'REBOOT' DIE KERK!

DIE INLIGTINGSREWOLUSIE EN KERK-WEES

Pieter van der Dussen Jnr

Dit is ‘n snaakse uitdrukking om te gebruik vir kerkwees, maar tog een wat noodsaaklik is! ‘n Rekenaar benodig mos ‘n 'reboot' wanneer daar soveel veranderings tydens die huidige sessie plaasgevind het dat dinge begin deurmekaar raak; dinge wil nou maar net nie vlot nie! So staan dit in die kerk vandag. Dit sou egter maklik wees om die vinger uitwaarts te draai en onmiddellik te reageer met ja, dié een en dáárdie maak sus en so, maar in eie geledere ook dinge mis te kyk: ‘n Rekenaar benodig ook ‘n 'reboot' indien daar iets ingrypends gebeur soos dat ‘n nuwe program gelaai en die rekenaar se vermoë uitgebrei word.

Die gemeenskap van vandag plaas die kerk in ‘n onbenydenswaardige posisie: Haar invloed word bevraagteken, haar leer belaglik gemaak en haar belydenis verafsku. In die loop van die artikel gaan eers na ‘n paar los begrippe gekyk word, maar die los begrippe sal al meer verskillende aansigte van dieselfde aspek word. Aan die einde kan die nodige gevolgtrekkings gemaak word oor hoe dit gekom het dat die kerk en gemeenskap nie meer ooreenstem nie en wat die kerk moontlik kan doen om die onvergenoeglike situasie te verbeter.

In sommige van die onderwerpe mag dit aanvanklik lyk of ek ‘n sekere standpunt voorstaan wat eers later duidelik sal word hoekom sake as standpunte gestel word sonder dat ek noodwendig die standpunt aanneem of voorstaan.

Wat is kerk?

Dié is ‘n baie gelaaide vraag waarop amper elke persoon in die kerk sy eie antwoord sal wil formuleer. Dit is egter noodsaaklik om die kerk te beskou in die sin van gemeente en dan in die Nederlandse vorm waar die gemeente nie kerk bedoel nie, maar wat ons in Afrikaans sou noem gemeenskap. In ‘n ideale toestand is daar dus geen verskil tussen gemeente/kerk en gemeenskap nie. Ons werklikheid lyk ongelukkig baie anders!

In die jare voordat vervoer en kommunikasie maklik geword het was daar in baie gemeenskappe (dorpe) net een kerk. Almal wat dus gelowig was moes ‘n manier vind om by die kerk (gemeente) in te skakel en moes ‘n manier vind om in vrede saam te leef. Daar was nie ‘n ander keuse nie. Die gevolg van hierdie dwingende geduld met mekaar was dat verandering baie stadig plaasgevind het (reformasie ook!) omdat, in die gemeente, broers en susters geduld met mekaar moes hê. Vandag se omstandhede is anders: Ons groepeer nie meer geografies nie maar ry eerder groot afstande om by ‘n kerk (gemeente?) te kom waar daar broers en susters is wat met my saamstem. Nie net het ons nou ‘n ongeduld aangeleer nie (as dit my nie pas nie gaan ek iewers anders heen), dit het ook ‘n versnelling van verandering (insluitend reformasie!) tot gevolg aangesien die geduld met die andersdenkende broer en suster nou oorbodig is. Die kerk het dus baie vloeibaar geword.

Wat is ‘n beginsel?

In ons daaglikse taalgebruik het die woord ongelukkig baie van sy krag verloor: Dit is die begin van alles. So maklik praat ons van hierdie beginsel of daardie beginsel sonder om mooi na te dink oor wat ons presies sê. Indien die stelling verder afgebreek kan word in onderdele is dit ‘n toepassing van ‘n beginsel, ‘n gemeenskaplike uiting van dit wat die gemeenskap vandag gebruik om die beginsel tot sy reg te laat kom. Daar is dus per definisie baie min werklike beginsels, maar wye toepassing daarvan.

‘n Praktiese voorbeeld is om die stoor van rekords op papier as ‘n beginsel te beskou. Die stoor van rekords is die beginsel, die papier die gemeenskap se manier om die beginsel te laat floreer. Indien tegnologiese ontwikkeling egter die gebruik van papier begin onnodig maak kan daar nie ter wille van stabiliteit aan papier vasgehou word nie, maar moet net sekergemaak word dat verstaan word wat met rekordhouding bedoel word voordat daar van papier afgesien word.

