Ons bid hier nie dat God ons nie sal versoek nie, maar dat Hy ons nie in versoeking sal lei nie. Dink daaraan dat die Heilige Gees Jesus die woestyn in gelei het om deur die duiwel versoek te word. So beproef Hy ook sy kinders deurdat Hy die egtheid van ons geloof soms toets, maar self versoek God egter geen mens nie. Hy lei ons soms die strydperk in of bring ons na die toetsterrein, waar ons geloof getoets word, soos toe Abraham vir Isak moes gaan offer, of die beproewinge wat Job deurgegaan het, of om Jesus se dissipels se geloof te toets tydens die storm op die see.
Dit gaan vir God om ‘n gelouterde geloof. Hy gebruik die smeltkroes van beproewing om ‘n stukkie pure en suiwer goud, ‘n egte geloof, tot stand te bring in die lewe van sy kinders. Daarom kan Hy toelaat dat ons versoek of getoets word. God versoek nie, Hy beproef alleen. Versoeking wil tot sonde verlei. Beproewing wil van sonde bewaar. Versoeking wil ons slegter maak, maar beproewing wil ons beter maak. Versoeking besmet en beklad, beproewing louter en suiwer. Daarom beproef God, terwyl die duiwel versoek.
Daarom sê die sesde bede in die Onse Vader gebed: “Here toets en deurgrond ons, beproef ons as dit nodig is, maar gee dat die beproewing geen versoeking sal word nie.” As ons ons tot God wend met ons versoekinge, dan bely ons as sy kinders dat ons nie uitgelewer is aan die mag en lis van die duiwel nie, want ook sy versoekinge staan onder Gods toelatende wil. Al versoek God nie self nie, het Hy mag oor al die dinge wat ons kan versoek. En daarom kan ons bid: “Lei ons nie in versoeking nie.” Dit beteken: “Lei ons so dat ons nie op weë sal beland waar die bose ons kan oorweldig nie.” En indien God die versoeking wel toelaat in ons lewe, dat het ons die versekering: “Maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie, maar Hy sal saam met die beproewing ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra.” (1 Kor. 10: 13).
Met die sesde bede van die Onse Vader bid ons dan om nie daarheen gelei te word waar Satan met sy versoekinge ons sal oorweldig nie. Dit is ten diepste ‘n gebed dat God ons daarheen sal lei waar ons Hom die beste kan dien.