OUMENSE VOL TATOEËRMERKE IS LELIK GOED...
Lees reeks by Weet jy, of wonder jy?
Nie net ons jongmense nie maar ook talle middeljariges, dink hulle moet hul 'jonkheid van gees' met 'n tatoeërmerk bewys. Het jy al gewonder of dit verkeerd is om jou liggaam te laat beteken? Vandag lyk dit asof almal dit doen en word dit al moeiliker om tussen die reg en verkeerd daarvan te onderskei.
Wat die tatoeërslawe nie besef nie is dat dit geen moderne gier is nie maar 'n baie outydse manier om onderdaniges te merk. Heidene het reeds in Assirië, Egipte en Babilon ink onder die vel van slawe ingewerk om eienaarskap aan te dui, dieselfde beginsel wat boere vandag nog met hulle vee uitoefen – 'n inskrywing om aan te dui dat dit sy eiendom is. So ook het afgodedienaars reeds van ouds af hulself met verskillende tekens laat tatoeër om te wys aan watter afgod hy behoort.
Israel het tatoeëermerke as toewydingstekens aan afgode verafsku:
“Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here”. (Lev.19:28).
Die antwoord hieruit is baie duidelik - jy mag nie doelbewus merke in jou vel laat insny nie want dit is liggaamskending en 'n sonde.
Sommige mense probeer tatoeëring regverdig deur dit as ‘n Ou Testamentiese (OT) verbod en deel van die uitgediende seremoniële wette te sien omdat die Nuwe Testament (NT) dit nêrens verbied nie. Dis egter baie gevaarlik om so te redeneer. Die seksuale omvang van mense met diere ( bestialiteit) word ook slegs in die OT verbied. Beteken dit dat die NT dit goedkeur? Beslis nie! Wat in die OT verbode was, is ook in die NT verbode. Dit is slegs die Joodse seremoniële wette wat saam met die Ou Verbond uitgediend geraak het.
In Lev.19:28 word twee dinge verbied - snye en tatoeëring. Heidene het hul flenters gekerf as teken van rou en droefheid. God noem in Lev.19:28 twee heidengebruike in een asem omdat dit oor die mens se liggaam gaan. Snye en tatoeëring is van meet af aan eie aan sataniese kultusse. Lev.19:26-28 verbied heidengebruike.
Tydens die Middeleeue het mense hul dikwels in die geheim laat tatoeëer as ‘n teken van vereenselwiging met spesifieke groepe, amper soos bendes vandag. Wie met so ‘n merk gevang is, is gewoonlik deur die Roomse Kerk van heksery beskuldig en desnoods op ‘n brandstapel verbrand!
Ons liggaam is solank as wat ons leef ‘n tempel van God:
“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? “ (1 Kor.6:19).
“Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees…” (:20).
“Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand ‘n tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.3:16,17).
Ons liggaam as tempel van God mag nooit met heidense merke mismaak word nie. Ons moet dit altyd só versier dat dit tot eer van God sal wees, nie tot selfverheerliking nie. Tatoeëring kom op afgodery neer - aanbidding van die liggaam. Tatoeëring dra 'n sentrale boodskap: Sien my raak want ek is belangrik. Die Woord van God roep ons telkens op om alles tot eer en verheerliking van die Here te doen, nie tot ons eie eer nie (Ps.150:6; Jes.61:3). Die Heilige Gees het nog nooit ‘n gelowige gelei om hom/haar te laat tatoeëer nie. Daarom het Hy talle mense met tatoeëermerke al van sonde oortuig waarna hulle die merke laat verwyder het – 'n pynlik proses!.
Gelowiges word opgeroep om anders te lyk en te doen as ongelowiges. Paulus skryf aan die gelowiges in Rome om nie aan die wêreld gelykvormig te wees nie, maar anders (Rom12:2). Tatoeëring is sonde en adem ‘n gees wat vreemd aan gelowiges is.
Gelowiges se gees behoort teen tatoeëring in opstand te kom omdat dit nie by hulle pas nie. Dit pas baie eerder by geweldenaars, misdadigers en onverskilliges. En kyk hoe lyk die meeste tatoeërings - die losbandigheid, duiwels, demone, geweld en wreedhede wat uitgebeeld word, gee duidelike aanduiding van wie daaragter sit. Daarby bly dit liggaamskending wat teen die wil van God is.
Duisende volksgenote word vandag meegesleur in die golf van heidendom, dikwels sonder om dit te besef. Kyk hoe lyk baie van hulle - kleredrag, haarstyle, tatoeëermerke; net soos heidene! Onthou dat die merke ook bly tot jy oud is – daar is niks so onbesienswaardig soos 'n oumens vol tatoeëermerke nie. Moenie daaraan meedoen nie. Vind jou vreugde opnuut in ons volk se behoudende waardes, leer jou kinders dienooreenkomstig, en pluk die vrugte van 'n gehoorsame lewe.