Lees reeks by WÁT, NADAT JY STERF?
Weet jy wat ná jou dood gebeur? Is die dood vir jou die einde van jou lewe; of die begin van 'n nuwe?
In hierdie reeks getuig dr Maurice Rawlings, M.D., 'n Amerikaanse kardioloog wie se werk dit is om mense uit die dood te probeer terugbring, van ervaringe waartydens hy resussitasie (dit is die proses van 'terugbring' wanneer die hart ophou klop het) op pasiënte toegepas het.
Wat resussitasie behels
Voordat ons verder oor gevalle praat, wil ek kortliks die basiese metodes van resussitasie verduidelik.
Resussitasie bestaan uit asemhaling en bloedsomloop wat kunsmatig aan die gang gekry word. Kunsmatige asemhaling word onder meer toegepas deur die sogenaamde mond-tot-mond-metode wanneer die pasiënt se neus toegedruk word en jou eie asem, die lug wat jy uitblaas, deur sy mond in sy longe in geforseer word. As die metode reg toepas word, sal die bewustelose pasiënt se borskas groter word weens die lug wat daarin geforseer word. Die lug word outomaties deur die pasiënt uitgeasem as 'n mens jou mond vir 'n paar sekondes van sy mond afhaal om self lug in te asem vir die volgende rondte.
Bloedsomloop word aan die gang gehou deur eksterne massering van die pasiënt se hart. Dit word gedoen deur die een hand op die laer gedeelte van die borsbeen te plaas en die ander hand bo-op dié een. Deur hard op die hand te druk gee die borsbeen mee. Die hart word dan tussen die borsbeen en die stewige rugwerwels, wat nie meegee nie, vasgedruk. As opeenvolgend gedruk en gelos word, word die hartklop nageboots.
Die siklus word na elke vyftien drukke onderbreek om twee keer lug in die pasiënt se longe te blaas (as mens alleen werk). Die massering moet egalig wees en die tempo moet so wees dat tussen sestig en tagtig hartkloppe per minuut nageboots word. Aangesien die hartkleppe so ontwerp is dat bloed net in een rigting daardeur kan vloei, word die bloed in die hart in die hartare ingeforseer. Die hart vul outomaties met bloed tydens die tussenpose. As die metode reg toegepas word kan 'n pols in die nek-aar net langs die adamsappel gevoel word. As hierdie pols aanwesig is, is dit die teken dat die metode reg toegepas word, of die pasiënt bykom of nie.
Dit is nie meer nodig om die borskas oop te maak en die hart snykundig bloot te lê vir massering soos vroeër nie. Spoed en bekwaamheid in die toepassing die huidige metode van resussitasie is die sleutel tot die herstel van pasiënte wat klinies dood is. Agt en negentig persent van die pasiënte sal herstel as hulle binne 'n minuut nadat hulle klinies gesterf het, gehelp word. As hulp binne twee minute gegee word, kan twee en negentig persent deurgehaal word. Twee en sewentig persent word gered as hulp binne drie minute opdaag. Dog net vyftig persent sal dit oorleef as daar 'n vertraging van vier minute is en net elf persent as ses minute verloop het.
Obstruksies van die lugkanale veroorsaak deur verstikking of versmoring, is die oorsaak van vyftig persent van alle sulke sterfgevalle. Obstruksie het waarskynlik ingetree as die pasiënt sukkel om lug in sy longe in te kry maar dit nie kan regkry nie. As 'n hyggeluid gehoor kan word, sukkel die pasiënt om lug verby 'n gedeeltelike obstruksie te kry. As hy worstel om lug te kry sonder om 'n geluid te maak, is dit 'n ernstiger geval van totale obstruksie en dood sal dan baie vinnig intree. Metodes van resussitasie wat dan toegepas word, help soms om die obstruksie uit te weg te ruim. Die algemeenste verskynsel is wanneer die pasiënt se tong die lugkanaal toestop. Deur sy ken op te druk en sy kop agteroor terwyl hy op die vloer op sy rug lê, sal mens daarin slaag om die lug weer vyelik na die longe te laat beweeg. Talle bewustelose pasiënte sterf aan eenvoudige versmoring omdat die tong die lugkanaal verstop. Dis iets wat maklik verhelp kan word.
Indien dit 'n ander soort obstuksie is, kan dit verwyder word deur druk toe te pas op die laer gedeeltes van die bors of die hoër gedeeltes van die maag. Hiermee word lug gewoonlik uit die longe geforseer in 'n poging om die voorwerp wat vassit uit te druk tot in 'n gedeelte van die keel waar dit verwyder kan word.
Mond-tot-mond-asemhaling kan ook toegepas word om 'n obstruksie te verwyder deur dit met die lugpyp langs tot in die long te forseer. Dit word dan later uit die long verwyder met 'n instrument bekend as 'n bronchoskoop – 'n hol buis wat deur die lugpyp tot in die long gesteek word. Die vreemde voorwerp word dan met 'n spesiale tangetjie uitgehaal.
Wat sien die afgestorwene?
