Lees reeks by WÁT, NADAT JY STERF?
Weet jy wat ná jou dood gebeur? Is die dood vir jou die einde van jou lewe; of die begin van 'n nuwe?
In hierdie reeks getuig dr Maurice Rawlings, M.D., 'n Amerikaanse kardioloog wie se werk dit is om mense uit die dood te probeer terugbring, van ervaringe waartydens hy resussitasie (dit is die proses van 'terugbring' wanneer die hart ophou klop het) op pasiënte toegepas het.
Daar is net 'n paar gevalle in die wêreld bekend van mense wat 'n voorsmaak van die dood gehad het op 'n wyse soos Dwight Moody, 'n verkoopsman van Chicago wat later een van die vurigste Christen-evangeliste ter wêreld geword het. Op 'n warm Sondag in Augustus 1899 het hy in New York gesê: "Eendag sal julle in die koerante lees Moody is dood. Moet geen woord daarvan glo nie. In daardie stadium sal ek lewendiger wees as wat ek nou is. Ek is in 1837 uit die vlees gebore. In 1855 is ek uit die gees gebore. Dit wat uit die vlees gebore is sal sterf. Dit wat uit die gees gebore is sal vir ewig leef."
Op 'n wintersoggend, 22 Desember 1899, het sy seun, Will, hom in sy kamer hoor praat. Hy het gesê: "Die aarde wyk en die hemel gaan voor my oop!"
Will het hom na sy vader se kamer gehaas. Moody het gesê: "Dis geen droom nie Will, dis pragtig. Dis soos 'n beswyming. As dit die dood is hierdie, is dit pragtig. God roep my en ek moet gaan. Moet my nie terugroep nie!" Toe het hy sy bewussyn verloos. Hy het nooit van pyn gekla nie, net vertel hoe wonderlik dit is voordat hy weggeraak het.
'n Geneesheer het 'n hele ruk met hom gespook en eindelik het Moody weer sy bewussyn herwin. Hy het vertel dat hy buitekant die wêreld was. "Ek was by die poorte van die hemel. Dit was so wonderlik. Ek het die kinders gesien." Toe daar aan hom gevra is wie hy gesien het, het hy gesê: "Ek het Irene en Dwight gesien."
Toe het hy besef dat sy einde naby is en gesê: "Ek sal probeer om so lank as moontlik te bly maar my tyd het gekom. Ek is gereed. As God wil, kan Hy 'n wonderwerk doen. Ek sal opstaan dokter. Ek kan mos net sowel in 'n stoel doodgaan as in 'n bed, nie waar nie?"
Moody het hierop die teken gekry dat hy die tydelike met die ewige moet verwissel. Daar is niks wat hom terughou nie, het hy beweer. Die strydwa was in die vertrek. Op hierdie manier het Dwight Moody eers oor die dood gedink, toe die dood tydelik ervaar om daarna terug te keer na die lewe nadat hy sy kinders en hemelse gesigte gesien het. Hy is eers hierna tevrede en vol afwagting dood.
'n Ander voorbeeld is dié van dr Carl Jung, die beroemde sielkundige. Hy het vertel hoe hy ná 'n hartaanval half bewusteloos was. Volgens sy beskrywing moes hy 'n kortstondige aanval van hartversaking beleef het. Nadat hy sy liggaam verlaat het, het hy gesien hoe hy in 'n helder blou lig van die aarde af wegsweef. Later het hy voor die deur van 'n tempel gestaan. Die deur was omring van vlamme.
Hy het geskryf: "Dit is onmoontlik om vir iemand te vertel hoe mooi en wonderlik 'n mens se emosies is as jy dié dinge beleef. Ek kan die ervaring net beskryf as 'n ekstase waarin die hede, verlede en toekoms een is."
Sommige van my eie pasiënte het 'n wonderlike vermoë om te onthou openbaar. Hulle kon die gebeurtenisse tydens die proses van ressitasie duidelik beskryf. Hulle kon duidelik onthou wat ons gedoen het, wat elkeen in die vertrek gesê het, selfs watter soort klere elkeen aangehad het. Verskeie ander gebeure wat gesien is, laat geen twyfel dat daar beslis 'n hele ruk buite die liggaam vertoef is nie. Sommige van hierdie pasiënte was 'n hele paar dae lank in 'n koma.
Een so 'n pasiënt was 'n verpleegster. Terwyl ek eendag by die hospitaal was, is ek gevra om haar te ondersoek omdat sy al geruime tyd oor pyne in die bors gekla het. Sy was nie in haar kamer nie. Haar kamermaat het gesê sy is dalk in die X-straaleenheid, of dalk in die badkamer. Ek het aan die badkamerdeur geklop. Omdat daar geen reaksie was nie, het ek die deur stadig oopgemaak. Ek wou nie graag iemand daar in die verleentheid stel nie.
Toe die deur oop was, het ek die verpleegster aan 'n haak agter die deur sien hang. Sy was maar 'n klein mensie, gevolglik het sy maklik saam met die deur geswaai toe ek dit oopgemaak het. Sy het aan die haak gehang met 'n apparaat wat ons vir verstuiting van die nek gebruik.
Blykbaar het sy die apparaat om haar nek vasgemaak, die rand daarvan toe oor die haak gegooi en haar knieë stadig begin buig totdat sy so ver afgesak het dat sy bewusteloos geraak het. Daar was geen versmoring of verwurging nie, sy het net eenvoudig langsaam haar bewussyn verloor. Hoe dieper sy in beswyming geraak het, hoe laer het sy afgesak en gevolglik natuurlik die apparaat al hoe stywer om haar nek laat span. Toe die dood intree, het haar gesig, tong en oë geswel. Haar gelaatskleur was donkerblou. Die res van haar liggaam was doodsbleek. Sy het reeds lank tevore ophou asemhaal.
