HIPNOSE – GENESEND OF SKADELIK?

Ds AE van den Berg

Hipnose neem iets weg waarsonder gelowiges nooit durf wees nie - selfbeheersing.   Dis immers een van die vrugte van die Heilige Gees.  “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal.5:22).  “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim.1:7).

(Eseg.18)

Hipnose word al jare lank as ’n sielkundige tegniek aangebied.  Duisende mense maak daarvan gebruik.   Maar wat is dit werklik?  Mag gelowiges dit gebruik?   Is dit nie miskien sonde nie?  Wat sê die Bybel?

Hipnose vorm deel van ’n moderne beweging wat innerlike genesing voorstaan.  Dis nie ’n Bybelse begrip nie en het hoofsaaklik by ateïs-wetenskaplikes soos Sigmund Freud, Carl Jung en Agnes Sanford steun verkry.  Sielkundiges soos Norman Vincent Peale en ander het dié idees selfs in die kerk te lande laat kom.

As gelowige het ek ’n probleem met hipnose want dit verplaas mense se vertroue van God na ’n ander mens.   Die metodes wat voorgeskryf word soos  visualisering, joga, selfhipnose en geestesgenesing laat vir my rooi ligte brand.

Die probleem is dat hipnose dikwels met Christelike terminologie versluier word.   Daar word selfs van Christelike visualisering gebruik gemaak waar die hipnotiseur ’n denkbeeldige beeld van Christus skep wat die pasiënt soos ’n gids deur ’n moeilike tyd lei.  Roomse hipnotiseurs maak ook graag van hierdie tegniek gebruik, maar vervang Christus met Maria as die geestelike gids.

Hipnose word as ’n vinnige oplossing vir angs, vrese, depressie en ander sielkundige skete aangebied, veral probleme wat weens traumatiese ervarings ontstaan het.   In hoofsaak kom dit daarop neer dat genesing eers kan begin nadat die vinger op een of ander onaangename gebeure in die verlede gelê is waaroor die pasiënt swyg.   Sulke seerkry lê glo in die onderbewussyn en ’n hipnotiseur kan dit na die oppervlak bring.   Voordat dit nie gebeur nie, kan die persoon nie gesond word nie.   Die blaam vir sondes word dus op iets in die verlede geplaas en nie op onsself nie.   Hoe verskil dit nie van o.a. Eseg.18 wat die klem op ons eie persoonlike verantwoordelikheid laat val nie!  Desondanks waag duisende niksvermoedende gelowiges kanse met hipnose .

Hipnose is niks nuut nie.  Dit word al vir duisende jare deur toordokters, hekse, spiritiste, Hindoes en Boeddhiste gebruik.  Hulle sê dat hipnose ’n normale, natuurlike verskynsel is - ’n toestand van verhoogde fokus.

Alhoewel die meeste hipnotiseurs net ’n ligte tot medium transtoestand voorstaan, kan hulle nie verhoed dat ’n pasiënt in ’n dieper toestand versink nie.  Dis bitter gevaarlik en kan tot verbeeldingsvlugte, sinsbedrog, buite-liggaamlike ervaringe, persoonlikheidsveranderinge en veel erger dinge lei.   Ernst Hilgard het deeglike navorsing oor hipnose gedoen en tot die slotsom gekom dat dit demoniese besetting is en in sy dieper vlakke onmiskenbaar duiwelskuns!

Kan ’n hipnotiseur iemand dwing om iets teen sy wil te doen?  Die meeste hipnotiseurs sê dat ’n persoon se wil nie aangetas word nie.   Dis ’n leuen!    Hipnose verlaag ’n persoon se wil tot op die vlak dat hy alles sal glo wat hom vertel word.   Hy gaan in so ’n beswyming, dat hy selfs dinge in die vertrek waarneem wat glad nie bestaan nie.

Hipnose is gesofistikeerde beswyming en verlaag ’n persoon se onderskeidingsvermoë so dramaties, dat hy dinge sal aanvaar wat hy andersins nooit sou nie.   Hy verloor sy vermoë om rasioneel te dink en sal selfs dinge doen wat hy in ’n wakker toestand nie sou doen nie.   Dit bring ons by die gevaar van hipnose - dit omseil die persoon se wilsproses en verplaas die persoonlike verantwoordelikheid na iets buite sy persoonlike verantwoordelikheid!

As jy tot hipnose inwillig, het jy in werklikheid alreeds ingestem en aanvaar om anders as normaal op te tree d.w.s. om dinge te doen wat jy in ’n wakker toestand nie sou doen nie.   Jy gee aan die hipnotiseur oor!

