DAWID
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
AS Dawid in een van vandag se hoërskole was, sou hy seker hoofseun wees. Want hy het as kind al die kwaliteite gehad wat ’n hoofseun nodig het.
Dawid was ’n mooi seun. Die Bybel sê aan ons dat hy rooierig in sy gesig was. Hy het ’n mooi blakende gesonde gelaatskleur gehad. Verder het hy mooi oë gehad en sy algemene voorkoms het sommer ’n mooi en aangename indruk gemaak. Hierdie mooi voorkoms sê nie alleen aan ons dat hy mooi en atleties gebou was nie maar ook dat hy ’n aangename en aantreklike geaardheid gehad het.
’n Dogter en ook ’n seun kan mooi wees, maar ’n onaangename, lelike geaardheid soos baasspelerigheid, hoogmoed en verwaandheid maak van so ’n kind ’n lelike kind hoe mooi sy uiterlike ook mag wees. Aan die anderkant maak ’n mooi, nederige, hulpvaardige geaardheid selfs van ’n dogter of seun wat nie met te veel uiterlike skoonheid bedeel is nie tog ’n mooi kind. Dit is dan ook die kwaliteite wat Paulus later in sy brief aan die Galasiërs noem wat by die Christen aanwesig moet wees (Gal. 5 : 22).
Want die Adonisse en die Venusse van hierdie wêreld mag mense miskien met bewondering vervul, maar dit is daardie mense met hulle vriendelike aangename geaardhede wat ’n blywende indruk maak.
Dawid was natuurlik ook ’n intelligente seun met ’n slim verstand. As dit nie die geval was nie sou hy later tog ook nie koning van Israel kon wees nie. Hy was in alle opsigte ’n leiersfiguur. Natuurlik het hy alles wat hy gehad het van die Here ontvang. Dit was God wat aan hom daardie goeie verstand gegee het.
Elkeen van ons het natuurlik nie eweveel verstand ontvang nie. Party het baie ontvang. Hulle is slim en hulle leer maklik. Ander het weer minder ontvang en leer moeiliker. Maar God verwag dat ons dit wat ons van Hom ontvang het in sy diens sal gebruik. Ons moet die talente wat die Here aan ons gegee het gebruik en daarmee woeker en werk.
Maar dit help nie net dat jy ’n slim verstand van die Here gekry het en dit nie ook in God se diens gebruik nie. Dawid het reeds as kind een kwaliteit gehad wat bo al sy ander kwaliteite uitgestaan het en wat hom dan ook tussen die mense van sy tyd as ’n besondere mens laat uitstaan het. Dit het van Dawid ’n rotsman gemaak, iemand wat in moeilike tye wanneer daar gewanhoop en getwyfel word, leiding kon gee. Daardie kwaliteit was sy geloof. Hoe pragtig kom sy geloof dan ook nie in sy Psalms wat hy gedig het uit nie.
Sy geloof in God was so sterk dat hy ’n leeu en ’n beer aangedurf het wat die kleinvee van sy vader aangeval het. Sy geloof was so sterk dat hy die Filistyn Goliat wat God gevloek het, aangeval het en op sy plek gesit het. Dawid was ’n dapper seun want hy het geglo dat God hom sal help. Dit maak nie saak hoe moeilik en hoe swaar die taak was wat voor hom gelê het nie.
Die geloof, sê die Bybel aan ons, is deur die Here aan ons gegee (Ef. 2:8). Maar nou is daar baie mense wie se geloof morsdood is. Hulle gebruik dit nie. God verwag van ons dat ons ons geloof sal gebruik. Ons geloof is egter soos ’n plantjie. Indien ons wil hê dat ’n plant moet groei en ’n mooi plant word, moet ons dit voedsel en water gee. Dit is die dinge wat aan die plant krag gee. Net so moet ons ons geloof voed. En God het die Bybel, die kerk, die sakramente (die doop en die nagmaal aan ons gegee. Dit moet ons gebruik om ons geloof te versterk. Julle kan maar oplet, mense wat wegbly van die kerk en miskien net sporadies kom, se geloof is swak. Dit is gewoonlik hierdie mense wat in swaar en moeilike dae in hulle lewens vra: Waarom? Hoekom?
Want daar is ook ’n verskil tussen geloof en geloof. Daar is ’n ware, egte geloof en daar is ’n geloof wat op sand gebou is. Wat is dan ’n ware geloof?
Die brief aan die Hebreërs vertel aan ons meer hieroor(Hebr. 11:1). Daar staan geskryf dat die geloof ’n vaste vertroue is op die dinge wat ons hoop en ’n bewys is van die dinge wat ons nie sien nie. Ons moet nie alles met ons verstand probeer uitredeneer nie maar ons moet vas glo aan die dinge wat die Bybel aan ons sê en ons moet glo dat die Here Jesus ook my Verlosser is en dat Hy my lief het. Ons moet daarom nooit twyfel nie.
Hebreers 11 noem Dawid dan ook ’n geloofsheld. Dit was Dawid se geloof wat in die eerste plek van hom so ’n uitstaande mens gemaak het. Ons kry ’n baie mooi voorbeeld hiervan aan die einde van I Samuel toe die Filistyne Dawid weggestuur het. Toe hy by sy woonplek Siklag teruggekom het, was sy vrou en kinders en al sy besittings weggevoer. Die manne wat saam met hom was, was terneergeslae. Hulle wou Dawid selfs doodmaak. Maar Dawid was nie moedeloos nie. Hy het homself versterk in die Here sy God. Hy het gaan bid om krag. En hy kon die leiding gee in die moeilike tyd.
Toe die skip waarop Paulus was, wou sink was dit hy as gelowige wat aan die moedelose bemanning van die boot leiding kon gee. Dit is juis die Christen se geloof wat van hom so ’n uitstaande mens maak. Die laaste Wêreldoorlog het bewys dat die dapperste soldaat op die slagveld die gelowige soldaat is. Lees gerus maar Hebr. 11 :32—38 en kyk wat het mense alles met hulle geloof reggekry.
Die Here het aan ons geloof gegee en Hy wil nie hê dat ons dit net vir Sondag moet bêre of vir die dag wanneer ons in nood en benoudheid is nie. Ons moet nie dan eers onthou dat daar ’n Here is wat ons sal help nie. Ons moet nie dan eers kerk toe gaan en begin bid en Bybellees nie.
As die Naam van die Here op die skoolgrond gelaster word, moet ons bereid wees om te praat. Ons moet bereid wees om te praat selfs as ons ongelowige onderwyser die Naam van die Here misbruik. Dit maak nie saak wat die gevolge daarvan is nie. God sal aan ons die krag daartoe gee en ons help.
Dit is wat Dawid gedoen het. Hy het as jong seun Goliat aangedurf sonder om te dink wat die gevolge kon wees. Goliat was ’n reus van ’n man en selfs die grootstes en dapperstes onder Israel was vir hom bang. Maar Dawid, die jong seun, was dapper.