Ek het haar vinnig afgetel en op die vloer neergelê. Haar oë was reeds gebreek. Daar was geen pols in haar nek nie en toe ek met my oor op haar bors luister, kon ek geen hartklop hoor nie. Ek het dadelik begin met uitwendige hartmassering terwyl haar kamermaat gehardloop het om hulp te gaan soek.
Kort voor lank kon ek die mond-tot-mond-asemhaling staak omdat 'n suurstofmasker gebruik kon word. Daar was net 'n neutrale lesing op die kardiogram. Elektriese skok sou nie help nie. Ek het herhaaldelik binne-aarse inspuitings toegedien. Ons het ook 'n drupstelsel gebruik om die bloeddruk aan te help en die skok teen te werk.
Hierna is die pasiënt na die eenheid vir intensiewe sorg geneem waar sy vier dae lank in 'n koma gelê het. Omdat haar oë reeds gebreek was, het ons geglo dat breinskade ingetree het weens ontoereikende bloedtoevoer. Verrassend genoeg het haar bloeddruk na 'n paar uur na normaal begin terugkeer. Haar urienafskeiding het ook toegeneem aangesien voldoende bloedsirkulasie ingetree het. Dit het egter 'n paar dae geneem voordat sy weer kon praat. Sy het uiteindelik heeltemal herstel en het 'n paar maande later weer begin werk.
Tot vandag glo sy nog sy was in een of ander motorongeluk waarin sy haar nek seergemaak het. Sy was dié dag toe sy by die hospitaal aangekom het, besonder depressief. Noudat sy herstel het, is daar geen tekens van depressie of selfmoordneidings nie. Blykbaar is sy van dié toestand genees in die tyd toe die brein geen bloedtoevoor gehad het nie.
Teen die tweede dag nadat sy uit die koma bygekom het, het ek haar gevra of sy hoegenaamd iets onthou. Haar antwoord was: "O, ek kan baie goed onthou dat u my gehelp het. U het u baadjie uitgetrek en dit op die grond neergegooi. Toe het u u das losgeknoop. Ek onthou dat u 'n das met bruin en wit strepe gedra het. Die verpleegster wat u kom help het, het so bekommerd gelyk. Ek het vir haar probeer sê dat daar geen rede tot kommer is nie. Ek het gehoor hoe u vir haar sê om sekere apparaat te bring en om voorbereidings te maak vir binne-aarse behandeling. Toe het twee mans met 'n draagbaar daar aangekom. Ek kan dit alles onthou."
Dink nou goed: sy was in 'n diep koma in daardie stadium en het vir die volgende vier dae in die koma gebly. Toe ek my baadjie uitgetrek het, was net sy en ek in die vertrek. En sy was klinies dood.
Sommige mense wat 'n kliniese dood oorleef, kan elke woord onthou wat in die vertrek gepraat is tydens die pogings om hulle by te bring. Miskien is dit so omdat die gehoor van die laaste sintuie is wat tot niet gaan in geval van dood, maar ek het geen sekerheid hieroor gehad nie.
'n Volgende pasiënt het my egter meer geleer: 'n 73-jarige man het my spreekkamer besoek en gekla van 'n vreeslike pyn in die bors. Hy het sy bors vasgehou terwyl hy aangestap het na my kantoor toe. In die gang het hy neergeslaan. Hy het sy kop teen die muur gestamp tydens die val. Hy het een of twee keer nog roggelend asemgehaal en toe was daar geen asemhaling meer nie. Sy hart het reeds gaan staan.
Ons het sy hemp opgetrek en na die hartklop probeer luister net om seker te maak. Toe het ons kunsmatige asemhaling toegepas en die hart kunsmatig aan die klop probeer kry. Die elektrokardiogram is aangeheg en het getoon dat daar kardiale fibrillasie was. Elke keer as ons elektriese skok toegepas het, het die pasiënt se liggaam 'n reaksie getoon. Dan het hy begin opstaan, ons eenkant toe probeer stamp, half regop gekom en weer skielik inmekaar gesak. So het dit ses keer gebeur, en met elke valslag weer sy kop teen die muur gestamp.
Snaaks genoeg, ná die sesde keer, nadat verskeie binne-aarse inspuitings toegedien is, het die skokbehandeling gehelp en het sy pols weer begin klop, die bloeddruk het verbeter en die pasiënt het sy bewussyn herwin. Vandag leef hy nog. Hy is ná die voorval weer getroud. Van die ses keer onthou hy een ding duidelik: dat ek aan die dokter wat my gehelp het, gesê het: "Ons probeer nog een keer. As die skokbehandeling nie hierdie keer help nie, gooi ons handdoek in."
Ek wens ek het dit nie gesê nie want hy het my hard en duidelik gehoor al was hy diep bewusteloos. Hy het my daarna gevra: "Wat het jy bedoel met 'handdoek ingooi'? Dit was met mý wat julle daar gewerk het!"
Aangename ervarings toon dikwels 'n groot verskeidenheid besonderhede. Volgende keer 'n verslag van 'n jong dame wat haarself sien sterf het. Sy het gesien hoe sy die toneel verlaat, maar sy het die reis deur die tonnel nie kon voltooi nie...
Vervolg...