Een van die gewildste tegnieke in hipnose is om tot in die kinderjare terug te gaan.   Baie pasiënte het in sulke beswymings selfs vorige lewens beskryf.   Dit word deur heidene as ’n bewys van reïnkarnasie gesien!   Dis natuurlik geheel en al on-Bybels!  Heb.9:27 sê dat die mens net eenmaal op aarde leef en Salomo dat die mens na die dood na sy ewige huis gaan (Pred.12:5).  Jou siel word nie soos ’n motor se masjien oor gebou en in ’n ander bakwerk geplaas nie!

Navorsing het getoon dat ’n gehipnotiseerde persoon nie tussen ware gebeure en indrukke wat onder hipnose geskep is, kan onderskei nie.   Die kans dat hipnose ware en valse weergawes van gebeure na vore kan bring, is dus ewe groot.

Omdat sommige mediese dokters en sielkundiges van hipnose gebruik maak, glo baie mense dat dit ’n mediese praktyk is en ’n wetenskaplike grondslag het.   Die term medies laat dit aanvaarbaar klink.   Maar dit is nie!   Ten spyte van jarelange navorsing oor hipnose, kon dit nog nooit onomwonde as wetenskaplik verklaar word nie!

Dr. Daniel Coleman, ’n kliniese sielkundige, het in 1977 ’n insiggewende artikel oor hipnose geskryf en gesê dat ná 200 jaar, die tyd wat hipnose aan die Weste bekend is, dit steeds nie gesê kan word wat hipnose is en hoe dit werk nie.   Dis beslis nie ’n wetenskap nie!

Die toestande wat in hipnose meegebring word, verskil nie veel van dit wat jogi’s, hekse en toordokters bewerk nie.  Net die prosedure verskil; nie die resultaat nie.

Hipnose neem iets weg waarsonder gelowiges nooit durf wees nie - selfbeheersing.   Dis immers een van die vrugte van die Heilige Gees.  “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal.5:22).  “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim.1:7).

Enigiets wat die rol van die Heilige Gees in ’n gelowige se lewe wil oorneem of uitskakel, is nie uit God nie en derhalwe Satanies.  “Wees nugter en waaksaam, want hulle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind “(1 Pet.5:8).   Ware gelowiges sal nie vir ’n sekonde iemand in beheer van hul gees plaas nie!

Hipnose is al eeue lank deel van die heidendom wat deur sataniese gebruike deurspek is.    God het Israel streng teen die heidendom se skadelike gebruike gewaarsku.   Lees gerus Deut.18 en 19.   Hipnose kan met Bybelse begrippe van waarsêery en goëlery in verband gebring word .

Wie ken die mense se hart beter as die Here?   Nie mense nie!  “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit, wie kan dit ken?  Ek, die Here, deursoek die hart…” (Jer.17:9,10).   Enige ander poging om die hart te deursoek, sal bedrieglike resultate oplewer!

Nog ’n ernstige probleem met hipnose is dat die mens sy geloof in die hipnotiseur en sy tegniek stel i.p.v. God en sy Woord.   “Vervloek is die man wat op die mens vertrou…terwyl sy hart van die Here afwyk” (Jer.17:5).  Dink ook daaraan dat geen enkele aspek van hipnose die mens se geloof en vertroue in God bevorder nie.  Daarbenewens is daar geen aspek van hipnose wat God verheerlik nie.   Die onbewuste of dieper self ontvang al die aandag.

Nee, God spreek tot mense deur hul rasionele verstand.  Daarom kan hulle wilsbesluite neem.   Dis kontroleerbaar.  Hipnose daarenteen werk net met die onkontroleerbare – die verbeelding, hersenskimme asook sins- en selfbedrog.   Die groot gevaar van hipnose bly dat iemand wat hom oopstel vir misleiding ook ander vorms van misleiding ten prooi kan val.

Daar is geen Bybelse aanduiding dat enige priester, profeet of apostel ooit met onderdrukte gevoelens en herinneringe moes werk ten einde genesing te bewerk nie.  Daarvoor was gebed, Skrifstudie en die krag van die Gees genoegsaam.

Ten spyte van al die fisiese en emosionele beproewing wat Paulus moes deurmaak, was hy nogtans in staat om sonder menslike hulp voort te gaan en hom steeds in die Here te verbly.   Hy kon die jammerlike verlede vergeet en hom op die dinge van die Here instel:  “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil.3:14).

Vir gelowiges is die ou dinge van minder of geen belang nie.  Soos Paulus sê het die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword (2 Kor.5:17).   Om in die verlede te bly grawe ten einde onsself te probeer vind, bots met die hele Skrif.  Daarbenewens beroof dit ons ook van Bybelse oplossings.  Daarom, los die verlede.   Al wat saak maak, is hoe ons verhouding tans met Jesus is.