Wanneer ‘n mens die vierde Evangelie noukeurig lees, is dit opvallend dat baie dinge en gebeurtenisse wat deur die ander drie Evangelieskrywers beskryf is, deur Johannes weggelaat is. Dit is egter nie weens ‘n gebrek aan inligting nie, want hy vertel weer baie dinge wat hulle nie noem nie, soos byvoorbeeld van die bruilof te Kana in Galilea (Joh. 2:1-11), Nikodemus se besoek aan Jesus (Joh.3:1-15), ens. Dit lyk eerder asof Johannes oor meer en fyner besonderhede beskik het as die ander skrywers, veral oor Palestina en Jerusalem.
Die eintlike rede waarom dit verskil, is omdat Markus en Lukas hul Evangelies klaar geskryf gehad het toe Johannes nog mondelings gepreek het. Hy het dus hul Evangelies gesien en geken en daarom ‘n aanvulling van ontbrekende inligting geskryf. Dit het hy gedoen ongeveer 100 nC in Efese. Johannes word ook as die Lieflingdissipel van Jesus beskryf en daarom kan ons aanvaar dat sy getuienis betroubaar is.
Andreas het nie geweet watter groot wonderwerk sou volg toe hy die seuntjie na Jesus gebring het nie. Ons weet ook nooit watter moontlikhede ontstaan wanneer ons iemand na die Here toe lei of aan Hom gee wat ons het nie, al is dit in ons oë gering. Die waarheid is dat Jesus net dit nodig het wat ons kan gee. As ons onsself, net soos ons is, op die altaar lê vir sy diens, dan is die moontlikhede wat Hy met ons en deur ons kan doen, onbeperk. ‘n Klein bietjie is altyd baie in Jesus Christus se hande.
Toe Jesus vir Filippus gevra het waar hulle soveel brood kan koop, het Hy reeds geweet wat Hy gaan doen, maar Hy wou graag sy dissipels se geloof op die proef stel. Filippus slaag nie die toets nie, want in plaas van om ‘n antwoord te gee, skets hy onmiddellik die onmoontlikheid van die situasie. Andreas wys ook op die onmoontlikheid daarvan om die skare met die kospakkie van ‘n arm seun te voed. Tog is hulle gehoorsaam aan Jesus toe Hy vir hulle sê om die skare te laat sit. Dit wys dat hulle darem vertroue in Hom gehad het.
Garsbrode was die armer bevolking se stapelvoedsel. Jesus het gekom vir almal, ryk en arm. Dit is belangrik om te onthou dat brood ’n baie belangrike plek ingeneem het in die dieet van die eerste eeuse Palestyne, baie meer as vandag. Brood kan gesien word as die opsomming van voedsel oor die algemeen. Dit was dus nie ‘n luukse nie, maar absoluut essensieel om te leef. Die twaalf mandjies wat oorbly, benadruk die oorvloed van die wonder. Wat Jesus aan sy kerk en die gelowiges voorsien, sal nooit opraak nie.
Wat God van bo gee, is die ware brood, net soos die manna in die woestyn. Christus kom van bo, daarom is Hy die ware Brood. Jesus sê: “Ek is die Brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” (Vergelyk ook die Samaritaanse vrou in Joh. 4:14) Deurdat Jesus eers in die liggaamlike behoefte van die skare voorsien het, kon Hy ‘n aanknopingspunt vind om vir hulle van die geestelike voedsel te vertel. Hy sluit telkemale by liggaamlike behoeftes aan om dieper geestelike waarhede te beklemtoon.
Jesus het nie wonderwerke gedoen om vir Hom ‘n posisie te verdien nie. Hy het dit reeds gehad. Hy wou God aan die mense bekend maak en Hom verheerlik. Hy wou nie hê dat hulle met nasionalistiese oë na hom kyk nie, maar met geloofsoë. Sy gesag word deur hierdie optrede bevestig. In die eerste plek help Hy die skare deur hulle te voed omdat Hy wil, maar Hy laat nie toe dat Hy as koning gekroon word omdat daar druk op hom uitgeoefen word nie. Sy liefde en besorgdheid oor ‘n verloregaande mensdom is hier duidelik sigbaar. Matteus vertel dat hy die skare “innig jammer” gekry het. Hy beskik nie net oor die Goddelike almag en krag om in mense se fisiese behoeftes te voorsien nie, maar kan ook in ons geestelike behoeftes voorsien. Aardse brood kan die liggaam net vir ‘n klein rukkie voed, maar die hemelse Brood gee die ewige lewe. Petrus se opregte kinderlike antwoord in verse 68 en 69 som dit pragtig op wanneer hy ‘n belydenis en verbintenis aan die Seun van God maak. Vir hom is Hy die Heilige van God wat die ewige lewe kan gee.
Vir Jesus moes dit ‘n droewige gesig gewees het toe die mense almal wegdros (Joh.6:66). Daarom vra Hy reguit aan die uitgesoekte twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Dit gaan hier oor volgehoue geloof. Elke gelowige kom daagliks in situasies waarin hy teen ongeloof moet veg en opnuut vir Jesus moet kies. Hierdie keuse bepaal dan die uiteinde van my lewe. Daar word altyd ‘n voorwaarde gestel waaraan ek moet voldoen. “Wie na My toe kom” of “Wie in My glo”, sê die Here Jesus. As ek bereid is om dit te doen, beêrwe ek die ewige lewe en daarmee saam ook die hele verlossingsplan van God met die wêreld. Wat ‘n voorreg!
Last Updated (Monday, 14 June 2010 18:50)