Dr JP Botha
Is daar iets soos geloofsgenesing en wat is dit? Dit is Goddelike genesing op die gelowige gebed. Ons moet dit onderskei van die gawe van gesondmaking wat in die tyd van die apostels voorgekom het en wat ‘n spesiale genadegawe van die Heilige gees was. Net soos die ander buitengewone gawes soos dié van wondere, vreemde tale en profesie, het hierdie gawe van gesondmaking na die tyd van die apostels nie as ‘n gereelde genadegawe bly voortbestaan nie en in die loop van die geskiedenis het dit nie meer voorgekom nie.
Goddelike genesing op die gelowige gebed of geloofsgenesing is egter ‘n heerlike waarheid wat vandag nog gereeld in ons kerk beoefen word op grond van beloftes in Johannes 14 vers 13 en 14. Elke ware gelowige gaan in die dag van siekte na die Here met sy nood en behoefte.
Ons glo dat die Here Jesus die ware en enigste Geneesheer van ons krankhede is, al maak ons ook gebruik van die dokter en van geneesmiddels. Jacobus se woorde is vandag nog waar: “Die gebed van die geloof sal die kranke red en die Here sal hom oprig (5:15). Baie, baie mense kan daarvan getuig. Die Here sê in Exodus 15 vers 26 Hy is die Here wat ons gesond maak. Die gawe van gesondmaking word nie meer verbind aan sekere charismaties-begaafde persone soos in die ou tyd nie, maar gebedsgenesing is die voorreg van die hele kerk en van al die gelowiges.Ons mag egter die dokter raadpleeg en van die regte geneesmiddels gebruik maak, want geneesmiddels wat gelowig en met danksegging gebruik word, is heeltemal Skriftuurlik. God werk deur middels sowel as daarsonder na sy welbehae. Die Here Jesus het by sy genesingswondere ook soms van middele gebruik gemaak.
As ‘n sieke egter met oortuiging bid dat die Here hom moet genees, sonder dat hy ook van geneesmiddels wil gebruik maak, is daar niks wat hom verhinder nie. Die Here kan daardeur verheerlik word en die herstelde sieke se geloof versterk.
‘n Gelowige kind van God wat vir sy genesing bid, moet altyd tevrede wees om gelowig in die wil van die hemelse Vader te berus. Die Here het met ons siekte ‘n wyse en heilige doel. Hy wil sy kind louter, of ander nader aan Hom bring en sy Naam verheerlik. Ons sien op verskillende plekke in die Bybel dat God ‘n doel met ons krankhede en lyding het.
Ons vind ook dat die Here Jesus en die apostels nie alle siekes genees het wat hulle teëgekom het nie. Hulle het iemand net genees wanneer dit duidelik was dat God dit so wil.
Die gebruik van handoplegging en die salwing van siekes wat in die eerste Christelike gemeentes gebruiklik was, het slegs simboliese betekenis gehad en het na die stigtingsperiode van die kerk in onbruik geraak en verdwyn. Die salwing met olie was destyds die algemeen gebruiklike metode van mediese behandeling vir feitlik alle soorte siektes. Die bevel van Jakobus dat, as iemand siek is, die ouderlinge ingeroep moet word en dat hulle oor hom moet bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het (Jak 5:14), sien slegs op ‘n bestaande gebruik in daardie dae en is nie bedoel as ‘n voorskrif vir ons of as ‘n metode van geloofsgenesing wat vir alle tye geld nie. Wat Jakobus hier beklemtoon is dat daar vir die sieke gebid moet word. Die gelowige gebed vir die genesing van die sieke kan sonder die oplegging van hande en die salwing geskied, anders kan dit maklik tot bygelowige opvattings aanleiding gee.