TWYFEL JY DAT GOD SELF VIR JOU GEKIES HET?

ONTHOU DAN, GOD HET JOU GEKIES TEN SPYTE VAN...!

Het jy jouself 'afgeskryf'? 'n Mens raak soms so moedeloos oor jou swakhede en sondes dat jy sommer self besluit dat jy niks beteken nie. As jy mooi daaroor nadink sal jy besef dat jy met so 'n houding in der waarheid vir die Here wil voorskryf dat Hy jou nie meer mag gebruik nie omdat jy (volgens jouself) kwansuis nie meer bruikbaar is vir Hom nie. Nee!

Die Here het vir Dawid gesê : "Jou seun Salomo, hy sal my huis en my voorhowe bou want Ek het hom vir My as 'n seun verkies, en Ek sal vir hom 'n Vader wees" 1 Kron 28. Weer eens het Dawid sy seun bemoedig deur hom daaraan met dié woorde te herinner: "Kyk nou, die Here het jou verkies om 'n huis vir 'n heiligdom te bou; wees sterk en voer dit uit"...."Wees sterk en vol moed, en voer dit uit; vrees nie en wees nie verskrik nie, want die Here God, my God, sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, dat jy al die dienswerk aan die huis van die Here voltooi."

Wie is dit wat deur die Here gekies is om sy huis te bou? Was dit dan nie die seun van Batseba, die vrou wat as gevolg van Dawid se sonde deel van sy huishouding geword het nie? Hoe is dit dan moontlik dat haar seun die koning van Israel kon word en nog die tempel van die Here kon bou, iets wat Dawid so graag self wou doen? Wat het Salomo gedoen om soveel roem en eer te verdien?

Nee, hy het niks gedoen om dit te verdien nie, maar het soveel genade van God ontvang! Ons lees immers: "...en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword" Rom 5. Die Here het Dawid nie net vergewe toe hy sy sonde bely het nie, maar ook sy verhouding met die Here volkome herstel. Hy is dus nie net begenadig en nié van sy amp as uitverkore leier van God se volk onthef nie, maar het voortgegaan om die Here te dien en 'n geweldige rol in die geskiedenis van die wêreld en uiteindelik ook die kerk van Christus gespeel.

As God Salomo kon kies om Hom te dien en sy tempel te bou, kan Hy jou ook kies! En as jy glo, dan het Hy jou reeds gekies. En Hy het jou nie net gekies om êrens byna onsigbaar deel van die agtergrond te wees nie, maar om aktief aan sy huis te help bou. Dit maak nie saak hoe jou verlede lyk nie. As jy na Hom teruggekeer en jou sonde met 'n opregte hart bely het, sal Hy jou vergewe en jou verhouding met Hom volkome herstel – uit liefde en blydskap teenoor jou. Glo en weet dat Hy jou eerste liefgehad het en jou deur elke dag dra – ten spyte van jou onvolkomendheid en sonde!