In ‘n mate kan die Woord gelees word om net tien beginsels te vind: Die Wet. Dit verklaar onmiddellik hoekom die Wet so stiptelik elke Sondag gelees word. So kan byvoorbeeld die maagdelike geboorte van Christus, die Goddelike aard van Christus, die geloof in die opgestane Christus en nog vele meer sake teruggetrek word na die eerste gebod. Die eerste gebod is dus die beginsel van al hierdie sake.

Wat is kennis?

Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid (Psalm 111:10). Netso is die vrees van die HERE die beginsel van die kennis (Spreuke 1:7). In die daaglikse werklikheid van die lewe bly hierdie Woord waar. Hulle kom in die samelewing bymekaar in die kennisvoorraad van mense. Tog het die kerk vandag in 'n soort kennisgodsdiens verval. Weereens, in vroeër dae was geletterdheid uiters beperk en was geletterdheid soos ons dit vandag verstaan, beperk tot die aristokrasie en handelaars. Die oorgrote meerderheid mense het slegs ‘n basiese lees- en skryfvermoë gehad – of selfs geen. Dit het hulle egter nie weerhou van kennis nie! Meeste van hierdie mense het die Bybel beter geken as wat ons dit vandag ken en kon die kennis gemaklik omskakel na wysheid.

Wat het gebeur? Ons geletterdheid het noodwendig die gevolg gehad dat ons al meer óór die Bybel begin lees het en al minder úít die Bybel self. Die klem het al meer op die verstaan van die Bybel as op die glo van die Bybel geval. Nie dat daar fout is daarmee om die Bybel te probeer verstaan nie, maar is die klem steeds daarop om die Bybel onvoorwaardelik te glo – net soos die Woord Homself aan ons aanbied?

Die ander newe-uitwerking hiervan is dat die invloed van die Heilige Gees al minder word - die Heilige Gees wat die Woord verklaar en die Woord gebruik om die geloof in ons harte vas te maak. Deur die Bybel te lees en te glo dat die Heilige Gees mettertyd wel dit wat ek gelees het sal verklaar word maklik ontslae geraak van heelwat bagasie wat ons kerke ingesluip het. Dit gee ook perspektief oor die kategese (persoonlik en amptelik) van my kind.

Die laaste aspek van kennis is dat dit sosiaal van aard is. Kennis wat ‘n klompie jare gelede gegeld het kan nie net so oorgedra word na vandag se situasie nie. Nie net het die sosiale aard van die gemeenskap verander nie (ons het reeds onder andere na die verskynsel gekyk om lang afstande te ry na ‘n kerk van my keuse) die omgewing om ons het verander:

  • Tegnologiese vooruitgang is sneller as ooit tevore en versnel steeds,
  • Nog nooit tevore het meer as 50% van die wêreld se bevolking in stede gewoon nie,
  • Kommunikasie en vervoer het die wêreld ‘n baie klein plekkie gemaak en in ‘n groot mate tradisionele grense (nasionaliteite) afgebreek.

Daar is nie regtig ‘n reg of verkeerd aan hierdie sake nie, maar die gemeenskap – en dus die kerk – word hierdeur geraak en moet ‘n oomblik stilstaan en sy kennis hierby aanpas. Daar is welbekende voorbeelde van hervormers wat aan mekaar geskryf het dat dit wat in een land werk eerder nie toegepas moet word in ‘n ander land nie. Calvyn se wandelende nagmaal en meer spirituele formulier daarvoor het nie inslag gevind in die Nederlandse omstandighede nie terwyl die Engelse kerke verkies het om eerder hulle eie kategesehandleiding (Westminster Confession) saam te stel as om die Europese vasteland se algemeen gebruikte Heidelbergse Kategismus te aanvaar.

Waarom dan ‘n erediens?

