ONS GESINSLEWE

Beheervrate --- ‘n Vernietigende siekte van ons tyd

‘n Ernstige probleem in ons samelewing waaroor baie min gepraat en geskryf word en waarvan baie min verstaan word, is dié van ‘n beheervraat (controlling person)  in ‘n verhouding of huwelik. Volgens ervare sielkundiges en beraders is dit ‘n siekte wat besig is om epidemiese afmetings aan te neem en word letterlik duisende verhoudings en huwelike jaarliks daardeur verwoes. Die slagoffer van so ‘n beheervraat, se selfvertroue word stelselmatig afgebreek en eis altyd sy tol wat liggaamlike sowel as geestelike gesondheid betref. Kinders wat in ‘n huis grootword waar daar so ‘n verhouding tussen die ouers bestaan, kry gewoonlik baie seer en ontwikkel ‘n baie swak selfbeeld en skewe sienings van die lewe en oor verhoudings met ander mense. Die kanse dat so ‘n kind dan ook later dieselfde tipe verhoudings in sy volwasse lewe kan kweek, is baie groot.

Dit is maar eers die afgelope klompie jare dat sielkundiges werklik agter die kap van die byl kon kom wat hierdie samelewingsprobleem betref. Dit was moeilik om vas te stel wat die oorsaak daarvan is, en die enigste manier was om vanuit praktiese ervaring die probleem te identifiseer, te beskryf en oorsaak en gevolg vas te stel. Daar bestaan dus heelwat sienings oor wat regtig ‘n persoon motiveer om ander mense te wil beheer, maar die oorgrote meerderheid van sielkundiges is dit eens dat ‘n gevoel van onveiligheid of onsekerheid die hoofrede is. Daar is natuurlik ook soms beheervrate wat bloot ‘n bisarre genot daaruit put om die persoon met wie hy of sy getroud is, te beheer, te verkleineer en seer te maak. Dit is diegene wat êrens in sy kinderjare soveel langdurige trauma en gebrek aan liefde beleef het, dat die persoon homself heeltemal van sy gevoelens los gemaak het en dus totaal sonder énige gevoel vir enigiemand anders  optree. Hier kan ons van ‘n psigopaat praat en vir so ‘n persoonliksheidsversteuring is daar eintlik geen hoop nie, behalwe wanneer die Here ‘n baie groot wonderwerk doen. Niks is natuurlik vir Hom onmoontlik nie.

Vir iemand wat in sy kinderjare een of meer traumatiese gebeurtenisse beleef het en dus met diepliggende vrees en onsekerheid leef, en as gevolg daarvan hierdie beherende gedrag as lewenswyse aangeleer het, is daar hoop. Hoe langer die persoon toegelaat word om weg te kom met sy onaanvaarbare gedrag, hoe moeiliker is dit om dit af te leer.  So ‘n persoon behoort ‘n goeie sielkundige of berader te gaan sien en sy probleem openlik  te trotseer. Hy of sy moet hulp ontvang om dit wat kleintyd die skade aangerig het, te verwerk sodat sy oerbrein nie meer nodig het om die vrees en onsekerheid wat daarin vasgevang is, in beherende gedrag te laat manifesteer nie. Die geheim is dat dit net soos bekering werk. Wanneer ‘n persoon tot ‘n sondebesef kom, sy sondes bely, waarlik berou het en Jesus se vergifnis ontvang, dan kan hy gered word en ‘n nuwe mens word. Net so moet die beheervraat besef dat hy ‘n ernstige probleem het, sy of haar  maat om vergifnis vra en dan met behulp van die Here en ‘n goeie Christenberader daaraan werk om sodoende ‘n nuwe mens te word.

Beheervrate is meestal mans, maar kan tog ook soms die vrou in die verhouding wees. Dit is dan net die metode waarop beheer uitgeoefen word, wat verskil. Mans gebruik gewoonlik  bombastiese uitbarstings van woede waarmee hulle die vrou wat hulle lief het en in ‘n intieme verhouding mee staan, probeer bang maak, manipuleer en beheer. Vroue maak meer gebruik van trane, dreigemente en ‘n gekyf  om sodoende haar sin te kry. Gaan lees gerus weer die geskiedenis van koning Agab en sy manipulerende vrou, Isebel, vanaf 1 Konings 16 tot 1 Konings 22. Dit bring ‘n mens opnuut onder die indruk van die verwoesting wat so ‘n verhouding veroorsaak.

