DRAAI OM MY VOLK!

“As my volk, oor wie my naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” II Kronieke 7:14.

Dis wonderlik om te ontdek hoeveel raakpunte daar bestaan in die geskiedenis van Israel en dié van die Afrikanervolk. Hierdie gebeurtenis waar die Here in die nag met Salomo praat en deur hom die volk waarsku om nie af te wyk van sy verordeninge nie, is een daarvan.  Salomo het, na voltooiing van die pragtige tempel, dit as ‘n heilige huis aan Hom toegewy, om in die midde van sy afhanklike volk te woon en hulle in tye wanneer buitelandse gevaar sou dreig, hulle te beskerm.  Maar die Here het ook hierdie wisselvallige volk se afdwalings geken en gewaarsku dat Hy hulle sou straf indien dit weer gebeur.  Maar dan lees ons feitlik met verbasing dat die barmhartige God Israel maar weer soos altyd, genadig sou wees.

“Indien hulle hul verootmoedig en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde  weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

Soos wat Israel met die inwyding van die tempel op heilige grond gestaan het met die voorneme om die Here van ganser harte te dien, so het eenmaal, op 16 Desember 1949, ook 250 000 toegewyde en besielde Afrikaners by die inwyding van die Voortrekkermonument gestaan en luisterend ingestem om te doen wat die Here op daardie merkwaardige dag as versekerings en waarskuwings deur dr DF Malan tot die volk gerig het:

“Hierdie monument staan hier vir die Voortrekkers se nagedagtenis en huldiging.  Maar dit staan hier langs die pad van Suid-Afrika, ook vir u en u nageslag. Dis ‘n Quo Vadis-heiligdom, Afrikaner, nou en deur al die toekomende geslagte heen.  As u weggedwaal het van die Voortrekkergees en gedagte, as u die Voortrekkers wat u vandag huldig, met die daad verloën en opnuut kruisig en u oog val op hierdie monument waar u en die Voortrekkers vandag in die gees mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet; as  daardie sieldeursoekende vraag hom dan aan u opdring:  Afrikaner, Quo Vadis, waar gaan jy heen?  Staan dan stil; en draai terug!  Terug na u volk; terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar waarop u u offers moet lê en as dit geëis word ook u self as ‘n offerande;  terug na die heiligheid en onskendbaarheid van die gesinslewe; terug na u Christelike wandel; terug na u Christelike geloof; terug na u kerk; terug na u God!”

Soos Israel weggedwaal het van God en sy gebod en deur die Here gestraf is met wegvoering na ‘n vreemde land, so het die Afrikanervolk ook weggedwaal en word gestraf onder die hiel van ‘n terroristiese regering, maar ‘n barmhartige, genadige en vergewensgesinde God wat oor ons regeer, verseker ook vir ons dat as ons Afrikanervolk, oor wie sy Naam ook uitgeroep is, hom verootmoedig en bid en sy aangesig soek en ons bekeer van ons verkeerde weë, dan SAL Hy uit die hemel hoor en ons sondes vergewe en ons land genees en ons van hierdie terroriste verlos.

Mag ons Afrikanervolk deur Gods genade so ver kom om dit te doen!