Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
DIE BLINDE KIND
IN Johannes 9 lees ons van ’n man wat blind was van sy geboorte af. Hy kon dus reeds as klein kindjie nie sien nie en het in ’n donker wêreld van sy eie geleef. Hoe die wêreld rondom was, het hy nie geweet nie. Hy kon maar net raai. Oral waar hy gegaan het, moes hy maar net voel.
In die dae van Christus was daar nie baie medelye en meegevoel met ’n blinde nie. Hy is beskou as iemand wat benede die ander mense gestaan het. Want hy was vir niks nuttig nie. So byvoorbeeld kon hy nie eens die wapens opneem en sy land help verdedig nie. Daar was natuurlik nie die fasiliteite wat ons vandag het vir blindes waardeur hy homself kon bekwaam en vir homself sorg nie.
Daarom was hy daartoe gedwing om ’n bedelaar te word om ’n bietjie voedsel of kledingstukke in die hande te kry. Vir ’n bedelaar was daar nie veel simpatie nie. Selfs vandag nog het ons nie veel medelye en simpatie met ’n bedelaar nie. Hy is meestal die veragte van die samelewing.
In daardie tyd was 'n bedelaar nog meer verag as vandag, veral die blinde bedelaar. Want volgens die Jode was lyde en swaarkry ’n straf van die Here op een of ander sonde wat jy gedoen het. As julle die boek Job lees, sal julle sien dat Job se vriende ook so optree. Hulle sê dat hy een of ander sonde gedoen het. Daarom kry hy so swaar en die Here straf hom nou.
Die Jode het ook geglo dat die ouers van so ’n blinde kind dalk een of ander sonde gedoen het en daarom straf die Here hulle kinders. Hulle doen dit na aanleiding van die tweede gebod wat sê dat die Here die misdade van die vaders besoek aan die kinders tot in die derde en die vierde geslag. Maar hulle het ook geglo dat die kind reeds voor sy geboorte een of ander sonde gedoen het en dat die Here hom nou straf.
Mense het in daardie tyd so min medelye met ’n blinde gehad dat hulle hulself vermaak het met sy onbeholpenheid. Teenoor hierdie onbarmhartige optrede tree die Here streng op. In Levitikus 19 :14 sê die Here dat jy ’n dowe nie mag vloek nie en voor ’n blinde geen struikelblok mag lê nie. Hieruit is dit baie duidelik hoe wreed en onbarmhartig mense kon wees. Die lewe van ’n blinde in daardie tyd was dus ’n moeilike lewe. Hy was ’n minderwaardige wese met wie almal gespot het.
Nou kan ons ons voorstel hoe dit met hierdie blinde kind gegaan het. ’n Kind kan soms wreed wees in sy spot en hy kan hom baie maklik vermaak met die leed van sy medemens. Voor hierdie blinde kind het hulle seker allerhande dinge geplaas sodat hy daaroor moes struikel en val en dan het hulle hulle amper siek gelag as hy weer moes sukkel om op te staan.
Maar ons kan ons ook voorstel wat in die gemoed van so ’n blinde kind moes omgegaan het. Hy het homself eensaam, verstote en verlate gevoel. Nêrens was daar vir hom enige medelye of meegevoel by sy medemens nie. Hy was iemand wat net in die pad was. Buitendien het God hom ook verstoot en verlaat soos die mense sê. Baie nagte het hy homself aan die slaap gesnik. God ken hom dan nie eers meer nie. Hier op aarde is sy lewe ’n hel en sy uiteinde sal ook die hel wees.
Die dag toe hy egter as volwassene in die strate van Jerusalem gesit en bedel het, het hy die wonderlikste woorde gehoor wat hy nog ooit in sy lewe gehoor het. Daar het ’n klompie mense rondom hom gestaan en iemand met die naam van Jesus het gesê: "Hy het nie gesondig nie en sy ouers ook nie, maar die werke van God moet in hom openbaar word.”
Dit was iets wat hy nog nooit gehoor het nie. Altyd moes hy maar gehoor het van sy sonde en die blindheid as straf op sy sonde. Dadelik het hy verstaan. God het my nie verlaat nie en God het my nie verstoot nie. Die Here is nog altyd by my. Die Here het my nodig. Die Here wil my gebruik. Dit moes seker vir hom te wonderlik gewees het.
’n Mens se hart word week as jy deur die kinderhospitale stap en klein kindertjies daar sien lê wat swaarkry en pyn ondervind. Jy kan die pyn op die gesiggies sien. Dan wonder jy, Wat is die doel van alles? Dat ’n grootmens kan ly en swaarkry kan jy nog verstaan. Die leed van hierdie kindertjies lyk vir jou wreed. Totdat jy die woorde van onse Here Jesus onthou wat Hy aan sy dissipels gesê het: die werke van God moet in hom openbaar word.
Dan word alles meteens duidelik.
As jy dan wonder hoekom jy blind of doof is of hoekom jy in ’n hospitaalbed moet lê of in ’n rystoel die res van jou lewe moet deurbring, moet jy weet: Die Here doen dit omdat Hy my nodig het. Die Here wil my gebruik.
Maar hoe wil die Here my dan gebruik? Hoe kan God my, ’n arme swak, sieklike mens gebruik?
Hy wil hê dat jy deur jou glimlag en deur jou vriendelikheid en opgewektheid, alhoewel jy miskien pyn het, mense na Hom moet trek. Jy moet daardeur toon dat jy in die Here glo.
Want dan kan mense skaam kry. Dan kan hulle sê: "Ek geniet soveel voorregte. Ek is gesond en in plaas daarvan dat ek dankbaar is, kla en mor ek. Kyk watter voorbeeld is daardie kind.”
So kan jy deur jou siekte en swaarkry ’n instrument in die hand van die Here wees om mense nader na Hom te trek.