Die geskiedenis van die stad Tirus en die merkwaardige letterlike vervulling van die oordeelsprofesieë van Eségiël teen die stad.
(Eségiël 26:1 tot 28:19)
Die interessante geskiedenis van hierdie antieke stad asook die woorde van die profeet Esegiël, wat letterlik in vervulling gegaan het en vandag, 2500 jaar later, nog steeds van krag is, beklemtoon net weer eens vir ons die absolute gesag van die Woord van God.
Hierdie Fenisiese hoofstad was ’n belangrike handelsentrum van die antieke wêreld. Dit is geleë aan die Middelandse see, suid van Beiroet en was een van Israel se noordelike grensstede (Jos 19:29 en 2 Sam 24:7). Die stad is volgens oorlewering in ongeveer 2750 v C gevestig, maar historici verskil baie wat die presiese tyd betref.
Nadat die Fenisiërs geleer het om groot skepe te bou, het hulle spoedig die handel van die gebied oorgeneem. Teen ongeveer 1500 v C was dit ’n florerende hawestad. Gedurende die regeringstyd van koning Hiram in die tiende eeu v C, het die stad se voorspoed ’n hoogtepunt bereik. Daar was ’n besondere vriendskapsverhouding tussen koning Dawid en koning Hiram (1 Kon 5:2). Toe Dawid vir hom ’n paleis wou bou, het Hiram ’n afvaardiging na Israel gestuur met sederhout, skrynwerkers en messelaars (2 Sam 5:1). Jare later, toe koning Salomo vir die Here ’n tempel en vir homself ’n paleis wou bou, het hy die vrymoedigheid gehad om koning Hiram weer eens om hulp te nader. In ruil vir al die seder-, sipres- en jenewerhout vir die tempel, het Salomo onderneem om koring, gars, olie en wyn te stuur vir die arbeiders (2 Kron 2:1-16). Hiram se antwoord op Salomo se versoek begin met hierdie pragtige woorde: “Geloof sy die Here, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het!” Saam met die voorrade het hy ook ’n ervare vakman gestuur: sy meestervakman in graveerwerk en die bewerking van goud, silwer, brons , yster, klip, hout en wol (1Kon 7:13,14).Na afloop van twintig jaar waarin koning Hiram vir koning Salomo van alles wat hy nodig gehad het, voorsien het en waarskynlik ook nog ’n lening van vier ton goud gegee het, het Salomo aan Hiram twintig stede as vergoeding gegee (1 Kon 9:10-26). Dit was waarskynlik klein dorpies en nie veel werd nie; daarom kry die streek die naam Kabulstreek, wat nikswerd beteken (1 Kon 9:12b). Hiram was teleurgesteld toe hy sy vergoeding sien, maar spreek Salomo nogtans aan as sy broer wanneer hy vir hom sê: “Watse stede is dit wat jy vir my gee, my broer?” (1 Kon 9:13). Dit was eintlik ’n verleentheid dat die heidense koning sy ooreenkoms so presies nagekom het, maar koning Salomo, die gesalfde van God, se besigheidspraktyk laat veel te wense na. Tog het hulle later weer handelsprojekte saam aangepak (1 Kon 9:26-28). Moontlik was hierdie optrede die eerste tekens van koning Salomo se morele en sedelike verval.
’n Mens kan die afleiding maak dat Hiram ’n buitengewone lang en voorspoedige regeringstyd gehad het. Historiese data na hierdie tydperk is min en onvolledig, maar dit lyk tog asof daar na Hiram se stabiele regeringstyd ernstige naywer en onstabiliteit in die vorstehuis geheers het. Twee eeue van Assiriese oorheersing het gevolg, maar in die laaste dekade van die sewende eeu v C het die stad daarin geslaag om los te breek. ’n Goue tydperk van weelde, oorvloed en mag het weer gevolg.
Dit is in hierdie tydperk dat die Noordryk (722 v C) en die Suidryk (597 v C) van Israel in ballingskap weggevoer is en Esegiël, wat saam met die ballinge uit die Suidryk na Babel weggevoer is, as profeet opgetree het. God het Israel gestraf vanweë hulle eeuelange volgehoue sonde en die regeerder van Tirus en sy mense waag dit om hulself te verlustig in die Verbondsvolk se ellende (Eseg 26:2). Dit was in hierdie tyd die Tiriërs se lewensbeskouing om aardse goedere te versamel. Hulle het mense gevang en as slawe verkoop en hulle optrede het vrees ingeboesem by die omliggende volke. Hulle was wreed en hebsugtig. Die regeerder van Tirus het hom verbeel hy is ’n god met baie wysheid (Eseg 28:2-4). Die rykdom wat hy so sorgvuldig versamel het, het hom nog meer hooghartig gemaak en sy selfverheffing veroorsaak dan ook sy val.
