PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Pinkster 2014

IN GOD SE OEFENSAAL

Meditasie

Skrif: Fil.4:1-9; Kol.3:1-10

Sang: Ps.18:1+14; Ges.47:1-3

Teks: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil.4:8)

Ons het ons geestelike oefenprogram met gebed afgeskop.  Die tweede oefening wat met gebed saamhang, is meditasie (bepeinsing), ’n geestelike oefening wat gelowiges geestelik fiks maak en al eeue lank beoefen word: “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld…” (Gen.24:63).

Wat is meditasie?   Tyd wat bewustelik opsy gesit word om oor die dinge van God na te dink: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here en hy oordink sy wet dag en nag” (Ps.1:1,2).   Meditasie is onontbeerlik vir geestelike fiksheid: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” ( Fil.4:8).

Ons let eerstens op wat meditasie werklik is, tweedens of gelowiges tyd daar-voor moet inruim en derdens hoe om dit reg te doen want daar is ook ’n verkeerde manier wat mense besete kan maak.   Hindoeïsme, Boeddhisme en etlike Sataniste groepe mediteer met die doel om in ’n vervoering te raak.  Dieselfde ding kom ook in misterie-godsdienste voor - godsdiens bewegings  wat onder die vaandel van die Christendom vaar en gedurig na bo-natuurlike ervarings smag.   Die Charismate is so ’n voorbeeld.

Beide die Charismate en Oosterlinge wil deur meditasie hul verstand leeg maak om plek vir nuwe waarhede te maak; alles subjektiewe meditasie.  Die Bybel huldig slegs objektiewe meditasie; waarhede wat reeds bestaan en bepeins moet word en nie nuwes waarna gesoek moet word nie.   Dis ’n baie belangrike onderskeid wat ons moet maak - nie subjektiewe maar objektiewe waarhede!

Hoe mediteer gelowiges?  Deur eerstens aan God as sulks te dink: “Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins” (Ps.63:6,7).  Tweedens mediteer gelowiges deur aan God se werke te dink: “Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd” (Ps.77:12).   Derdens mediteer gelowiges deur aan sy geopenbaarde Woord te dink: “Ek wil U bevele oordink en op U paaie let.   Al sit vorste en beraadslaag teen my – U kneg oor-dink u insettinge” (Ps.119:15 ,23).   Vierdens mediteer gelowiges deur aan mooi dinge te dink want dis dinge wat stigtelik en deugsaam is: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” ( Fil.4:8).

Gelowiges behoort te mediteer omdat dit ’n bron van vreugde en groot krag is:  “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here en hy oordink sy wet dag en nag.  En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps.1:1-3).

Meditasie laat gelowiges positief verander: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed….” (Rom.12:2).  Paulus skryf aan die Romeine dat God wil hê dat gelowiges “aan die beeld van sy Seun” gelykvormig sal wees (Rom.8:29).  Gelowiges moet meer soos Christus wees.  Dis slegs deur ’n vernuwing van die gemoed, d.w.s. ’n gesindheidsverandering moontlik.  En dit moet bepeins word!

Hierdie verandering is moontlik wanneer ons die regte dinge bedink – dinge van die ewigheid: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is… Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kol.3:1,2).  Slegs dan, wanneer ons gedagtes op die dinge van God ingestel is, sal vernuwing ’n werklikheid word. “ Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid… waarin julle ook vroeër gewandel het…. omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis van die beeld van sy Skepper” (Kol.3: 5,7,9,10).

Baie mense beleef geen geestelike oplewing nie omdat hulle aan verkeerde goed dink.  “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie” (Rom.8:5-8).

Geen mens kan geestelik wees indien jy vleeslike dinge bedink nie.  Wat maak ’n mens vleeslik?  Dinge wat jy sien en hoor.   Kyk maar net hoe word ons via die TV deur Amerikaanse gemors gebreinspoel!  Ons word oorval met inligting en gee nie altyd aandag daaraan nie; amper skadeloos en van verbygaande aard totdat jy op ’n dag ontdek dat jy net soos ongelowiges dink, praat en doen.  Jou waardesisteem word onbewustelik gevorm - ons word wat ons sien en dink!  Pasop vir die TV; dit verkoop nie net produkte nie, maar ook ’n leefwyse!  Jy moet deur meditasie jou gedagtes met geestelike dinge vul.  Niemand anders gaan dit vir jou doen nie.  Slegte dinge wel!

Wat is die regte meditasie?  Begin deur spesifiek tyd daarvoor in te ruim; ’n tyd en plek waar niks en niemand jou aandag aftrek nie.  Van Isak word geskryf: “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld…” (Gen.24:63).   Dawid het saans op sy bed gepeins: “My oë is die nagwake voor om u woord te oordink” (Ps.119:148). Dink aan positiewe dinge soos die teksvers lui.   Laat die Woord van God jou fokuspunt wees: “Ek wil u bevele oordink en op u paaie let” (Ps.119:15).

Lees die Bybel biddend: “Open my oë dat ek kan sien die wonders uit u wet” (Ps.119:18).  En wanneer jy lees, vra jou die volgende vrae af:  Is daar ’n waarheid in hierdie woord wat ek moet weet?   Korrigeer hierdie woorde moontlik iets wat ek nie reg verstaan nie?   Moet ek my optrede of gewoonte verander?  Dis sinvolle meditasie!  “Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van U gebooie nie” (Ps.119:10).

Gebed en meditasie gee geestelike spierkrag en maak gelowiges geestelik fiks: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here, my rots en my verlosser!” (Ps.19:15).