Dit is opvallend (veral vir my gesin wat nog twee klein kindertjies het) dat kerkgeboue vroeër nie moederskamers gehad het nie. Moeders het of in die kerk gebly met kind en al of, wanneer sake regtig moeilik raak, buite die kerk deur die venster geluister. Dat daar egter meer geduld was met die kind in die kerk – terwyl daar meer kinders as volwassenes in die kerk was, die situasie het eers in die 1940’s omgedraai – staan vas. Die klem was dus minder op die boodskap en meer op die gemeenskap met mekaar en dan veral die gemeenskap met die Heilige Gees. Die lees van die Woord was sentraal en die prediking was so ingerig. Die uitleg en kennisoordrag was altyd deel van die prediking, maar die klem het geval om die Woord in vandag se konteks verstaanbaar te maak. Dus, sosiale kennis vanuit die ewige wysheid van die Woord.

Wat is reg?

Die verstaan van reg en verkeerd is vandag in ‘n groot mate geskoei op die Romeins-Hollandse regstelsel en die beginsels wat daarin vervat is. Ons siening van reg en verkeerd het deur die eeue vanaf die regbank na die gemeenskap versprei. Dit is egter belangrik om te verstaan dat die Romeins-Hollandse regstelsels ontstaan het uit die noodsaak van die Romeinse ryk om ‘n objektiewe metode te vind om reg te kan spreek.

In die jare voor die groot ryke, waarvan die Romeinse ryk die suksesvolste was, was daar in die samelewing ‘n gemeenskaplike verstaan van reg en verkeerd. Gemeenskappe was klein en regters het uit die gemeenskap voortgekom. Regspraak het dus ook subjektief hierby aangepas. Daar is sekerlik foute gemaak en mag is misbruik (sien byvoorbeeld koning Dawid en Uria), maar soos vandag bewys is deur onder andere nuwe DNA-tegnieke te gebruik, is daar ook baie foute gemaak in die toepassing van ‘n objektiewe stelsel soos die Romeins-Hollandse. Die punt is egter dat ons in ‘n sondige bestel maar slegs kan poog om reg te spreek maar dat ons in alle ywer daarmee moet voortgaan ten einde ‘n ordelike samelewing te handhaaf.

Die probleem is egter dat objektiewe regspraak tans subjektiewe kerklike gemeenskap verlam…

Die Swaard

Die Woord dui baie duidelik aan dat regeerders en maghebbers die swaard van God ontvang het om mee te regeer. Swaard is egter ‘n begrip wat vandag nie meer bestaan nie. Soos later aangedui word is die samelewing een van reëls en regulasies wat eintlik daarop ingestel is om die kwaad te voorkom. Ek merk hiervan egter bitter min die Woord! Die swaard is nie ‘n voorkomende wapen nie, maar ‘n wapen wat die kwaad straf en dit ook streng straf! Die kwaaddoener moet dus as voorbeeld dien vir ander sodat die swaard in so ‘n mate gevrees word dat die persoon self die voorkomende stappe sal neem en homself hiervoor toerekeningsvatbaar sal maak. Danny Titus maak feitlik dieselfde punt onder Wie gehoorsaam dan die wet? In Beeld van 12 November 2010 toe hy sê dat wetsgehoorsaamheid van drie sake afhang: Die dreiging van straf, die mening van die gemeenskap en persoonlike moraliteit.

Die waardebegrip

Ek het al velemale deur gesprekke gesit waar die gespreksgenoot vertel hoe hy sekere beginsels in ‘n kerk (of ander instansie) bewonder, maar tog bevind hy hom in ‘n ander kerk. Voordat daar verder gegaan kan word met die begrip moet eers gesê word dat slegs ‘n uitverkore, wedergebore kind van God ooit die vermoë sal hê om die waarde van kerkwees te kan bepaal. Vir enige ander persoon lyk kerkwees waardeloos!

Terug by die oorspronklike saak wat aangeroer is: Indien ‘n persoon hom vereenselwig met als wat in ‘n kerk gebeur en tog kies om iewers anders heen te gaan is daar net een verklaring voor: Die persoon het ‘n waarde-oordeel gevel en die betrokke kerk te lig bevind. Daar kan baie redes voor gesoek word en die maklike opsie sal wees om dit aan die sondigheid van die mens toe te skryf, maar daar moet wel iets diepers wees, iets wat die ander persoon aantrek.

Hier begin ons nou dinge saamtrek: Sien ons kerk werklik as die gemeenskap van gelowiges wat Sondag ordelik saamkom in erediens (kerk) en doen ons moeite met mekaar hiermee? Ek staan soms beskaamd teenoor vriende en kollegas wat in sogenaamde charismatiese kerke is en hoe mooi hulle na mekaar kan omsien. Moeilike sake word nie misgekyk nie maar word uitgesorteer sonder dat ‘n ouderling of predikant ooit betrokke raak. Diep en innige geloofsake word openlik met mekaar gedeel sonder om skaam te wees dat iemand dalk gaan dink dat ‘n opmerking ‘n metodistiese ondertoon mag hê. In kort: Die mens as emosionele wese moet langs sy rasionele aard kan bestaan. Dit is die wese van gemeenskap.

In 1901 is die bekende Nederlandse teoloog Abraham Kuyper verkies tot Eerste Minister van Nederland na ‘n relatiewe lang politieke loopbaan. Miskien sou ons graag wou sê dat hy verkies is omdat hy gereformeerd was, maar tog nie! Hy is verkies omdat die meerderheid van die Nederlandse bevolking (wat hom nie tydens die Doleansie gevolg het nie) aanvaar het dat hy waarde in hulle lewens kon toevoeg. Selfs die oorgrote meerderheid lidmate van die Nederlandse Hervormde Kerk van wie Kuyper weggebreek het, het hulle lidmaatskap daarvan voortgesit.

Die twee industriële rewolusies en die twee Wêreldoorloë

Tot en met 1770 het mense oor die algemeen na hulle eie behoeftes omgesien, selfs binne die feudale stelsel wat heersend in Europa was. ‘n Persoon sou sy vak beoefen en deur handel na die res van sy behoeftes omsien. Relatief min mense het direk vir ‘n werkgewer gewerk (ongeveer 30%) en dus sy arbeid verhandel. Die eerste industriële rewolusie het dit egter verander: Die vermoë om goedere in groot massas te vervaardig deur kapitaal en arbeid saam te gooi en die arbeider te laat spesialiseer in onderafdelings van vakke tot waar dit onmoontlik geraak het vir een persoon om ‘n spesifieke produk te kon vervaardig (sien o a die 1958-Essay van Leonard Read: I, Pencil in die verband) het mense gedwing om hierdie vryheid te laat vaar en werknemers van die groot industrialiste te word.

Tydens die tweede industriële rewolusie wat aan die begin van die 20ste eeu begin het, het die mensdom begin om geld bo als na te streef. Mense het nou nie meer hulle arbeid aan die groot industrialiste verkoop nie, maar aan die groot maatskappye. Die maatskappy het die dryfveer in die samelewing geword. Op ‘n manier het mense, deur die masjinerie van die maatskappy, dit reggekry om hulle eie gewete te laat vaar en het die lewelose maatskappy en staat die skuld vir sy eie gewetenloosheid begin gee. Die gevolg was magstryde wat sy begin gehad het hier in Suid-Afrika met die Tweede Vryheidsoorlog en uitgeloop het op die twee Wêreldoorloë. Die oorloë het die mensdom geskend en sy regering en magsverhoudinge het verval tot ‘n hiërargiese orde vol reëls en regulasies, terwyl werklike wet en orde in die slag gebly het.

In die jare-tagtig was reeds meer as 80% van die wêreld se bevolking vasgevang as werknemers van ‘n maatskappy of die staat. In hierdie tyd het die situasie egter begin omkeer. Al meer het arbeiders hulleself begin sien as ‘n eie entiteit wat op ‘n stadium kies om sy handelsware (arbeid en kennis) aan ‘n maatskappy te verkoop, maar daar is beperkings gestel: Ek verkoop my arbeid aan die beste bieër – dit is nie noodwendig vir die meeste geld nie; my kennis is myne en die maatskappy kan nie aanspraak daarop maak nie en laastens, die maatskappy besit my nie. Ek het ook inspraak in my tyd en hoe dit aangewend word. Die omkeerproses van gebonde werker terug na vrye agent versnel steeds en haal lande soos Suid-Afrika ook in.

Die ander groot verandering wat plaasgevind het is dat werkers voorheen daarop kon staatmaak om net sy klein stukkie arbeid te verstaan en dit goed te doen. Hoe alles inmekaar steek – die integrasie van die werk – was nie sy bekommernis nie. In die snelveranderende wêreld is dit nie meer net noodsaaklik dat elke persoon moet verstaan waar sy werk in die groter geheel inpas nie, dit het ‘n vereiste geword. Die snel vloei van inligting en tegnologiese vooruitgang het van elke persoon ‘n integreerder gemaak selfs terwyl hy besig is met sy gespesialiseerde werk.

