KINDERS IN DIE BYBEL (9)

DIE DOGTERTJIE BY NAÁMAN

Ds. Tjaart Kruger

Lees reeks by Kinders in die Bybel

Ons lees van haar in II Konings 5. Wat haar naam was, weet ons nie en ons weet ook nie presies hoe oud sy was nie.

Al wat ons weet, is dat die Arameërs strooptogte in die land van Israel uitgevoer het en toe die dogtertjie as ’n gevangene weggevoer het. Blykbaar het dit daardie tyd ook maar gegaan soos dit vandag die geval is. Terroristebendes kom oor die grens en voer van die bevolking weg.

Hierdie mense wat weggevoer is, is dan op die slawemark te Damaskus verkoop. Heelwaarskynlik was die hoof van Naáman se huishouding ook die dag op die mark. Toe koop hy die dogtertjie om in Naáman se huis te gaan werk in diens van sy vrou.

Is dit blote toeval dat sy in die huis van Naáman beland het en verantwoordelik was vir die verdere gebeure met Naáman? Net as jy dit bloot uit ’n menslike oogpunt beskou. As jy nie glo dat die Here die geskiedenis en die verloop van dinge beheer en ook mense in sy diens gebruik nie.

Die Here het hierdie dogtertjie in sy diens nodig gehad en daarom het Hy haar in Naáman se huis geplaas.

Naáman was ’n belangrike persoon. Hy was hoof van die Aramese leer — die kommandant-generaal. Maar generaal Naáman het ’n ernstige probleem gehad. Hy het aan een van die ergste siektes van daardie tyd gely: melaatsheid. Daarvoor was in daardie tyd geen genesing moontlik nie. Elke melaatse het geweet dat hy een of ander tyd aan hierdie vreeslike siekte sal moet sterf.

In hierdie vername huis in Damaskus leef alles onder druk. Die aaklige siekte van Naáman plaas die hele gesin en ook die slawe in die huishouding in ’n gedempte stemming. Dit is asof die dood sy intrek in hierdie huis kom neem het.

Maar in die huis was daar ook een wat geweet het dat daar oorwinning oor siekte en dood kan wees. Sy sou dit heel waarskynlik nie geweet het op die manier soos ons dit hier stel nie. Sy het egter geweet van die profeet in Samaria wat kon genees.

Behalwe dit het sy ook iets anders gehad wat Naáman nie gehad het nie.

Uit haar hele optrede is dit duidelik dat daar by haar geen wrok teenoor Naáman en die Arameërs is nie.

Sy kon baie maklik gesê het:  "Laat hom doodgaan. Hy is die vyand van my volk.”

Daar kon ook by haar haat gewees het teenoor hierdie man en sy volk.

Sy was dan nog maar so klein. Sy was ver van haar ouerhuis en van haar volk. In haar kleinheid het sy seker ook verlang na haar pappie en mammie, boeties en sussies. Dalk het sy baie nagte met traanbenatte oë gaan slaap met die wete dat sy haar ouers nooit weer sal sien nie.

Op haar ouderdom werk ’n kind nog nie veel nie. Dan is die lewe mooi. Daar is nie so iets soos bekommernis nie. Die dae word met speel deurgebring.

Maar hierdie dogtertjie moes al op ’n baie vroeë leeftyd ophou om te doen wat kinders op haar leeftyd doen. In plaas van om te speel, moes sy werk. In die huis van Naáman was daar nie geleentheid om met poppe te speel nie. In haar kinderlike eenvoud kon sy dalk hierteen in opstand gekom het.

Inteendeel, in die enkele woorde wat sy praat in die Bybel, kom haar kinderlike opgewektheid en geloof te voorskyn. Want sy het geweet van die wonderlike profeet in Samaria.

Hoe het sy van Elisa geweet?

Baie maklik. Wanneer iemand wondertekens doen, kom hy baie gou onder die aandag van ander mense. Haar ouers sou tog sekerlik oor hom gepraat het. As gelowige Israeliete sou hulle seker gesê het dat Elisa die wondertekens nie uit eie krag doen nie. Dit is die God van Israel wat in hom werk en hom dit laat doen.

Hierdie dogtertjie het ’n groot vertroue in Elisa. In haar vertroue op die profeet kom egter ook haar vertroue in die Here, die God van Israel na vore. As sy sê dat Naaman maar net by die profeet in Samaria moet wees, bedoel sy daarmee dat die Here hom deur Elisa sal genees.

Dit is Evangelieverkondiging, die blye boodskap dat daar by die Here genesing moontlik is. Sy profeteer van Christus wat eeue later sal kom om alle smarte te genees. Hierdie dogtertjie is ’n sendeling wat aan ander vertel van die Here.

Sy kon natuurlik hierdie kennis van haar gebruik het om Naáman af te pers. "Neem my terug na my ouers en my land en ek sal aan u vertel hoe u gesond kan word.”

Dit doen sy nie. Ons lees ook niks verder omtrent haar in die Bybel nie. Miskien het sy vir die res van haar lewe ’n slavin gebly.

Dit lyk na ’n tragiese verhaal en ’n mens se hart word week as jy aan hierdie arme ou dogtertjie dink.

Maar is dit werklik so ’n tragiese verhaal?

Miskien as jy nie met die Here rekening hou nie. Maar as jy God en sy manier van werk voor oë hou, begin dinge vir jou ’n ander perspektief kry. Want die Here doen dinge op ’n heeltemal ander wyse as wat ons sondige mense dit sou doen. Dit is omdat ons medewerkers van Christus is.

Hierdie onbekende dogtertjie was ’n belangrike skakel in God se raadsplan.

Deur haar wil die Here aan die heidene toon dat Hy magtiger as hulle afgode is. Naáman het dit later ook erken.

Daarom moet ’n mens jouself nie bejammer as jy eensaam en alleen ver weg van jou ouerhuis is nie. Om jou eensaamheid te vergeet, kan jy maklik die plesierplekke gaan opsoek en so van die Here vergeet. Of die Here kan jou aan ’n rystoel of op ’n siekbed vaskluister. Daar is so baie ander plekke en situasies waarin jy kan beland.

Dan kan jy begin wonder wat die doel van alles is. Hoekom? Waarom? Die antwoord is dat jy ’n medewerker van Christus is en dat die Here jou juis daar plaas omdat Hy jou daar die beste kan gebruik. Daar kan jy die beste getuig vir die Naam en die eer van Jesus Christus.

Daarvoor wil die Here ook kinders soos julle gebruik.