Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
TALENTVOLLE KINDERS
Die gelykenis van die talente in Mattheüs 25 vertel aan ons van drie diensknegte wat elkeen ’n aantal talente van hulle baas ontvang het. Die eerste een het vyf gekry, die tweede een twee en die derde een. Met hierdie geld moes hulle woel en werk en dit ver meerder.
Met hierdie gelykenis wil Jesus aan ons toon dat elke mens een of ander talent van die Here ontvang het. Dit hoef nie noodwendig geld te wees nie. Dit kan ook verstand wees of dit kan ook wees dat iemand baie prakties met sy hande is. Maar ons het hierdie talente ontvang en ons moet dit gebruik in diens van die Here.
Hierdie gelykenis is nie net op grootmense van toepassing nie. Dit het op elkeen betrekking, of hy nou groot of klein, oud of jonk is. Dit het ook op kinders betrekking. Dit het ook betrekking op al die kinders wat nog op skool is.
Want elke kind wat in die skool is, het van die Here sekere talente ontvang. Daardie talente wat julle ontvang het, is miskien julle verstand. Dit kan ook so wees dat die Here julle geseën het sodat julle baie prakties met julle hande kan wees.
Die een kind mag miskien baie slim wees. Hy leer baie maklik. Die ander kind sy leer dalk weer baie moeilik. Die een kind is miskien meer aangelê in die rigting van tale of geskiedenis of iets dergeliks. Die ander kind is weer meer aangelê in die rigting van die wetenskaplike en wiskundige gebied, terwyl ’n ander hom weer meer tuis voel in ’n tegniese rigting.
Uit die gelykenis van die talente is dit baie duidelik dat die baas van wie hier gepraat word Jesus Christus is en dat die diensknegte van wie hier gepraat word ons is. Dit is ook baie duidelik dat Jesus eendag van ons rekenskap gaan eis ten opsigte van die talente wat Hy aan ons toevertrou het. Verder is dit ook duidelik dat ons hierdie talente so moet gebruik dat die Naam van ons Here Jesus daardeur verheerlik en geprys word.
Die bedoeling van Jesus is natuurlik nie dat elkeen van ons ’n predikant of onderwyser of prokureur of dokter moet word nie. Want dan sou die meeste mense vandag in armoede en ellende gesit het. Want dan sou daar nie mense gewees het wat byvoorbeeld vir ons huise kon bou, of voertuie kon maak of busse kon bestuur of iets dergeliks gedoen het nie.
Een noodsaaklike vereiste vir die verkondiging van die Evangelie van Christus is dat daar rus, vrede en orde in hierdie wêreld moet wees, ’n Honger mens of iemand wat in vodde geklee is, gaan tog nie na die Evangelie luister nie. Hy moet eers in sy behoeftes voorsien. Sy gedagtes gaan nie by die Evangelie wees nie, maar sy belangrikste gedagte gaan wees om voedsel vir sy liggaam in die hande te kry of klere om homself mee te bedek. Eers as hy dit het en hom nie daaroor hoef te bekommer nie, sal hy na die Evangelie luister. Trouens die apostel Jakobus sê dit in sy brief.
Daarom moet daar ook sulke mense wees soos wetenskaplikes, ekonome, boere, sweisers, vissers, mynwerkers en nog baie ander.
Elke kind in die Westerse wêreld het vandag die geleentheid om te leer en te studeer en ’n sukses van sy toekoms te maak. Elke kind het een of ander geleentheid om te woeker met die talente wat die Here aan hom of haar gegee het.
Maar hoeveel kinders is daar nie wat vandag hulle talente in ’n sweetdoek begrawe en dit nie gebruik nie. Dit is tog baie lekkerder om vry te wees, om te gaan swem, om te gaan bergklim of om los te kom van die skool en die onderwysers. Dit is lekkerder om jou eie baas te wees.
Jy kan jou partykeer so vererg vir die onderwyser. En dan nog al daardie ou klomp huiswerk vanmiddag. Daar is soveel ander dinge wat jy so graag liewer sou wou doen. Jy sal liewer bioskoop toe wil gaan of met jou stokperdjie besig wees.
Wat is nou die gevolg hiervan? Sodra jy sestien is of standerd agt behaal het, gaan jy miskien uit die skool. Jy gaan werk in ’n winkel agter die toonbank of jy word ’n vragmotorbestuurder. Jy dink jy is vry. Jy kry mos geld. Nou is jy jou eie baas. Niemand het meer enige sê oor jou nie.
Maar jy vergeet een ding. Jy vergeet dat die tyd nie stilstaan nie. Elke dag van jou lewe is jy ’n dag ouer. Daar kom ’n dag dat jy wil trou en ’n huisgesin wil hê en dan vind jy uit dat jy dit nie met jou salaris kan bekostig nie. Jou salaris het bly stilstaan. Jy het nie bevordering gekry nie omdat ander met beter kwalifikasies die bevordering voor jou weggeraap het.
Hoeveel grootmense is daar nie wat al aan my gesê het: "Hoe bitter spyt is ek vandag dat ek nie na my ouers en onderwysers geluister het nie? Hoe bitter spyt is ek dat ek nie in die skool gebly en geleer het nie. Hoekom het my ouers my nie gedwing om skool te gaan en te leer nie?”
Spyt is ’n goeie ding maar dit kom altyd te laat. Moenie julle talente begrawe nie.