MOENIE GOD VERWYT

Ds AE van den Berg

Lees reeks by MY KRUIS, MY KRAG

 Beproewings bring dikwels verwyte mee.  Sommige mense verwyt hulself terwyl ander die Here verwyt en sê: “As dit is hoe God my behandel, wil ek niks verder met Hom te doene hê nie!” Sulke mense beskou godsdiens as ‘n ongeluk-vrywaring polis.  God moet, as vergoeding vir hul kerkgang en Bybellees, alle beproewing van hulle afweer. Sulke mense raak altyd teleurgestel.  Beproewings maak hulle bitter in plaas van beter.  Nee, God skuld ons op aarde niks nie, nie eens die lewe nie.  Alles is genade – onverdiende guns!

Mense wat die dood van ‘n geliefde nie wil verwerk nie, verkwalik met hul optrede in werklikheid die Here.  Dikwels onttrek hulle hul van alles en almal, veral die kerk en die gemeenskap van die gelowiges.  Sulke optrede is niks anders as opstand teen God nie en derhalwe sonde.

In tye van ernstige beproewing het ons God juis die nodigste.  Gelowiges sal eerder meer pyn en lyding verduur as om hul rug op God te draai.  Ons durf nie toelaat dat omstandighede ons van ons geloof stroop nie, want dis presies wat Satan wil hê, vra maar vir Job!  

God se wil moet voorop in ons lewens staan.  Sy wil is nie iets wat ons iewers moet gaan soek nie, maar eerder iets wat ons in gehoorsaamheid moet doen.  En as ons ons werklik daarop toelê om in ons beproewing sy wil te doen, sal daar nie nog tyd wees om sy optredes te bevraagteken nie.

Ongelukkig is God vir baie mense soos ‘n spaarwiel - net goed in geval vab nood.  Godsdiens is vir hulle soos ‘n bus - maak net daarvan gebruik as dit in hulle rigting gaan.  Nee, God moet die stuurwiel, nie die spaarwiel van ons lewens wees nie!

Beproewings laat dikwels vrae in ons gemoed ontstaan.  In die lied Why vra die sanger Roger Wittaker: “Will the last word ever be spoken be why?” so sprekend van die mens.  Ons vra altyd waarom?    God antwoord ons waarom’s nie altyd met daarom’s nie; slegs met die belofte dat ons eendag alles wel deeglik sal verstaan.  Paulus skryf in 1 Kor.13:12 “……Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken…”

Beproefde mense probeer dikwels hul verbittering agter maskers wegsteek.  Pyn dra nie vir lank ‘n masker nie. Op een of ander stadium kom dit af.   Gevolglik is daar net een oplossing – maak vrede met jou beproewing.  En hoe maak ‘n mens vrede daarmee?  Deur jou gedagtes op God se beloftes in te stel.  Dis immers hoe ons Here Jesus die pyn van die kruis verduur het.  Hy was geheel en al op sy hemelse Vader se beloftes ingestel.  Laat ons sy voorbeeld navolg!

Baie jare gelede het ‘n touloper voor ‘n skare nuuskieriges oor die Niagra waterval geloop. “Waarom dra jy nie iemand op jou rug oor nie?” het ‘n verslaggewer hom uitgedaag. “Kom klim op my rug” het die touloper hom genooi.  Na baie mooipraat en allerlei beloftes van sy kollegas het hy ingestem. Net voordat hulle begin loop, het die touloper vir hom gesê: “Sien jy daardie rooi rots aan die oorkant?  Hou jou oë net daarop gerig.  Moenie afkyk nie!” Hy het nie en die oorkant veilig bereik.

Wat leer ons hieruit?  Kyk vorentoe; nie agter jou, langs jou of waar ook al nie; slegs vorentoe na Jesus aan die oorkant.  Petrus het een nag op die see van Galilea gewaag om sy oë van Jesus af te neem en dit het hom amper sy lewe gekos.  Moenie dieselfde fout maak nie!