BESTAAN DIE DUIWEL WERKLIK?

Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in, om versoek te word deur die duiwel. Matt. 4: 1.

Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Matt. 25: 41.

Ons het in hierdie Boekevat-reeks reeds die vraag wat baie mense gekwel het, naamlik of daar ‘n hel is, behandel en uit die Woord aangetoon dat daar beslis so ‘n verskriklike plek bestaan.  Omdat die Here die hel ingerig het vir die duiwel en sy engele lank voordat Eva en Adam gesondig het, wil ons vlugtig nagaan wie die duiwel is en waar hy vandaan kom.

Baie mense het in die verlede sy bestaan ontken en beweer dat hy maar net die simbool is van alles wat verkeerd  is. Maar wat die Bybel ons van hom vertel, is dit duidelik dat hy geen simbool van die kwaad is nie, maar dat hy werklik bestaan en ‘n baie besige lewe lei!

Die Bybel vertel vir ons in Joh. 8:44 en in Judas 6 en in 2 Petrus 2:4 dat die sonde in die engelewêreld ontstaan en opgekom het in die hart van wesens van wie ons weinig kennis het en ook nie eintlik ‘n voorstelling van kan maak nie.  Die engele het as redelike wesens voor die beslissing gestaan om vir God te kies.  Één van die engele het egter van ‘n ander wêreld gedroom met ander verhoudinge, waarin hy nie ondergeskik aan sy Skepper sou hoef te wees nie.  Stellig vanweë hoogmoed het hy besluit om aan God  nee te sê en sodoende sy aangewese  woon- en werkplek verlaat.  Hy word deur Jesus genoem die vader van die leuen, omdat hy nie in die waarheid staande wou bly nie.  Hy het selfs daarin geslaag om ‘n hele aantal van die engele met hom saam te neem (Openb. 12: 4) deur hulle te oortuig dat sy leuen die waarheid is.

Sy name: Satan (beteken Teëstander) en duiwel (wat beteken : ophitser, lasteraar, iemand wat behae daarin skep om te skei wat eintlik bymekaar hoort.)  Hy word ook genoem Beëlsebul, die ou slang, die draak (in Openbaring), die owerste van hierdie wêreld, mensemoordenaar van die begin af, die god van hierdie eeu, die versoeker, ens.  Al hierdie name dui op ‘n werklike duiwel

Die Bybel vertel ons van ‘n koninkryk waarvan die duiwel die hoof is (Matt. 12: 26),  met baie duiwels wat sy engele is (Matt. 25: 40).  Hulle is baie duidelik werklik bestaande wesens, wat die teëstanders van God is en die verstoorders van sy ryk.

Kyk na die listige aanval van die Satan op die mens wat voor die keuse gestaan het om óf vir óf teen God te kies.  By die sondeval het die duiwel die mens oortuig om die leuen te glo deur dit voor te hou as die waarheid wat die Here te bang sou wees om aan die mense te vertel.  So het die Here Jesus ook tydens die versoeking te doen gehad met ‘n werklik bestaande duiwel wat hier wanhopige pogings aanwend om Hom te oorreed om by die gevalle engele aan te sluit, want hy het vermoed dat Christus hom gaan oorwin.  Maar tot vandag toe probeer hy nog steeds om skeiding te bring tussen die mens en die Vader, wat hy in Jesus Christus teruggevind het.  So sal dit aanhou tot aan die einde van die tye, wanneer  Christus die Satan finaal sal oorwin en onskadelik sal maak.  Omdat die Satan vurig begeer om nie net vir Petrus nie, maar ook vir ons soos koring te sif, bid ons saam met die Here Jesus dat ons geloof nie sal ophou nie.  (Luk. 22:31).