Ds AE van den Berg
Lees reeks by MY KRUIS, MY KRAG
Die wêreld is vol van dwaalleraars wat sê dat siekte die gevolg van ‘n spesifieke sonde is. Dis ‘n leuen en doen die Christendom skade aan. Die Bybel praat anders. Lees gerus Joh.9 waar Jesus hierdie vraag duidelik beantwoord.
Daar is mense wat al jare lank ernstige beproewing verduur, maar terselfdertyd baie na aan God leef. ‘n Mens het byna instinkmatig medelye met sulke mense. Eintlik behoort ons hulle te beny omdat hierdie dapper lasdraers God op ‘n besondere wyse verheerlik. God plaas hulle voete op ‘n stewige rots. Daarom sink hulle nie!
Alhoewel beproewings as sulks nie ‘n straf van God is nie, gebruik Hy dit dikwels om sy heilige doel met ons te bereik. Iemand het eenkeer gesê dat pyn die megafoon is waarmee God ‘n dowe wêreld wakker wil maak.
In ons beproewing staan Christus nie iewers daar ver en kyk hoe swaar ons kry nie. In sulke tye is Hy juis baie nader aan ons as wat ons dink. Hy het medelye met ons want daar is geen dieper lyding as waarin Hy alreeds afgesak het of donkerder diepte as wat Hy alreeds oorwin het nie.
By geleentheid het ‘n gelowige as volg gebid: “Here, laat my nooit vergeet dat my siekte en pyn nie U straf op my sonde is nie. Plaas my voete altyd op die stewige rots van u belofte dat U altyd by my sal wees, al gaan ek ook deur donker dieptes. Leer my dat ek elke donker uur as die besondere geleentheid sal sien om U liefde en genade nog beter te leer ken”.