Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
DAWID WORD GESALF
Toe Samuel na Rama teruggekeer het, het hy vir etlike dae gevas en hom voor die Here afgesonder. God se oordeel oor Saul het bitter swaar op sy gemoed gelê. Die Here was eens en vir altyd klaar met Saul. Israel sou ‘n ander koning moes kry. Wie sou dit wees?
"Samuel, Samuel, waarom treur jy oor Saul en waarom is jy bedroef? Ek het hom as koning oor Israel verwerp omdat hy aanhou sondig het. My oordeel is finaal. Verknies jou nie verder oor hom nie” het God een nag met Samuel gepraat.
"Ek aanvaar U oordeel, my God, maar wie gaan U volk lei? Gaan U die koningskap afskaf en weer rigters soos Gideon en Simson verwek? Israel het aan ‘n koning gewoond geraak. Dit sal nie maklik wees om sonder een oor die weg te kom nie" sê Samuel besorgd.
"Moenie jou verder daaroor bekommer nie, my kind! Ek sal vir Israel sorg. Is Ek dan nie ‘n Verbondsgod nie? Hoe ken jy My? Sal Ek met Israel 'n ooreenkoms aangaan net om dit weer te verbreek? Ek is nie ‘n mens nie. Ek is 'n troue God. Het Ek my volk al in die steek gelaat? Onthou: Ek het wel Saul verwerp, maar nie vir Israel nie. Ek sal my volk nooit in die steek laat nie, maar vir hulle sorg soos 'n vader vir sy kinders sorg. Na Saul sal daar weer 'n koning op die troon van Israel sit, ‘n man in wie al My behae is" het God beloof.
“Here, is daar miskien iets wat ek vir U kan doen?" vra Samuel verlig.
"Ja, daar is” sê die Here. “Vertrek môre-oggend baie vroeg na Betlehem en neem 'n horing met heilige olie saam met jou. Daar moet jy na 'n man met die naam van Isai, die seun van Obed, vra. Hy het baie seuns. Die een wat Ek aanwys, moet jy op die plek as koning van Israel salf".
"Kom kyk wie het so pas die dorp ingekom!” roep Abiméseg vir Joktan en Jerag terwyl hulle meel afweeg.
"Julle sal julle oë nie glo nie!" sê hy en wink.
Aan die oorkant van die straat loop 'n ou man met ‘n lang wandelstaf en ‘n erg verslete profetemantel aan. Hy het ‘n leersak oor die skouer en ‘n oliehoring aan die sy.
"Is dit nie Samuel, die profeet, nie?" vra Jerag uit die veld geslaan.
"Niemand anders nie!" sê Joktan en vryf oor sy ken.
"Ek wonder wat kom maak hy hier? Hy was 'n hele paar jaar laas hier" sê Abiméseg en vee die sweet van sy voorkop af.
"Ja, hy was laas hier toe Besaliël hoëpriester geword het" sê Joktan.
"Kyk, hy het 'n horing by hom" sê Jerag en betrag die bejaarde besoeker ondersoekend.
"Ek hoop nie hy bring slegte tyding nie" sê Abiméseg bekommerd.
"Miskien moet ons vir Resag hiervan sê" sê Joktan en roep sy seun om die tyding te gaan oordra.
Resag was besig om aan sy huis se dak te werk toe die jong Taméneg hom die nuus van Samuel se besoek aan Betlehem bring.
"Waarom is die ou profeet hier?" vra Resag.
"Ek weet regtig nie, oom. My pa het my net gevra om vir oom van hom kom sê. Miskien moet oom hom maar self vra as hy verbykom" sê die jong Taméneg en groet.
o0o
Resag is die leier van Betlehem se Raad van Oudstes. Nadat Dedan ‘n paar jaar tevore buitekant die dorp deur rowers oorval en doodgemaak is, is Resag in sy plek gekies. Hy is 'n waardige mens wat by almal in Betlehem eerbied afdwing.
"Is u koms in vrede of is u die draer van slegte tyding, my vader?" vra Resag toe hy Samuel groet.
"Wees gerus my seun, my koms is in vrede; sommer groot vrede!" sê Samuel en glimlag.
Resag slaak 'n hoorbare sug van verligting.
"Waarmee kan ek help? Soek u miskien na iemand?" bied hy hulp aan.
"Ja, ek soek na Isai, die man met die sewe seuns. Ek verstaan hy boer hier in die omgewing" sê Samuel.
