KINDERS IN DIE BYBEL (1)

KAIN EN ABEL

Ds. Tjaart Kruger

Lees reeks by Kinders in die Bybel

KAIN

HY is die eerste kind wat op hierdie aarde gebore word. Sy naam beteken eintlik "aanwins” of "besit”.

Toe Kain gebore is, moes sy ouers Adam en Eva seker nog met groot verlange en droefheid teruggedink het aan die paradys wat hulle deur hulle moedswillige ongehoorsaamheid verloor het. Hulle moes seker ook daaraan gedink het hoe lekker en aangenaam elke dag in die paradys was. En hulle moes hulleself seker dag na dag verwyt het omdat hulle na die leuens van die duiwel geluister het. Elke dag in die paradys was ’n wonderskone dag sonder enige moeite en verdriet en enige bekommernis.

Toe hulle uit die paradys verdryf is, het die Here aan hulle beloof dat Hy iemand sal gee wat die paradys weer aan hulle sou teruggee. Hierdie gedagte het by hulle bly vassteek en hulle het gedurig daaraan gedink. Heelwaarskynlik het hulle gehoop dat dit ook binnekort sou gebeur.

Toe Kain dus gebore is, moes sy moeder dadelik daaraan gedink het.

Hier is nou die beloofde verlosser wat die kop van die slang sal vermorsel en die duiwel sal terugbetaal vir al sy leuens waarmee hy hulle in die versoeking gelei het. Hy is die een wat die Here aan ons beloof het.

Maar uit die latere geskiedenis van Kain en by die geboorte van Abel sien ons dat Eva agtergekom het dat sy heeltemal verkeerd was in haar verwagtings.

Kain was nie die kind wat die verlosser sou wees en hulle lewe weer sou maak soos dit voor die sondeval was nie. Kain is beslis nie die soort kind wat sy verwag het dat hy sal wees nie.

Uit die latere geskiedenis van Kain en Abel sien ons dat Kain ’n baie selfsugtige kind was. Hy het nie veel vir sy ouers en sy broers en ook vir die Here omgegee nie. Hy het altyd net sy eie belange en voordeel gesoek. Solank hy net altyd die beste daaraan toe was, was Kain ’n gelukkige kind. Toe hy merk dat Abel se offer aangeneem was en syne deur God verwerp was, was hy afgunstig en jaloers op Abel. En by dit alles was hy nukkerig want ons hoor hoe die Here aan horn sê, "Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?”

Nou sien ons ook waartoe afguns en jaloesie ’n mens kan dryf. Kain is so nukkerig dat hy uit afguns en jaloesie selfs sover gaan om sy broer Abel dood te slaan. So word hy die eerste moordenaar op aarde.

Nukkerigheid, jaloesie en afguns is seker van die gruwelikste sondes wat daar kan wees. Dit maak van ’n mooi kind ’n lelike kind. ’n Mooi geboude kind met ’n mooi gesig kan sy mooi voorkoms bederf deur ’n lelike geaardheid. Kain se lelike geaardheid het sy hele voorkoms bederf. Dit is dan ook geen wonder dat sy ouers teleurgesteld was in hom nie.

Want ’n jaloerse en afgunstige persoon gun aan sy medemens niks. ’n Jaloerse en afgunstige persoon is nie bly oor sy medemens se sukses en sy voorspoed nie. Hy is nukkerig en onvergenoegd daaroor. Hy wonder hoekom ander mense dit kry en hy nie.

Daarom is dit goed dat ons altyd die ontleedmes op onsself sal gebruik. Reeds van jongs af moet ons leer om onsself en ons eie karaktertrekke te ondersoek en te kyk tot watter mate dit ’n ontsiering vir ons persoonlikheid is. En dan moet daar die vaste voorneme wees om dit deur die genade van die Here te probeer verbeter.

Behalwe sy jaloesie, sy afguns en sy nukkerigheid is daar nog ’n karaktertrek wat uit Kain se lewe na vore kom. Dit is die feit dat hy nie veel vir die Here omgegee het nie. Kain se hart het nie juis gebrand van liefde vir die Here nie. 0 ja, hy wou baie graag hê dat die Here hom moes seën en aan hom voorspoed en sukses moes gee. Hy wou baie graag baie dinge van die Here hê. Inteendeel, hy het alles van die Here verwag, maar hy was nie bereid om iets aan Hom terug te gee nie. Kain was dus nie net selfsugtig, afgunstig en nukkerig nie, maar hy was ook ’n ondankbare kind.

Want as ’n mens die Here waarlik lief het, sal jy nooit vra: "Wat kan God aan my gee?” nie. Baie mense en kinders neem die woorde van Christus waar Hy sê dat wat ons ook al van die Vader in sy Naam vra, sal Hy aan ons gee, verkeerd op. Hulle meen dat Christus hiermee bedoel dat ons dan maar vir enigiets kan bid. En dan word daar gewoonlik gebid vir sukses, voorspoed en rykdom. Maar dit is nie wat Christus bedoel nie. Ons moet van die Here die dinge vra wat ons nodig het om in sy diens te gebruik.

As ons die Here waarlik liefhet, sal ons bereid wees om alles aan Hom te gee. Ons sal bereid wees om ons tyd en ons geld aan die Here te offer. Die Here gee so baie aan ons. Hy gee aan ons kleding, gesondheid, lewenskrag en nog so baie ander dinge. En dan is ons so geneig om al die dinge maar as vanselfsprekend aan te neem.

Swak katkisasiebesoek en swak kerkbesoek is ’n bewys van ’n gebrek aan liefde vir God.

Kain was ’n nare kind. Die karaktereienskappe wat jy as grootmens openbaar was reeds by jou as kind aanwesig. Slegte gewoontes word nie maklik afgeleer nie. Tensy jy God bid en krag en genade vra om daarteen te stry en dit te oorwin. Deur die genade van Jesus Christus kan jy dit oorwin.

Wat die Here aan Adam en Eva gesê het van die Verlosser wat sou kom, het hulle seker ook aan Kain meegedeel. Dat Kain nie veel hiervan geglo het nie sê Hebreers 11 :4 aan ons. Kain se hart was nie reg nie.

Ons moet alles glo wat God aan ons beloof het al lyk dit soms vir ons so onmoontlik en so ver weg. Ons mag nie twyfel nie.

ABEL

DIE naam Abel beteken "ydelheid”. Hoekom Adam en Eva hierdie kind van hulle so genoem het, kan ons nie met absolute sekerheid vasstel nie.

Dit kon miskien gewees het omdat hulle met Kain teleurgesteld was. Miskien het hulle Kain se jaloerse en afgunstige geaardheid opgemerk. Miskien het hulle opgemerk dat hy nie so ’n Godvresende kind is as wat hulle gedink het nie en dat hy ook nie veel vir God en sy diens omgegee het nie. Maar in die naam Abel sien ons dat hulle teleurgesteld was omdat Kain nie die beloofde Verlosser was soos hulle gedink het nie. Dalk het hulle gedink dat God sy beloftes aan hulle vergeet het.

Abel was in sy geaardheid weer net die teenoorgestelde van Kain. Waar Kain nie so ’n wonderlike gelowige was nie, noem Christus vir Abel regverdig (Matt. 23 :35). Ook die skrywer van die brief aan die Hebreërs noem hom so (Hebr. 11 :4).

Wat beteken dit nou as die Here vir Abel regverdig noem? Wat is ’n regverdige mens?

’n Regverdige mens is iemand in wie daar nie onreg is nie. Hy is nie iemand wat leuens vertel nie. Hy is nie ’n grootprater of iemand wat beloftes maak wat hy nooit van plan is om na te kom nie. Hy is iemand wat die Here liefhet en wat in sy swakheid probeer doen wat die Here van hom vra en eis. Hy vrees die Here en wat die Here beloof het, aanvaar en glo hy sonder enige voorwaardes.

Waar Kain selfsugtig was en alles net in sy eie belang gedoen het, was Abel onselfsugtig. Ons sien dit uit die offers wat hy en Kain aan die Here bring toe hulle grootmense was. Abel was ’n veeboer. Hy het met skape en bokke geboer en miskien het hy nog ander vee ook gehad. Toe hulle gaan offer, bring Abel van die eersgeborenes van sy vee.

Nou sal iemand dadelik vra: "Maar wat het hierdie hele offerbesigheid te doen met Abel se onselfsugtigheid toe hy nog ’n kind was?”

As jy ’n veeboer was, was jou vee van jou kosbaarste besittings. Maar die eersgeborenes van jou kleinvee en hulle vet was baie kosbaar. Die van julle wat op plase grootword, sal weet dat dit vandag nog so is. ’n Maer dier wat net vel en ribbes is, is nie veel werd nie. So ’n dier behaal dan ook ’n baie swak prys op die mark. Mense koop nie graag ’n maer dier nie. Maar ’n vet dier is baie meer werd. As ’n dier in ’n baie goeie toestand is, behaal dit ’n goeie prys. So ’n dier is vir ’n boer baie werd en daar is min mense wat hulle vetste diere vir die kerk en dus vir die Here sal gee.