Hierargiese orde in die samelewing en kerk

Seker die uitstaande kenmerk van die valse kerk is die ontstaan van hierargieë in die kerkregering. Selfs in die Ou Testamentiese tyd kan daar maar telkens gekyk word hoe die mens se sondige drang na mag hom verblind en hoe hierargieë en oorheersing hoogty vier. Dit lyk aanvanklik of dit op iets goeds uitloop; die volk is vooruitstrewend, maar binnekort tree die verval in en word die heersers magsugtige mense wat mekaar vertrap vir hulle gewaande belangrike plekkie in die son.

Een van die grootste veranderings in die werksplek is die opstand teen hierdie orde. Let egter mooi op: Die mens se orde is nie God se orde nie. Die mens se orde – of dit dan stedelike ontwikkeling, bestuursontwikkeling, regeringsontwikkeling of wat ook al is – lei tot die dood. Netjiese stede verval, veredelde plant- en diererasse sterf uit of het inherente probleme terwyl goedbestuurde maatskappye skielik op ‘n dag agterkom dat die instituut geldelik en moreel bankrot is.

Kyk egter na die natuur, dit is ordelik en alles is op sy plek, en tog, vir ons is dit op die oog af deurmekaar. Die mens ontdek tans hierdie waarhede in die probleme wat sy eie ordening voortgebring het asook deur die nuwe tegnologiese vermoë om dieper te kyk, verby die opsigtelike. Hedendaagse klassifikasiestelsels is daarom huiwerig om te veel stelligheid aan enigiets te gee – orde, maar met erkenning aan ons eie onvermoë.

Tegnologiese vooruitgang, kommunikasie en kultuur

Ek was diep betrokke by verskillende maatskappye in die eerste jare van die populêre ontwikkeling van die internet. As ek moes tel hoeveel keer die gesegde the medium is not the message tydens vergaderings gebruik is, sal ek spoedig ruimte kortkom. Die gesegde bedoel natuurlik dat tegnologie nie die proses kan voorskryf nie – die proses bly soos hy is, tegnologie ondersteun dit net. En tog, die gesegde was verkeerd!

Reeds in 1961 het Marshall McLuhan opgemerk dat ‘n nuwe manier van kommunikasie slegs in die lig van sy voorganger gesien kan word – en dat dit ‘n groot fout is! Tegnologie bring nuwe moontlikhede, veral wat kommunikasie betref. Hierdie moontlikhede word eers stadig sigbaar en het op hulle eie nie ‘n groot invloed op ons kultuur nie (dag-tot-dag-lewenswyse), maar soos dinge opbou is ‘n rewolusie onafwendbaar.

Net gou ‘n syspoor: Daar is twee soorte rewolusies - die ideologiese rewolusie en die sosiale rewolusie. Die ideologiese rewolusie word gekenmerk deur ‘n sterk leiersgroep wat ‘n groep mense opsweep en hierdie groep kry op die ou end die oorhand oor die res van die bevolking. Die rewolusie gaan egter gewoonlik met dwang en geweld gepaard en hou geskiedkundig nie lank nie. Dit vind in sakeverband gereeld plaas. Die sosiale rewolusie daarenteen is iets wat net gebeur. Daar is geen leier daarin nie, niemand neem werklik besluite nie en tog verander als! Die ideologiese rewolusie word vireers daar gelaat, maar laat ons kyk na twee sosiale rewolusies:

Die rewolusie wat gevolg het op boekdrukkuns

Hierdie kan beskou word as die eerste inligtingsrewolusie. Nooit vantevore kon mense regtig toegang tot inligting kry nie aangesien boeke duur en onbekombaar was – die domein van die monnike in die kloosters. Alhoewel geletterdheid nog beperk was, het die boekdrukkuns dit moontlik gemaak om inligting relatief gemaklik te kon versprei. Op die ou end was die inhoud minder belangrik as dat die mense self kon begin lees en dus ook vir hulle self besluite kon neem. Die medium het dus die boodskap geword.

