man soos dr Brown!)