WAT VAN DIE SPREEK VAN VREEMDE TALE IN DIE EREDIENS?
Dr JP Botha
Ons moet dit in sy wyere Bybelse verband nagaan. In Handelinge 1 vers 2 tot 13 lees ons dat op die Pinkster die gawe van die Heilige Gees ontvang is en terselfdertyd daarmee die gawe van spreke in vreemde tale. Maar daar word duidelik bestaande tale of dialekte genoem. Die bedoeling was ook duidelik dat God hierdie gawe om vreemde tale te kan spreek aan die eenvoudige Galileërs gegee het sodat ook hierdie anderstaligers kon hoor van die groot dade van God in hulle eie taal waarmee hulle opgegroei het.
Maar in die gemeente van Korinthe het die spreek van vreemde tale as ‘t ware handuit geruk. Die Korinthiërs het blykbaar tale begin spreek wat nie bestaan het nie en gedink dat as ‘n mens maar net ongeartikuleerde geluide maak, jy ‘n groot Christen is, want die ontvangs van die Heilige Gees en die gawe van spreek in vreemde tale hang immers saam. Dat hulle geen bestaande tale gespreek het nie, weet ons onder andere uit 1 Korinthiërs 13 vers 1, waar Paulus so ‘n pratery vergelyk met ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal, terwyl hy in 1 Korinthiërs 14 vers 7 sê dat hulle soos fluite en siters is wat geen onderskeid in toon laat hoor nie. In 1 Korinthiërs 14 vers 8 sê hy dat hulle soos basuine is wat ‘n onduidelike klank gee en daarom sal ook niemand klaarmaak vir die oorlog nie.
Daar het by hierdie saak waar die Korinthiërs net onverstaanbare geluide gemaak het, nog iets bygekom. Hulle het begin spog en grootpraat en gedink hoe meer sulke onverstaanbare tale jy praat, hoe meer jy die gawe van die Gees het en hoe ‘n groter Christen is jy. Hulle het liefdeloos en opgeblase geword en sommige het selfs gesê hulle praat die taal van die engele.
Maar Paulus sê dat hy in meer tale kan praat as al die Korinthiërs. Dit het hy in die skole en die universiteit geleer. As iemand in ‘n taal wil spreek, sê Paulus, spreek dan in enige vreemde, bestaande en verstaanbare taal in die gemeenskaplike samekoms, maar dan moet dit deur iemand wat so ‘n taal (byvoorbeeld Grieks of Latyn) ken, uitgelê word.
Paulus het iemand wat in ‘n vreemde taal wil spreek wat niemand verstaan nie of wat miskien ook nooit bestaan nie, aangeraai om dit privaat te doen, want in die gemeente moet liewers geprofeteer word, dit wil sê , die Skrif moet helder en duidelik uitgelê word sodat die gemeente stigting en troos en bemoediging kan ontvang.