Die mooiste van hierdie rewolusie was egter dat die kerk voor gestap het. Maarten Luther, Johannes Calvyn en hulle tydgenote het hierdie rewolusie gebruik om die kerk te hervorm en te bou, maar die belangrike was dat hulle in die hervorming nie die kerk volledig teruggeneem het na die Nuwe Testamentiese Kerk van die eerste eeu nie. Die Nuwe Testamentiese beginsels is opgesoek en in die nuwe samelewing toegepas. Ons sing toe nie meer die Psalms direk uit die Woord nie, maar berymde Psalms, die liturgie is ingeklee om die tydraamwerk te pas en die samelewing is na die kerk getrek.

Die rewolusie wat gevolg het op die internet

Hierdie is die tweede inligtingsrewolusie en dit is tans voluit aan die gang. Inligting is nou nie meer net maklik bekombaar nie, maar die tempo waarteen dit versprei is so vinnig dat dit ons stomslaan. Nie soseer oor die tegnologie wat dit bevorder nie, maar oor hoe groot die individu se vermoë om kennis (deur die verbreding van die sosiale vloei van inligting) op te doen, te verwerk en iets nuuts voort te bring, is.

Die hartseer van hierdie rewolusie is dat die kerk toekyk en nie deelneem nie. Hoogstens word daar in verwondering iets gesê, maar die geslote gesprekke en vergaderings, geslote denke en dade gaan voort. Sommige kerke probeer, maar hierdie kerke het dikwels die suiwer leer verlaat. Nou is dit so dat lidmate reeds deel is van hierdie rewolusie en jonger lidmate dit nie eers meer as ‘n rewolusie ervaar nie, maar die kultuur wat voortspruit hieruit reeds aangeneem het. Die kerk wat steeds in ‘n ouer kultuur staan, staan nou vreemd teenoor hierdie lidmate en hulle kry nie meer die persoonlike waarde uit die kerkgemeenskap wat daaruit geput moet word nie. Een praktiese gevolg vir die kerk is dat gedrukte Bybels binne die volgende paar jaar nie meer beskikbaar sal wees nie. Die outydse boekrak word tans vervang met ‘n eReader, dan nogal teen ‘n fraksie van die prys. ‘n Instelling soos die Oxford Dictionary is tans nog beskikbaar, maar daar is reeds gesê dat hierdie die laaste gedrukte uitgawe sal wees. Volgende uitgawes sal slegs elektronies beskikbaar wees. Die uitfasering van die gedrukte boek is een van die finale tonele in die huidige rewolusie

Alle rewolusies het die gevolg dat daar ‘n kloof ontstaan tussen die twee kante van die rewolusie. Met ‘n ideologiese rewolusie word die kloof mettertyd opgevul en verval die revolusionêre orde gewoonlik skielik. ‘n Sosiale rewolusie behou vir ‘n tyd lank nog brûe oor die kloof, maar hierdie brûe verval mettertyd totdat dit feitlik onmoontlik word om die kloof oor te steek. In Amerikaanse sin sit die samelewing dan met ‘n verskynsel soos die Amish wat eintlik heeltemal wêreldvreemd leef en in ‘n groot mate juis die roeping waarop hulle roem, ondermyn. Die belangrike punt om hieruit te neem is dat baie veranderinge nie reg of verkeerd is nie, dit is net.

Afsluiting

Die artikel dra die opskrif Reboot die kerk! Dit is nodiger as ooit. Die fariseërs het selfgenoegsaam gedink dat hulle met hulle orde en reëls die toppunt van kerkwees bereik het. Tog noem Jesus hulle witgepleisterde grafte! Verrot tot op die been. As die gemeenskap weer daarby kan kom om meer beskrywend as voorskrywend met mekaar om te gaan – hetsy dit vriendskaplik, professioneel of watter verband ook al is – sal daar vanself ‘n terugkeer wees na die suiwer leer. As die kerk kan leer om meer te fokus op die hede en die huidige samelewing en minder veroordelend te staan oor wat vreemd is, maar nie verkeerd is nie, sal die getalle van die kerk weer groei. As die kerk weer gesien word as gemeente – die samekoms van uitverkore kinders van God – en minder institusioneel beheer word, sal die lidmate weer die warmte van die vryheid in Christus ervaar. Die mens is meer as net ‘n kognitiewe, denkende wese!