Hoe weet ‘n mens wanneer jy met ‘n beheervraat te doen het? Daar is baie waarskuwingstekens waarop jy kan let wat vir jou ‘n ongesonde verhouding kan uitwys, maar die mees betekenisvolle is wanneer jy voel dat jy altyd in jou pasoppens moet wees wanneer jou maat in die nabyheid is om sodoende ‘n ontploffing te voorkom. Ander tekens is wanneer jou maat jou verkleineer, alles wat jy doen wil beheer, vir jou vertel hoe jy dink en voel en wanneer hy ‘n uitbarsting gehad het, die skuld daarvoor op jou pak en sê dat jy dit verdien het. Jyself begin later worstel met ‘n gevoel van selfveragting, minderwaardigheid en desperaatheid.

Dit is baie hartseer, maar ongelukkig waar, dat die kerk, en veral die Pinkster- en Charismatiese kerke, ‘n baie groot aandeel aan hierdie vernietigende samelewingsiekte het. Die lering dat die man die “Hoof, Priester en Profeet” van sy huis is, gee mans met hierdie neiging om beheervrate te wees, volgens hulleself en die kerk, kamtig Bybelse gronde om hul vroue soos  vloerlappe te behandel. Wat net nooit gesê word nie, is dat dit nêrens in die Bybel staan nie. Inteendeel, Petrus skryf in 1 Petrus 2:9: “Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is….” Elke vrou is dus in die oë van die Here net soveel priester as haar man. Die uiterste  waartoe ek hierdie lering in ‘n spesifieke Pinksterkerk al hoor gaan het, was dat ‘n sekere vrou wat ek goed ken, nie meer mag gebid het nie. Hierdie voorreg was vir haar man as “priester” van die huis alleen beskore.

Paulus skryf aan die Efesiërs  in Efes. 4:22 en 23, “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is.”  Vers 25: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het.” As ‘n man sy vrou so liefhet dat hy sy lewe vir haar sal aflê, dan is die vraag waarom behandel hy haar met afjakke, woede-uitbarstings, verkleinering, beledigings en in uiterste gevalle ook fisieke aanrandings. ‘n Baie bekende Amerikaanse prediker het onlangs op TBN in een van sy preke gesê dat hy nooit weer in sy lewe ‘n vrou wil begrawe nie wat, nadat sy vir berading na hom gekom het en hy haar na haar brutale man teruggestuur het met die opdrag om onderdanig aan hom te wees, daarna deur hom doodgeslaan is.

Daar is niks en niemand wat ‘n slagoffer se selfbeeld so kan verwoes as ‘n beheervraat nie. Hoe langer ‘n persoon toelaat dat iemand  hom of haar so behandel, hoe moeiliker is dit om uit die situasie te kom. Dit word later ‘n lewenswyse van aangeleerde gedrag. Onthou, dit is baie belangrik om te weet dat mens iemand leer hoe om jou te behandel. As die slagoffer hierdie gedrag toelaat, word sy later so weerloos dat sy op ‘n dag net nie meer verder kan nie. Die beheervraat se optrede word ook geleidelik al hoe meer brutaal en geweldadig, veral wanneer hy teëgegaan word. Van liefde, respek en kommunikasie is daar later net nie meer sprake nie.

Dit is belangrik om te weet dat ‘n mens iemand leer hoe hy of sy jou mag behandel. As jy geen grense stel nie, sal so ‘n beheervraat jou grensdrade eenvoudig platloop. Om toe te laat dat jou regte, jou persoonlikheid en jou hele menswees deur so ‘n persoon oorgeneem en vertrap word, is nie edel of geestelik nie en druis lynreg in teen God se opdrag dat ons onsself moet liefhê. Toe Paulus in Hand 23:1-3 voor die Joodse Raad verskyn het en die Hoëpriester Ananias beveel het dat Paulus op die mond geslaan moet word, het Paulus hom reguit in die oë gekyk en verklaar: “God sal jou slaan, jou skynheilige.”

Die slagoffer moet sy reaksie op die beheervraat se gedrag verander. Die beheervraat maak staat daarop dat sy slagoffer ‘n voorspelbare reaksie van hulpelose frustrasie en toegee-terwille-van-die-vrede sal hê. Wanneer sy slagoffer dus op ‘n dag vir hom sê dat sy nie langer hierdie onaanvaarbare gedrag  gaan verdra nie, dan word hy baie kwaad, want geen mens hou daarvan dat daar vir hom of haar grense gestel word nie, maar hy word gedwing om anders op te tree. Die Bybel maak nêrens voorsiening daarvoor dat een mens ‘n ander kan beheer nie. Die enigste beheer waarvan die Bybel praat, is beheersing deur die Heilige Gees. Paulus skryf aan die Galasiërs in hoofstuk 5 vers 16 “…Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.”

