KINDERS IN DIE BYBEL (3)

ISAK

Ds. Tjaart Kruger

Lees reeks by Kinders in die Bybel

Ongeveer ’n jaar ná die verwoesting van Sodom en Gomorra het die blye oomblik vir Abraham en Sara aangebreek toe daar ’n seuntjie vir hulle gebore is.  Sy naam, Isak, beteken: "hy wat lag.” Die Here het natuurlik aan Abraham die opdrag gegee om die seuntjie so te noem (Gen. 17 :19). Die rede hiervoor was dat Sara ’n jaar voor die geboorte van Isak nie die Here wou glo toe Hy aan haar gesê het dat sy oor ’n jaar ’n kind sal hê nie. Sy het gelag toe die boodskap aan haar gegee is. Daarom moes die naam Isak haar altyd aan die feit herinner en aan haar ongelowigheid. Dat Sara nie omgegee het om die kindjie so te noem nie blyk uit die feit dat toe Isak gebore is, sy gesê het dat God vir haar ’n gelag berei het.

Abraham en Sara was natuurlik al baie oud toe Isak gebore is. Abraham was toe reeds honderd jaar oud en Sara negentig. Hulle moes dus baie lank wag op ’n kindjie en hulle het al alle hoop opgegee. Die Here wil ons hierdeur laat sien dat Hy sy beloftes sekerlik vervul al lyk dit ook hoe onmoontlik.

Wanneer ’n kind in daardie tyd ongeveer twee of drie jaar oud was, is hy gespeen. Dit dui op die feit dat daar beskou is dat so ’n kind nou selfstandig begin word. Teen daardie tyd was Isak se halfbroer, Ismael, ongeveer 17 jaar oud. Abraham berei ’n fees vir hierdie geleentheid en Ismael neem ook deel aan die fees. Hy bespot Isak. Hoe hy dit presies gedoen het, kan elkeen van ons seker raai. ’n Kind kan soms wreed spot. Die gevolg hiervan is dat hy en sy moeder Hagar op aandrang van Sara deur Abraham weggejaag word.

Op ’n dag kom die Here na Abraham en beveel hom om Isak, die enigste wat hy liefhet, te gaan offer op die berg Moria. Ons kan begryp dat dit natuurlik vir Abraham ’n groot skok was en dat daar deur sy gemoed baie dinge gegaan het. Abraham het nie aan Isak vertel dat hulle hom gaan offer nie.

Isak en sy vader trek drie dae lank na die berg Moria. Toe hulle daar kom, bestyg hy en sy vader alleen die berg. Abraham dra die vuur en die mes en Isak die brandhout waarop hy straks vasgebind sal word. Reeds hier is Isak ’n beeld van Christus wat sy offerhout, die kruis van Golgota, alleen moes dra. ’n Mens wonder soms wat is die doel van jou lewe. Hier sien ons duidelik dat ons lewens in diens van God staan en dat Hy ons lewens gebruik om sy Naam daarmee te te verheerlik.

Hierdie brandhout kon Isak ook dra want hy was teen hierdie tyd seker ook al ’n groot seun. Stilswyend beklim hulle die berg. Isak se gedagtes konsentreer net op een ding en dit is die offerdier. Elke keer wanneer hulle gaan offer het, is daar ’n offerdier saamgeneem. Maar hierdie keer is dit anders. Hy het gewonder hoekom dit so is. Eindelik kan hy homself nie meer inhou nie en vra hy aan sy vader die vraag wat in sy gedagtes bly maal. Dit moes seker ’n vraag gewees het wat Abraham tot in die diepte van sy hart gesny het. Hy kan nog nie aan sy seun sê dat hý die brandoffer is nie, maar hy berei Isak tog daarop voor deur aan hom te sê dat God vir Homself die lam vir ’n brandoffer sal voorsien.

Toe hulle op die berg kom, het Abraham ’n altaar daar gebou en die brandhout daarop neergele. Hy het nou besef dat hy nie langer die waarheid van Isak kon weghou nie. Hoe hy dit gedoen het, vertel die Bybel nie aan ons nie. Ons kan ons seker maar voorstel dat hy met trane aan Isak sou gesê het wat die Here van hom verwag en dat hy Isak sou omhels het en teen hom vasgedruk het.

Wat het Isak toe gedoen! Het hy gillend van angs die berg afgestorm en probeer weghardloop? Het hy dalk geskree dat hy nie nou al wil doodgaan nie en dat hy darem nog eers sy lewe wil geniet? Die Bybel vertel nie aan ons wat daar gebeur het nie. Maar uit wat volg, kan ’n mens wel sekere afleidings maak. Abraham sou tog sekerlik aan Isak gesê het dat dit die wil van God is en ’n opdrag van God is dat hy homself laat bind. Juis daarom vlug Isak nie met vrees en angs weg van sy vader nie.

Isak is ’n gelowige seun. Hy glo in God en weet dat wat God doen, reg is. Hy weet dat die dood nie die einde van alles is nie maar dat daar ná die dood vir hom ’n ryker en ’n heerliker lewe wag. Daarom is hy bereid om die hoogste offer wat God van ’n mens kan vra, te bring. Hy is bereid om sy lewe letterlik op die altaar neer te lê. Wat in daardie momente deur sy gedagtes gegaan het, weet ons nie en dit is ook nie nodig dat ons dit weet nie. Al wat ons hier nodig het, is die voorbeeld van gehoorsaamheid wat Isak stel teenoor sy vader en teenoor God se eis. Wat God van ons eis, moet ons doen al is dit ook die hoogste offer wat ons moet bring. Ons hele lewe moet ’n lewende dankoffer in diens van God wees.

Hier is Isak ook weer ’n beeld van Christus wat Hom soos ’n skaap gewillig oorgee in die hande van sy slagters sonder om teen te stribbel.

Maar nou is dit ook genoeg. God het Abraham beproef maar ook vir Isak. Daarom laat die Here Abraham nie toe om Isak dood te maak nie. God voorsien ’n ram wat Abraham in die plek van Isak moet slag. Hoe Isak hieroor gevoel het, weet ons nie. Heel waarskynlik was hy verlig en het hy en Abraham daar saam op hulle knieë neergeval en God geloof en gedank.

Hierdie ram wat in die plek van Isak geoffer word, is ook beeld van Christus. Die offer van Isak en enige menslike offerande kan nie betaal vir die skuld van die sonde nie.

Slegs die bloed van Jesus Christus kan betaal. Dit is wat hierdie offerande van Isak aan ons wil sê.