Die profete Jesaja en Jeremia, wat albei in die Suidryk opgetree het, het ook oordeelsprofesieë teen Tirus uitgespreek (Jes 23:1-18 en Jer 25:15-38). Jesaja gee die rede vir die Here se besluit: Hy breek die trots en maak die hoogmoed tot niks. Jeremia kry opdrag van die Here om simbolies God se oordeelsbeker na ’n hele lys nasies uit te hou, waarvan Tirus een is.
In 587 v C, in dieselfde jaar waarin Jerusalem geval het, gee God aan Esegiël ook oordeelsprofesieë teen Tirus en sy regeerder. Hy spreek sewe voorspellings uit wat die stad se lot bepaal:
- Baie nasies sal teen hom optrek (Eseg 26:3).
- Nebukadneser sal die stad verwoes (Eseg 26:7).
- Sy mure en huise sal verwoes word en sy klippe, hout en selfs sy grond sal in die see gegooi word (Eseg 26:12).
- Sy grondlaag sal verwyder word sodat die stad net ’n kaal klipplaat is (Eseg 26:4).
- Hy sal net nog ’n plek in die see wees waar visnette droog gemaak word (Eseg 26:5).
- Hy sal nooit weer herbou word nie (Eseg 26:14).
- Hy sal nooit weer gevind word nie (Eseg 26:21).
Hierdie sewe oordele het soos volg letterlik in vervulling gegaan:
- Tirus is, nadat hy deur Nebukadnesar oorwin is, eers deur die Perse en daarna deur Alexander die Grote in 333 v C aangeval en oorwin. In 313 v C het die Romeine hom finaal onderwerp. In 1123 n C is Tirus deur die kruisvaarders van die Saraseens afgeneem. Sy voorspoed is egter finaal deur die Turke in 1516 n C verwoes. Dit was voorwaar baie nasies wat met eeuelange tussenposes soos die golwe van die see teen hom opgetrek het.
- Die jaar nadat die profesie uitgespreek is (586 vC), het Nebukadnesar die stad beleër. Na ’n beleg van 13 jaar was Tirus so verswak dat hy aan Babiloniese opperheerskappy moes oorgee. Toe Nebukadnesar se leër uiteindelik die stad binnestroom, vind hulle dit feitlik leeg. Die meerderheid mense het per skip na ’n eiland 2,4 km van die kus af gevlug en daar ’n nuwe stad gevestig. Die oorspronklike stad is in 573 v C deur Nebukadnesar verwoes (Eseg 26:7). Die nuwe stad Tirus op die eiland het vir etlike honderde jare bly voortbestaan.
- Toe Alexander die Grote in 333 v C teen Tirus optrek, was sy aanval gemik op die eilandstad. Die eiland was omring met hoë mure tot teen die see; dus feitlik onbereikbaar en onmoontlik om aan te val. By gebrek aan ’n vloot, het hy net eenvoudig begin om al die puin en afval van die ou stad in die see te gooi om ’n pad tot by die eiland te bou. Hy het alles wat hy in die hande kon kry, selfs die klippe, hout en grond gebruik (Eseg 26:4).
- Op hierdie wyse het hy daarin geslaag om ’n hawehoof of keerwal na die eiland te bou. Die inwoners van Tirus het die werk bemoeilik met teenaanvalle en hy moes ander volke wat hy reeds oorwin het, se vlote opkommandeer om hom te help. Na ’n beleg van sewe maande val hy die stad binne en agt duisend mense sterf. Dertig duisend word weggevoer as slawe. As gevolg van die bou van hierdie wye hawehoof, lyk die grootste deel van die eens glorieryke stad vandag nog soos ’n kaal rotsplaat (Eseg 26:4).
- Die hawe van Tirus word vandag nog gebruik. Klein vissersbootjies lê daar geanker. ’n Klein vissersdorpie met die naam Soar, het daar ontstaan. Waar eens die handelsmekka van die antieke beskawing was, gooi vissermanne nou hulle nette oop om droog te word (Eseg 26:5).
- Ander stede wat deur oorloë verwoes is, is altyd weer herbou. Jerusalem het telkemale weer uit sy ruïnes verrys. Die plek waar Tirus was, beskik steeds oor sterk fonteine met vars water en is uitstekend geskik vir ’n groot stad.. Tog is dit egter nooit weer herbou nie (Eseg 26:14).
- Die presiese plek van hierdie antieke stad kan vandag nie bepaal word nie as gevolg van die algehele vernietiging wat plaasgevind het. Ook dié voorspelling van Esegiël in Eseg 26:21 is vervul.