Elke klein dogtertjie het ‘n diep gewortelde behoefte daaraan om begeerlik en mooi te voel, om gekoester, beskerm, en  liefgehê te word. Dit is hoe God haar gemaak het. ‘n Klein seuntjie, daarenteen, het die behoefte om te voel hy is ‘n held. Hy wil sterk en manlik wees en bewonder word. Dit is die pa se rol in die opvoedingsproses om hierdie behoeftes by sy kinders te bevredig en hulle tot emosionele volwassenheid daarin te begelei. (Twee uitstekende boeke om te lees oor hierdie onderwerp, is dié van John en Staci Eldredge, “Wild at heart” en “Captivating”) As die pa in hierdie taak wat deur God aan hom opgedra is, misluk deur nie aan sy kinders die nodige aandag en liefde te gee nie, moet hy nie verbaas wees as sy dogter eendag van een verhouding en/of huwelik na die ander flirt in ‘n poging om ‘n man se aandag en aanvaarding te kry nie. Hy moet ook nie wonder waarom sy seun in ‘n grootprater of liegbek ontaard het om tog net asseblief bewondering te kan kry nie. Wanneer sy kinders in vrees vir hom grootword, altyd op hulle hoede  vir ‘n woede-uitbarsting teenoor hulself of  hul ma, moet hy ook nie verbaas wees nie as sy tienerkinders op ‘n dag vir hom sê dat hulle hom haat en niks met hom te doen wil hê nie. Hy wil dan gewoonlik vinnig aanspraak maak op respek, terwyl hy nooit enige respek aan hulle of hul ma betoon het nie. Respek is iets wat verdien moet word. Paulus skryf aan die Galasiërs: “…God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.” Dit is nou eenmaal ‘n Bybelse beginsel. Geen mens kan jare lank dorings in sy verhoudings saai en dan verwag om rose te pluk nie.

Volwassenes vir wie as kinders hierdie behoeftes vervul is, verlóór nie dié behoeftes nie. Hy of sy is dan in staat om emosioneel volwasse in sy of haar verhouding met ‘n lewensmaat te funksioneer. Wanneer hy haar liefhet, koester en beskerm, dan kán sy hom respekteer en bewonder. Hulle het dan goeie kommunikasie, want nie een is net op hom- of haarself ingestel nie, maar hulle ag die een hoër as die ander, doen  niks uit selfsug of eersug nie en dink nie net aan eie belange nie. (Fil. 2:1-4).

Omdat ons in Suid-Afrika met ons ontsettende hoë misdaadsyfer leef en gesinne en veral kinders, geweldige traumatiese gebeurtenisse beleef wat hulle net eenvoudig nie self kan verwerk nie, is dit baie belangrik dat ouers of ander verantwoordelike persone besef dat sulke kinders hulp moet ontvang. As dit nie gebeur nie, gaan hierdie probleem net al hoe meer sneeubal totdat daar van ons samelewing en gesinne niks oor is nie. Ons is reeds amper daar. Die plek wat God geskep het waarin ons en ons kinders veilig moet en kan voel, naamlik die huisgesin, word deur ons vyand, die duiwel, verwoes en deur onkunde, laat ons dit toe. ‘n Kind wat as gevolg van onverwerkte trauma as volwassene so ‘n beheervraat word, is ‘n baie swak rolmodel vir sy kinders. Wanneer ‘n kind dag na dag met angs en vrees ‘n ouer se woede-uitbarstings moet beleef, vind hulle dit ook moeilik om ‘n verhouding met God as ’n liefdevolle en genadige Vader te hê.

Paulus skryf aan die Filippense dat hy vir hulle bid vir meer begrip en fyn aanvoeling om sodoende te onderskei waaroor dit werklik gaan. Dan kan ons in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer. (Fil. 1:9 en 10). Ons besef nie hoe slu en slim die Satan te werk gaan om van ons lewens ‘n gemors te probeer maak nie. As ons hom toelaat, sal hy die een mooi huweliksverhouding, ouer-kindverhouding, vriendskap ens. na die ander vernietig. Deur ‘n kind se kinderjare op te mors, wanneer hy veilig moet voel, gekoester in sy ouerhuis en hul liefde vir hom, slaag ons vyand daarin om ‘n bose kringloop van ongelukkigheid te veroorsaak. Die enigste manier om daaruit te kom, is deur God  se wonderwerkende en genesende krag en jou eie besluit om dit stop te sit.

‘n Gelowige man wat nie die nodige eer, liefde en beskerming aan sy vrou betoon nie, moet nie verbaas wees as sy gebedslewe nie na wense is nie en nie juis vrugte afwerp nie. Luister net wat sê Petrus aan die mans in 1 Petrus3:7 : “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder .”