WORD MENSE BESETE DEUR SATAN?

BESTAAN DUIWELBESETENHEID NOG?

Dr JP Botha

Die Bybel praat oor besetenheid as ‘n verskynsel wat, veral in die tyd van Jesus, taamlik algemeen voorgekom het.  Daar was nie net mense wat deur die duiwel beset is nie, maar die duiwel en sy bose geeste het selfs die natuur “beset” en ‘n storm veroorsaak (Matt. 8:23-27) , en kan ook in diere vaar (Mark. 5:13)

Besetenheid is die uiterste vorm van beheer deur die duiwel oor 'n persoon.  Hy neem óf willekeurig van mense besit (Luk 9:39), of in opdrag van God (1 Sam. 16:14).  Dit kan ‘n permanente besetting wees, of tydelik en kan uiterlik na kranksinnigheid lyk of na epilepsie.

Die duiwel laat die besetene so optree dat dit met die simptome van geesteskrankhede ooreenstem, soos kranksinnigheid, waansin of psigoses of liggaamlike siektes soos blindheid of stomheid.

Hierdie verskynsel is die tekens van die stryd tussen die lig en die duisternis, tussen die koninkryk van God en die ryk van Satan.  So baie van hierdie gevalle het voorgekom in die tyd van Christus, omdat hy die koninkryk van God kom herstel het en Satan hom daarteen verset het.

Besetenheid deur die duiwel kom ook in die 21e eeu voor, omdat Jesus nie die oordeel oor die duiwels voltrek het nie, maar dit uitstel tot by die voleinding van die wêreld.  Mense maak daarop aanspraak dat hulle duiwels uitdryf.  In Engeland wil die Anglikane en Rooms-Kakatolieke nou mense aanstel om duiwels uit te dryf.  Die stryd tussen lig en duisternis gaan steeds voort en daarom sal daar altyd gevalle van besetenheid wees.  Die duiwel is nog steeds werksaam.  Behalwe vir sy nuwe streke, bly sy werksmetodes nog dieselfde.

Besetenheid is opvallender waar sendingwerk gedoen word, want ou Satan staan nie sommer sy mense maklik af nie.  Dit kom ook baie voor waar die Oosterling met die evangelie te doen kry. Waar daar groot afval van die Christendom is, neem Satan-aanbidding aanmerklik toe, asmede duiwelbesetenheid.  Dit sal ook geweldig toeneem in die dae van die groot afval voor die wederkoms van Christus, want die stryd tussen die lig en die duisternis sal dan op die spits gedryf word.

Ons moet versigtig wees om nie gewone siektetoestande as besetenheid te beskou nie,  maar moet ook nie die duiwel uit die oog verloor deur die besetenheid in terme van die wetenskap te probeer verklaar nie.  Is daar oorwinning moontlik?  Die Here het duiwels uitgedryf en kan dit vandag nog doen.  Die mens kan alleen in die almag van God, deur geloof en gebed duiwels uitdryf.  Met die uitdryf van die duiwel, breek die koninkryk van God in die mens deur.  (Matt. 12:28).