REHABEAM
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
REHABEAM was ’n regte rykmanskind. Sy vader Salomo was seker een van die rykste mense van sy tyd. Rehabeam het dus in weelde groot geword en hy kon dus alles kry wat sy hart begeer.
Die Here waarsku telkens in die Bybel teen te veel geld omdat te veel geld een van die struikelblokke in jou weg kan wees om die koninkryk van God te beêrwe. Verder kan rykdom en weelde ook veroorsaak dat die Here hier op aarde nie deur jou geëer word soos wat Hy dit in sy Woord vereis nie.
Dit wil natuurlik nie sê dat rykdom ’n sonde is en dat die gelowige in armoede moet leef nie. Ons lees van heelparty persone in die Bybel wat ryk was soos Abraham en Job. Ons hoor ook in die Nuwe Testament van persone wat baie ryk was. Maar die groot gevaar van rykdom is dat dit tussen jou en God kan staan.
Jy kan jou rykdom liewer hê as vir die Here. Dit kan vir jou ’n versperring word op die pad na die hemel soos wat dit die geval met die ryk jongman in die Nuwe Testament was.Dit is nie altyd so dat rykdom die saak van die Here kan bevorder nie. In Rehabeam se geval het dit ook so gebeur.
Behalwe die feit dat Rehabeam alles kon kry wat sy hart begeer het, het daar baie aan sy opvoeding kortgekom, veral die godsdienstige aspek. Hierdie swak opvoeding wat Rehabeam gekry het, het alreeds by sy grootvader Dawid begin. Dawid was so ’n besige man dat hy nie baie tyd aan die opvoeding van sy kinders kon bestee nie. Die gevolg was dat party van sy kinders klaaglike mislukkings was.
Rehabeam se opvoeding was tot ’n groot mate seker ook aan sy moeder oorgelaat veral toe hy nog klein was. En sy was nie ’n Israelitiese vrou nie. Van die Here, die God van Israel, het sy nie veel geweet nie. Daarom kan ons aanvaar dat Rehabeam se opvoeding nie juis godsdienstig was nie.
Of sy vader Salomo hom op die gevare van die hoflewe gewys het weet ons nie. As hy dit wel gedoen het, het hy dit alles weer bederf deur sy latere optrede toe hy van die Here weggedwaal het. Hy het alles bederf deur die voorbeeld wat hy aan sy seun Rehabeam gestel het.
Die groot katastrofe in Rehabeam se lewe het gekom toe hy ’n jong man was. Hy was verantwoordelik vir die finale skeuring van die ryk van Israel in twee afsonderlike koninkryke. En dit kan tot ’n sekere mate ook aan sy opvoeding en die weelderige lewe waaraan hy gewoond was, toegeskryf word. Hy was slim genoeg om te weet dat as hy na die oudstes se raad luister en aan die volk belastingverligting gee, hy sy lewenstandaard sou moes verlaag. Hy sou die gordel ’n bietjie stywer moes trek en van sy weelderige lewe waaraan hy gewoond was, moes afsien.
Ons kan natuurlik sê dat die Here in die Bybel aan ons meedeel dat Hy die skeuring van die ryk lankal so bepaal het. Maar ons moet altyd onthou dat die Here die mens geskape het as iemand met verantwoordelikheid. Hy is nie maar soos ’n skaakpion wat God na hartelus rondskuif nie. Die mens is nie maar soos ’n stuk speelgoed in die hande van die Here wat Hy plaas waar Hy hom wil hê nie. God het aan die mens vryheid gegee. Daarom kan ons nie alle verantwoordelikheid vir die skeuring van die ryk van Rehabeam se skouers gaan afskuif nie.
Want ons lees ook in die Bybel van God se berou. Die bekendste voorbeeld is die geval van Jona wat God na Ninevè stuur. Jona moes aan hulle God se Woord gaan verkondig. Die boodskap van God wat Jona aan hulle moes gaan meedeel was: Bekering of vernietiging. Toe hulle hul bekeer, lees ons dat die Here berou gehad het oor wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen.
Hierdie berou van God waarvan die Bybel praat, is nie dieselfde as die berou van die mens nie. Dit is nie die soort van berou wat Dawid of Petrus gehad het nie. Wat dit eintlik beteken, is dat daar by God ’n verandering van gesindheid teenoor die mens intree as daar by die mens ’n verandering van gesindheid kom. As die mens sy lewe verander.
Alhoewel die Here dit baie duidelik aan ons in die Bybel stel dat Hy dit so beskik het dat die ryk sou skeur, is dit tog opmerklik dat God Rehabeam voor ’n keuse stel. Hy kon die raad van die oudstes aanvaar of hy kon dit verwerp.
Die vraag wat ontstaan, is hoekom die Here Rehabeam dan eers voor ’n keuse stel? Indien die Here wou hê dat die ryk absoluut moes skeur, kon Hy dit tog gedoen het sonder om die raad van die oudstes aan Rehabeam na vore te laat kom.
Dit is ook so opmerklik in die Bybel dat God die mens se verantwoordelikheid nooit van hom wegneem nie. God stel die mens telkens voor ’n keuse. Hy het dit met Adam en Eva gedoen. Hy het dit met Abraham gedoen toe Hy van hom geëis het om Isak te gaan offer. Hy doen dit met elke gebod van die Tien Gebooie. Jy kan of jy kan nie. Natuurlik moet ons hier nie die uitverkiesing en verwerping uit die oog verloor nie.
Maar waar dit op aankom, is dat ons God nie verantwoordelik kan hou vir alles wat op hierdie aarde verkeerd gaan nie. Ons kan nie God verantwoordelik gaan hou vir die sonde nie. Net so min kan ons God verantwoordelik gaan hou vir die skeuring van die ryk van Israel in twee. God neem nie Rehabeam se verantwoordelikheid van hom weg nie. God gee aan hom nog die geleentheid om te kan red.
Rehabeam moes dus volle verantwoordelikheid vir die skeuring van die ryk aanvaar. Sy rykmansopvoeding en die feit dat hy nie bereid was om sy lewenstandaard te verlaag nie was dan ook gedeeltelik hiervoor verantwoordelik.
Vandag nog kom die Here en Hy stel ons voor keuses. Ook vir ons as klein kinders. Vír Christus of téén Christus. Daar is nie ’n goue middeweg nie. Deur sy Heilige Gees lei God sy kinders daartoe. Maar die verkeerde opvoeding kan ons as kinders ook daartoe lei dat ons weg van God beweeg. Dit kan baie gebeur as kinders net kry wat hulle wil hê. Hope sakgeld maar geen liefde nie en ’n swak en verkeerde opvoeding. Dit kan selfs daartoe lei dat die geskiedenis van ’n volk in ’n katastrofe kan verander.
Ons moet steeds ons verantwoordelikheid teenoor God besef. Waar ons ookal is. Christus het reeds vir ons verantwoording aan die kruis gedoen. Ons verantwoordelikheid het Hy op Hom geneem en as ons om vergewing pleit deur sy bloed, wil God ons aansien asof ons net so verantwoordelik is as Hy.