DIE DOODSTRAF

Lees reeks by  WAT SÊ DIE BYBEL OOR...

WAT SÊ DIE BYBEL OOR DIE DOODSTRAF?

Ons leef in 'n land met van die hoogste misdaadsyfers ter wêreld omdat die staat nie wet en orde handhaaf nie.  Om orde te handhaaf is die doodstraf ’n vereiste.  Lande wat dit afgeskaf het, het met dieselfde wetteloosheid as Suid-Afrika te kampe.

Die NuweTestament maak dit baie duidelik dat slegs die staat die doodstraf mag oplê en voltrek, nie 'n individu nie:

“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte... want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad dien, vrees dan, want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).

Gód het dus aan die staat die opdrag gegee om wet en orde te handhaaf.   Burgers het gevolglik die reg om in veiligheid te woon. En nêrens in die Nuwe Testament is die doodstraf ooit opgehef nie.

God se wetgewing aan Israel oor wát die doodstraf verdien, is universeel en geld vir alle tye. Dit het tot indeling van 21 oortredings gelei wat uiteindelik in vier groeperinge voorgehou is:

  1. Misdade waarby mense gesterf het.
  2. Godsdienstige misdade.
  3. Etiese misdade.
  4. Seremoniële of vormlike misdade.

Misdade waarby mense gesterf het:

Die Bybel eis dat moord vergeld moet word, ’n taak wat God uitsluitlik aan die staat oplê. Daarom is die vergeldingswet van krag wanneer mense tydens misdaad sterf.  Die doodstraf op moord moet in die lig van Gen.9:6 verstaan word.  Omdat hierdie opdrag vóór Israel se ontstaan as volk gegee is, is dit logies dat dit vir die ganse mensdom bedoel is en eers later plek in die wetgewing van Israel sou kry.   In oud-Israel was daar plekke waar vermeende oortreders ’n regverdige verhoor kon verkry genaamd 'vrystede'. Indien so ’n persoon wel aan moord skuldig bevind is, is hy summier tereggestel.

 

Godsdienstige misdade:

Mense wat aan godsdienstige misdade byvoorbeeld Sataniese rituele skuldig was of God gevloek het, is ook ter dood veroordeel.

Etiese misdade:

God het aan Israel sekere heiligheids- en reinheidswette gegee sodat hulle anders as die heidene moes leef.  “En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Ex.19:6). Daarom is etiese misdade soos uit Ex. 21:15,17 waar die vloek van ouers ter sprake kom, ook die doodstraf opgelê. So ook die koppigheid van ’n seun wat hom daarby aan drank oorgegee het (Deut.21:18-21), asook verbode geslagsgemeenskap (Deut.22:13-30).

Seremoniële misdade:

Die vierde vorm van misdaad wat die doodstraf ontvang het was wanneer heidense elemente by eredienste ingebring is. Dit is as vormlike misdaad beskou. In Lev.10:1,2 vertel Moses van Nadab en Abihu, die seuns van Aaron, wat vreemde vuur (heidense reukwerk) geoffer het. Hier het God Self opgetree en die twee met vuur uit die hemel verteer.   Selfs die skending van die Sabbat kon met die dood by wyse van steniging gestraf word (Num.15:32-36).

 

Daar is mense wat wil glo dat Jesus se kruisdood genoeg rede is om barmhartigheid aan alle mense te bewys. Dit kan egter nie die doodstraf per sè ophef en moordenaars straffeloos laat gaan nie. God Self gee dan ter wille van orde daartoe opdrag.

 

Ook die sogenaamde Bevrydingsteologie dat bose samelewings vir die misdaad verantwoordelik gehou moet word aangesien "bose samelewings bose burgers kweek", is van alle waarheid ontbloot en teenstrydig met God se opdrag hieroor.

Die probleem én oplossing lê by regerings.  'n Christenregering sal nie sy goddelike plig versaak nie. As ’n regering egter nie doelgerig teen misdadigers optree nie, is hy aan dieselfde misdaad aandadig, ’n gruwel in die oog van God (Deut.21:1-9), en skuldig aan die bloed van onskuldige misdaadslagoffers.

Ons moet in hierdie dae aanhoudend en ernstig tot God bid vir 'n gelowige owerheid wat die Woord van God as riglyn sal gebruik om ons land te bestuur. Alleen dán sal daar vrede en veiligheid heers, en alleen dán sal ons weer ons goddelike opdrag kan uitvoer om rustig voort te werk tot Hy ons kom haal.