Dit is interessant dat al my pasiënte wat verslag gedoen het oor 'n oorgaan van een lewe na 'n volgende, of dit nou aangenaam of onaangenaam was, vertel het van 'n ontmoeting met geliefdes in 'n soort sorteerplek wat dikwels 'n versperring gehad het om dit af te skei van die meer permanente soort bestaan.
Die "lig" wat hulle almal gesien het, was dikwels 'n helder omgewing, terwyl dit in ander gevalle weer gekom het van 'n engelagtige figuur. Sataniese wesens is gewoonlik nie beskryf in terme van lig nie, maar in terme van duisternis. Natuurlik moet ons onthou dat elke beskrywings, goed of sleg, deur die pasiënte self gegee is en moes dus deur hulle persoonlike kulturele agtergrond beïnvloed gewees het.
Hoe ons dit wat hulle gesien het, interpreteer, sal egter in 'n groot mate beïnvloed word deur ons eie geloof in die Bybel of ons persoonlike oortuiging.
Die volgende ervaring is nie deur een van my pasiënte nie maar deur 'n dokter wat iemand tydelik bygebring het, aan my vertel:
"Toe hy op die kruin van sukses was, sou niemand vermoed het hy was so wanhopig nie. Hy het my vertel hy soek na meer as dit wat die lewe hom bied. Ek kon sy probleem ook nie verstaan nie. Ek moes na hom geluister het, want daardie aand is ek uitgeroep na sy huis in Berverley Hills waar ek hom met 'n koeëlwond in die mond op die vloer aangetref het. Hy het sy bewussyn herwin en gereageer op my pogings om hom by te bring, dog net vir 'n rukkie. Ek het hom gesê ons gaan probeer om hom te red. Hy het sy kop instemmend geknik, Sy laaste woorde was: 'Ek is bang. Moet my tog nie laat teruggaan heltoe nie. Ek kan dit nou duidelik sien.' Ek weet nie wat hy gesien het nie."
Omdat ons nie die onsterflike siel die liggaam kan sien verlaat nie, neem ons aan dat dit nie bestaan nie. Ons eie begrip van die werklikheid word immers aan bande gelê deur ons vyf sintuie. Ons glo wat ons kan sien, voel, hoor, ruik en proe. As ons iets nie sien nie, sê ons dit bestaan nie. Selfs wanneer ons iets sien, verstaan ons dit dikwels nie eers nie. In Matt 13: 13 staan geskryf: "Want hulle sien keer op keer en tog merk hulle niks op nie." Hierdie was een van my eie probleme waarmee ek lank geworstel het.
En tog, baie mense wat uit 'n kliniese dood bygebring is, vertel dat hulle inderdaad gesien het hoe hulle hul liggame verlaat en dan wonder waarom ons nie kan hoor as hulle met ons praat nie. Hulle is gewoonlik onsteld dat almal in die kamer doenig is met die lyk en die 'werklike persoon' nie kan sien nie. Die persoon wat uit die liggaam uitgekom het, kan almal in die vertrek duidelik sien en hoor, maar hulle kan hom nie sien of hoor nie. Klaarblyklik is u en ek blind vir hierdie geestelike wêreld terwyl ons nog in hierdie lewe is.
As ons na 'n lyk kyk, neem ons aan dat die mens wat daardie liggaam bewoon het, ook dood is, terwyl daardie mens in der waarheid uit daardie liggaam vertrek het en dus die liggaam leweloos agtergelaat het.
Salomo het vir gelowiges 'n goeie beskrywing gegee van sy begrip van die dood as die liggaam terugkeer tot stof: "...en die gees na God terugkeer wat dit gegee het." Prediker 12:7
Die metamorfose van die ruspe wat 'n skoenlapper word is miskien ook 'n voorbeeld van totale oorgang van een lewe na 'n volgende, van iets alledaags na iets moois, van iets wat aardgebonde is na iets wat ongebonde is.
Wat die Bybel hieroor sê
In die boek Genesis word gesê die mens is uit stof gemaak: "En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword." – Genesis 2:7. Vandaar die woorde by begrafnisse: "Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer."
Die Bybel vertel baie oor die oorsprong en die eindbestemming van die mens – onderwerpe waaroor die wetenskap geen finale antwoord kan gee nie. Die liggaam word oud en keer terug tot stof. Maar die gees, wat deur God geskape is, leef voort. In die boek Daniël word melding gemaak van die opstanding van ons liggame uit die stof. "En baie van dié wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik, En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel en dié wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos." – Daniël 12:2,3.
Daar is talle plekke in die Woord waar hierdie boodskap duidelik na vore kom, tog is dit bemoedigend om te weet die Christelike leer het dit meer oor die lewe as die dood. Daar is vir 'n mens niks so belangrik as sy eie lewe nie. As mens nadink oor jou dood, begryp jy hoe om goed te leef.
Vreemde ervarings
Die lewe ná die dood kan vir die mens òf 'n tergende geheim, òf 'n wonderlike bron van hoop wees. Wanneer 'n mens gesels met mense wat pas uit 'n kliniese dood bygebring is, kom jy agter daar word feitlik net soveel goeie verslae gegee as slegtes. In die volgende aflewering word daar gepraat oor die goeie, die slegte en die eienaardige ervarings wat mense in die hiernamaals gehad het, en die tipiese ervaring buite die liggaam.
Vervolg...