PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Pinkster 2014

IN GOD SE OEFENSAAL

Vrygewigheid

Skrif:  Luk.21:1-4; 2 Kor.8:1-15

Sang:  Ps.116:1, 9 +10; Ges.288:1

Teks: “Maar soos julle in alles oorvloedig is – in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons – sorg dat  julle ook in hierdie liefdesdaad oorvloedig is” (2 Kor.8:7).

Ons het nou al vier aande in God se oefensaal deurgebring en aan vier oefeninge deelgeneem - gebed, meditasie, sang en geloofsgemeenskap.   Die vyfde en voorlaaste oefening is milddadigheid.   Dit gaan nie net oor geld of middele aan mense in nood te gee nie, maar ook ons tyd, energie en gawes wat opoffering vra.  Hier in Christus ʼn wonderlike voorbeeld: “Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word” (:9).   Om meer soos Christus te word (die doel van geestelike oefening) moet ons goed geoefen wees in Christelike milddadigheid.

Om ons aan te moedig om dit te beoefen, is daar in die Bybel die voorbeeld van die Macedoniërs wat te midde van beproewinge en armoede nogtans gegee het: “...dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hul ryke milddadigheid” (:2).  Vers 3 sê dat hulle bo vermoë gewillig was.  Ja, die waardevolste milddadigheid kom van diegene wat dit byna nie kan bekostig om te gee nie – let op die arm weduwee van Luk.21!   Wat kenmerk die weduwee en Macedoniërs se milddadigheid?   Dat dit opofferend was.

'n Tweede kenmerk van Christelike milddadigheid is dat dit vreugdevol is.  Wat vir die Macedoniërs punte getel het, was dat sulke milddadigheid nie van hulle verwag is asof dit ʼn voorgeskrewe Christelike reël was nie.  Hulle het dit van harte en in liefde vir Jesus gedoen en só vreugde om te gee, ontdek.

Paulus haal Jesus aan:  “Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Hand.20:35).  Hierdie aanhaling is nie direk in die NT opgeteken nie, maar is een van talle onopgetekende wat Jesus in sy onderrig gebruik het.

Derdens word Christelike milddadigheid  aan vrywilligheid gekenmerk.   Die Macedoniërs is nie gedwing om te gee nie, maar het vrywillig gegee.  Dis die  milddadigheid wat God verlang.   Ons kan mense nie opdrag gee om bo hulle vermoë te gee nie. Paulus se: “Ek sê dit nie as ʼn bevel nie...” (:8).  Wat die Bybel wel sê, is dat dit wel gedoen moet word ten einde behoeftiges gelowiges te help.   Daarvoor is daar selfs Bybelse voorskrifte (1 Kor.16:1-4).

Opregte milddadigheid kom uit ʼn hart wat voor God reg is: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of met dwang nie, want God het ʼn blymoedige gewer lief” (2 Kor.9:7).  Gawes uit ʼn verkeerde hart moet maar liefs bly!

Die Macedoniërs doen iets navolgenswaardig as hulle by Paulus-hulle aandring om hul gawe na Judea te neem.  “...en hulle het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang” (:4).   So het die Filippense tot sy dood vir Paulus se lewensonderhoud ingestaan (Fil.4:10-18).

Waarom kon die arm Macedoniërs so milddadig gee?  Omdat hulle hul eerstens aan Jesus gegee het: “.... maar hulle het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God” (:5).  Wie só gee, is nie oor moontlike toekomstige tekorte besorg nie, maar hou aan die belofte van Jesus vas: “....Moenie julle kwel oor julle lewe - wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor julle liggaam – wat julle sal aantrek nie..... Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:25,33).

Omdat hulle aan God oorgegee was, was dit net natuurlik om hulle ook aan hul medemens te gee.  Die een veronderstel die ander. “ ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh.13:34,35).

Wat baat gelowiges by gee?  God seën hulle! “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die Here sal hom red in die dag van onheil.  Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie” (Ps.41:2,3).  “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde” (Spr.19:17).

God het gelowige gewers lief, want hulle doen reg: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of met dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief” (2 Kor.9:7).  Daarbenewens word God deur offergawes verheerlik – behoeftiges wie se nood verlig is, dank God daarvoor.  Dit versterk ook naasteliefde.

Maar hoe lyk Christelike milddadigheid prakties?  Dit bestaan nie net in die gee van geld nie, maar veral in die aanwend van gawes:  “Namate elkeen ʼn genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.  As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God, as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word...” (1 Pet.4:10,11).  Talente en tyd!

Ons is rentmeesters van alles wat ons het en is.  Daarom moet ons met die vermoë wat God ons gee, kan uitdeel.   Laat dit wat jy gee God se genade in jou lewe weerspieël.  Laat mense aan die regte benutting van jou gawes sien hoe goed God vir jou is!

Onthou: Die doel van hierdie Pinksterreeks is om geestelik fiks te word.  Moenie Christelike milddadigheid ʼn geringe oefening ag wat net so wel gelaat kan word nie.   Dit kan nie!  Dit getuig juis van ʼn gesonde geestelike lewe.  Gee jou soos die Macedoniërs eerste vir God en Sy saak op aarde en daarna vir mekaar!