Dr JP Botha
Hierdie is ‘n saak van die allergrootste belang vir elkeen van ons. As Jesus nie geleef het nie, d.w.s. as Hy nie “vlees” geword het nie, dan was daar nie ‘n Verlosser vir die mens nie, want Hy alleen is die Verlosser (Joh. 3:16). Die evangelie sê vir ons dat die Seun van God waarlik mens geword het: in één Persoon is Hy God én mens.
Die Bybel en buite-Bybelse gegewens leer ons dat Jesus in die geskiedenis opgetree het. In die Bybel as die Woord van God, maak God Hom aan die mens bekend, veral soos Hy Hom in Christus geopenbaar het. In die Ou Testament is daar talle voorspellings in verband met dIe komende Messias. Daar is geprofeteer dat Hy in Bethlehem Efrata gebore sou word (Miga 5:1), dat Hy nederig op ‘n esel sou ry (Sag.(9:9), dat Hy bitter sou ly (Jes. 53) ens. Met die geboorte en lewe van die Here Jesus is hierdie eeue-oue voorsegginge letterlik vervul.
In die Nuwe Testament gee die vier evangelies besonderhede oor Jesus se lewe: Hy is uit die huis en geslag van Dawid. Hy is gebore tydens die regering van keiser Augustus, in die dae van Herodes.
Die Bybel vertel vir ons van Jesus se geboorte, sy handel en wandel, van sy verhoor en van sy kruisiging. Paulus se briewe en die ander sendbriewe en ook Openbaring vertel vir ons van Jesus wat geleef het en in die baie tekste in die Nuwe Testament vir die nageslagte bewaar gebly het. Oor die feit dat Jesus geleef het, laat die Bybel geen ruimte vir twyfel nie.
Daar is ook buite-Bybelse gegewens wat van Jesus praat. Flavius Josephus praat in sy boek oor die Joodse oudheid van “Jesus wat Messias genoem is. Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus skryf: “Christus, van wie die naam afgelei is, is in die dae van keiser Tiberius deur die goewerneur Pontius Pilatus ter dood veroordeel.”
Talle geleerdes het met wetenskaplike deeglikheid die gegewens in die vier evangelies gekontroleer en dit tot in die besonderhede histories juis bevind. Iemand wat beweer dat Jesus nie geleef het nie, sal moet bewys dat die oorvloedige getuienis van die Bybel en ander historiese gegewens onwaar is.
Die gelowige vra nie na bewyse vir die bestaan van God of Jesus se lewe op aarde nie. Dis feite wat hy in die geloof aanvaar. Die Skrif sê: Die geloof dan is ‘n vaste.vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebr. 11:1).
Die groot wonder is dat Jesus wat geleef het, nog leef! Hy is aan die regterhand van God waar Hy vir ons intree! (Rom.8:34). En eenmaal sal Hy weer kom (Joh. 16:16).