AKTUELE VRAE
Daar word so baie dinge oor die belangrikste Persoon in die heelal gesê, baie met kwade bedoelings, dat ons graag hier aan belangstellende lesers weer wil vertel wie Hy is:
In Matt. 1 vers 21 lees ons hoe die engel van Godsweë aan Josef meedeel: “Sy sal ‘n Seun baar en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.
In Luk. 1 vers 35 sê die engel aan Maria: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.
Dit beteken dat Jesus as ‘n heilige mens gebore is, sonder sonde en dat Hy terselfdertyd waaragtig God is. Jesus het self gesê: “Ek en die Vader is een. Wie My gesien het, het die Vader gesien.” Ons aanbid nie die mens Jesus nie, maar Jesus as Verlosser en Seun van God, wat ons aan God gelykstel, soos Thomas: “My Here en my God!”
Alhoewel daar algemeen aanvaar en geleer word dat die naam Jesus Verlosser en Saligmaker beteken, soos Matt. 1 vers 21 sê, beteken die naam Jesus letterlik; “Die HERE is hulp, heil of verlossing,” ‘n samevoeging van ‘n verkorte vorm van Jahwe (die verbondsnaam HERE).
Ons sien dus dat die naam Jesus alreeds ‘n bewys van sy goddelikheid is en dat die Here die bewerker van die verlossing is en nie ‘n mens nie.
Op grond van hierdie genoemde tekse en nog baie ander in die Bybel, is dit duidelik dat daar geen ander verlosser is as Jesus alleen nie. Hy is die enigste, die ware, die volkome Verlosser. Is Hy u s’n ook?