"Ja, ek ken hom goed. Sy plaas is minder as 'n uur hiervandaan. Draai by die groot terpentynboom net buite die dorp links. Sy huis staan teen die koppie; u kan dit nie mis nie" sê Resag.
"Dankie, my seun" sê Samuel en groet.
o0o
"Pa, hier kom 'n ou man aan” sê Samma en wys in die rigting van die plaasingang.
"Kan jy sien wie dit is?" vra Isai en loer by die deur uit. Sy oë is nie meer wat dit was nie.
Samma hou sy hand oor sy oë om beter te kan sien.
"Nee, pa, ek ken dié man glad nie" sê hy.
"Dan sal ek maar gaan kyk wie dit is" sê Isai en stap die vreemdeling tegemoet.
Wanneer die besoeker 'n paar meter van hom af is, bemerk Isai die profetemantel en oliehoring aan sy sy.
"Waarom sou 'n Godsman my kom besoek?" wonder hy by homself.
"Is jy Isai, die seun van Obed?" vra die besoeker.
"Ja, ek is" sê Isai huiwerig.
"Ek is Samuel, 'n dienskneg van die Here".
"Samuel, die profeet van Rama?" vra Isai oorbluf en gaap hom verbaas aan.
"Ja, dis ek" sê Samuel en glimlag vir die man se verbasing.
"Wat het ek gesondig dat u vandag na my toe kom? vra Isai ontsteld.
"Jy het niks gesondig nie. My koms is in vrede. Die Here het my na jou gestuur" sê hy en sit sy reissak langs hom neer.
"Kom gerus binne!" nooi Isai die profeet in.
Isai het so baie van die ou profeet gehoor, maar hom nog nooit ontmoet nie. Hy roep 'n slaaf nader om water te bring. Nadat Samuel daarvan gedrink het, neem Isai die waskom en begin die profeet se moeë voete te was. Wat ‘n voorreg om die man van God in sy nederige huis te mag ontvang!
" U is baie welkom in my huis. U doen my ‘n groot eer aan!” se Isai en droog Samuel se voete af.
“Baie dankie” sê Samuel dankbaar vir sy gasheer se welkomsgebaar.
Mag ek vra wat die doel van u besoek is?" vra Isai nuuskierig.
"God wil iets van jou hê" sê Samuel.
"Iets van mý hê?" vra Isai uit die veld geslaan.
"Ja, iets baie spesiaal" sê Samuel geheimsinnig.
"Ek is maar net 'n eenvoudige skaapboer, my vader. Ek besit net skape. God kan die beste een van hulle kry. U kan dit self vir Hom uitkies en offer" bied Isai aan.
"Nee, God wil nie een van jou skape hê nie, Hy wil een van jou seuns hê" sê Samuel en glimlag.
Die profeet se woorde tref Isai soos 'n donderslag. Moet hy, soos ‘n Abraham van ouds, een van sy seuns aan die Here offer?
"Asseblief, my vader, net nie een van my seuns nie! Hulle is nog jonk. Die lewe het skaars vir hulle begin. Hulle kan nie nou al sterf nie!" pleit Isai met rane in sy oë.
"Nee, my vriend, jy verstaan my verkeerd. Geeneen van jou seuns gaan sterf nie. God het een van hulle in sy diens nodig. Daar wag ‘n groot taak om hom" sê Samuel en plaas sy hand bemoedigend op Isai se skouer.
Die gedagte dat die Almagtige een van sy seuns in sy diens wil gebruik, maak Isai bewoë.
"Watter een van my seuns is so bevoorreg om vir die Here te werk? Wat moet hy doen? vra Isai sag.
"Ek weet nie watter een nie” sê Samuel. “Al wat ek weet, is dat God hom koning oor Israel gaan maak".
"Het ek reg gehoor? Gaan die Here een van my seuns koning maak?” vra Isai uit die veld geslaan.
Dit voel vir hom asof die aarde onder hom padgee en hy gryp na die leunings van sy stoel.
"Ja, een van jou seuns is die volgende koning van Israel" antwoord Samuel.
"Maar dis absoluut onmoontlik, my heer!” protesteer Isai hewig. “Israel het dan ‘n koning. Geen land het twee konings nie!”
"God het Saul as koning verwerp. Hy sondig onophoudelik en slaan geen ag op Sy waarskuwings nie. Daarbenewens verjaag hy die profete van God sodat hulle nie hul werk kan doen nie. Hy het te ver gegaan en sy genadetyd is verby. Hy gaan van die toneel verdwyn en een van jou seuns koning word” sê Samuel en plaas die oliehoring voor hom op die tafel.