Maar Abel doen dit. Hy weet dat wat hy aan die Here gee God weer aan hom sal teruggee. Daardie geld wat ’n mens vir ’n vet bees of skaap kry en wat jy aan die Here gee, sal nie jou beursie leër maak nie. God sal sorg dat dit weer in jou beursie teruggeplaas word. Gaan vra maar aan die mense wat werklik aan God gee. Abel doen dit omdat hy dankbaar en onselfsugtig is en omdat hy die Here liefhet.

As ’n mens die Here liefhet, vra jy nie eers wat jou offerande jou gaan kos nie. En as dit dan vir jou te duur lyk, gee jy maar iets anders wat vir jou nie so duur sal uitkom nie. Aan die Here gee ’n mens altyd die beste wat jy het. Lees maar gerus die boek Maleagi en kyk hoe die Here aan Israel sê dat hulle Hom beroof. Hulle offer aan die Here die slegste en die swakste wat hulle het.

Maar die gesindheid van Abel se hart is ’n gesindheid van liefde. Hy wil nie aan die Here ’n diens bewys nie. Hy offer ook nie aan die Here omdat hy voel dat dit sy plig is nie en dat hy darem so af en toe iets aan die Here moet gee nie. Hy doen dit ook nie omdat hy graag van die Here iets wil terug ontvang nie. Hy doen dit uit pure liefde vir die Here.

Daar is baie kinders wat maar net katkisasie of kerk toe kom omdat pa en ma dit so wil hê of omdat die ouderling of dominee met hulle sal kom praat as hulle wegbly. Daarom kom hulle sporadies of so af en toe. Of hulle doen dit omdat hulle darem nog bang is dat die Here hulle sal straf as hulle wegbly. Maar van liefde weet hulle nie.

Abel se hart het gebrand van liefde vir die Here. Hy was ’n onselfsugtige kind.

Die Bybel vertel aan ons egter ook iets anders van Abel. Dit sê aan ons dat Abel ook ’n gelowige kind was (Hebr. 11:4).

Abel het voldoen aan die definisie van die geloof soos die Bybel dit aan ons gee in Hebr. 11 :1. Hy het geglo dat God alles geskape het. Verder het sy ouers seker ook aan hom vertel van die belofte wat die Here gemaak het, dat daar ’n Verlosser sal kom wat die paradys weer aan hulle sal teruggee. Dalk het hulle dan gesug en gesê dat dit nie lyk asof die Here sy beloftes gaan nakom nie.

Maar Abel het dit geglo. Hy het nooit daaraan getwyfel nie. Hy het vas en seker geglo dat as die Here ’n belofte maak Hy daardie belofte sal nakom. Hy het geweet dat die Here nie soos party mense is wat beloftes maak (en dit nooit nakom nie, veral mense wat beloftes aan die Here maak. Daar is soveel jong seuns en dogters wat belydenis van geloof aflê en aan die Here beloof om getrou en ywerig kerk toe te kom. Sodra hulle egter uit die kerk kom nadat hulle die belofte gemaak het, het hulle weer heeltemal daarvan vergeet. Hulle het vir God ’n leuen vertel.

Abel het geglo en in die geloof geoffer. Al hierdie dinge het hy gedoen toe hy reeds ’n groot mens was. Maar ons kan aanvaar dat hierdie eienskappe reeds by Abel as kind aanwesig was. Dit is juis hierdie eienskappe wat Abel onderskei het van Kain en as gevolg waarvan die Bybel hom regverdig noem.

Wat God van ons verwag, is dat ons Hom sal liefhê. Want Hy het ons eerste liefgehad. As jy iemand liefhet, vra jy nooit wat hy aan jou sal gee, of wat hy aan jou kan gee nie. Dit is selfsugtigheid. Maar jy vra altyd wat jy aan hom of haar kan gee. Dit is ware liefde en offerande. Die ware liefde soek nooit jouself en jou eie belange nie maar dit soek altyd die ander persoon se belange.

As ons God werklik liefhet, sal ons nooit ons eie belange soek nie maar altyd die belange van die Here.

Waarin moet ons liefde vir die Here dan tot uiting kom?

In ons katkisasiebesoek, ons kerkbesoek, ons lewe as kinders van die Here. Die wêreld moet kan sien ons is kinders van die Here. Ons is Christus se eiendom. Hy het baie duur vir ons met sy bloed betaal. Daarom moet ons Hom liefhê en sy belange bo ons eie belange stel.