Hierdie belofte aan Israel het die Here meermale daarna getrou nagekom, want Israel was sy geloftevolk en al het hulle dikwels teenoor Hom gesondig deur veral vir hulle nikswerd afgodedienste in te stel, waaroor die Here hulle gereeld gestraf het, het Hy hulle ook altyd weer vergiffenis en uitkoms geskenk.
Die Here kan en sal nooit ontrou aan sy geloftevolk word nie. As ons Afrikanervolk dit maar besef het en geglo het dat ons ook ons beloftes van Bloedrivier en Paardekraal getrou aan die Here moet bly nakom, sou baie van ons nie so maklik betower geraak het deur die vals lokstem van die liberalisme nie en sou die winde van verandering ook nie baie “Afrikaanses” weggewaai het nie. Deur sulke ontroues en verraaiers het ons die Christelike nasionale pad van Suid-Afrika verlaat om rustig en doodtevrede na ons verderf, hand aan hand met die demoniese magte wat ons teister, aan te stap.
Maar soos die Here dit ook vir Israel was en bly, is Hy steeds ook nog ons gelofte-God, as Hy sê: “Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.” II Kronieke 7: 15. As ons Afrikanervolk, oor wie die Here se Naam ook uitgeroep is, ons sou verootmoedig en bid en sy aangesig soek en ons bekeer van ons verkeerde weë, SAL Hy uit die hemel hoor en ons afdwaling en sonde vergewe en ons geteisterde land weer genees.