Isai gaap Samuel sprakeloos aan. As iemand anders dit vir hom gesê het, sou hy dit afgelag het. Maar dis die die profeet van God. Hy sal nie al die pad Betlehem toe kom om ‘n grap met hom te maak nie. Hy is werklik ernstig!
"Watter een van my seuns is dit?" vra Isai die profeet nadat hy tot verhaal gekom het.
"God het my dit nie vooraf te kenne gegee nie" antwoord Samuel.
"Watter een van hulle reken u kan dit wees?” vra Isai steeds oorbluf.
"Ek weet regtig nie. Ek ken hulle mos nie" antwoord Samuel.
"Ag, hoe dom van my! vra Isai verleë verskoning.
"Moenie bekommerd wees nie. Die Here sal die regte een aanwys" verseker Samuel hom.
"Hoe sal u weet watter een dit is?" vra Isai nuuskierig.
"As die regte een voor my kom, sal die Here die oliehoring in my hand laat draai. Maar moenie vir iemand daarvan sê nie" versoek hy Isai.
Hy verstaan.
"U is seker doodmoeg na die lang stap. Kom rus hier in die kamer langsaan terwyl die ete voorberei word" nooi Isai.
Samuel verwelkom die aanbod. Hy is nogal moeg. Hy het die vorige nag maar min geslaap en die stap na Betlehem het hom behoorlik uitgeput. Hy is nie meer so jonk nie.
o0o
"Laat jou seuns een vir een inkom" versoek Samuel sy gasheer toe hy vir ete aansit.
"In watter volgorde?" vra Isai gedienstig.
"Van die oudste tot die jongste" sê Samuel en neem die oliehoring in sy hande.
Eliab kom eerste in. Hy is 'n aantreklike jongman van ongeveer dertig jaar oud. Die ou profeet kyk na die sterk, gespierde jongman met die wakker bruin oë en welige bos hare. Eliab beïndruk hom baie. Isai kyk vol verwagting na Samuel. Gaan hy die verlangde woord spreek? Die horing draai nie.
"Laat die volgende een inkom" versoek Samuel sy gasheer.
Wanneer Abinadab inkom, draai die horing ook nie.
Daarna kom Samma in, die een wat Samuel die eerste gewaar het. Weereens draai die horing nie. So ook met die res van die seuns. Samuel verstaan dit nie.
"Is al jou seuns hier?" vra Samuel en kyk na die ses seuns aan tafel. Dis almal mooi jongmanne. Enigeen van hulle kan 'n koning wees
"Nee, nie almal nie, die jongste een pas hier naby skape op" sê Isai en maak verskoning vir sy afwesigheid.
"Ons mag nie sonder hom eet nie. Laat hom onmiddellik roep" beveel die ou profeet.
Wanneer die jong skaapoppasser die vertrek binnekom, groet hy vriendelik. Dawid is 'n seun van ongeveer sewentien jaar oud, sterk gebou met 'n bos rooi hare en uitsonderlike mooi oë. Dan draai die horing in die ou profeet se hand.
"Dawid seun van Isai, kom kniel hier voor my " beveel hy die jongman.
Dawid gehoorsaam en kniel met geboë hoof voor Samuel.
"Dawid, seun van Isai, jy het genade in die oë van God gevind. Hy het my gestuur om jou as koning oor Israel te salf. Wy jou hele lewe aan Hom en dien sy volk met reg en in geregtigheid en Sy genade sal oor jou groot wees. Mag Hy jou seën met die keur van Sy seëninge en jou pad met wysheid besaai" sê Samuel bewoë en giet die welriekende olie op die jongeling se hoof uit.
Die reuk van die heilige olie vervul die plaashuis met 'n aangename geur. Dawid se broers is stom van verbasing. Hulle jongste broer is voor hulle oë as koning van Israel gesalf en dit nogal deur die profeet van die Here self!
"Ek wil julle vra om geen woord oor dit wat julle vandag gehoor en gesien het eenoor enigeen te rep nie. Die tyd is nog nie ryp om dit nou al aan Israel bekend te maak nie" versoek Samuel die huisgenote.
"Ons belowe,, my heer!" roep Eliab oorstelp van vreugde uit.
"Die tyd sal wel aanbreek dat dit wat nou verborge gehou moet word in die strate en vanaf die mure bekend gemaak sal word" beloof Samuel.
Vervolg...