AKTUELE VRAE
Die hel is 'n plek van onblusbare vuur: '... die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand' (Matt 3:12) Dit is ook 'n plek van herinnering en berou. In Luk 16:19-31 beleef die ryk man die herinnering van en berou oor sy verlore toestand. Die hel is ook 'n plek van dors: 'Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in die water steek en my tong afkoel want ek ly verskriklik in hierdie vuur' (Luk 16:24). Dié wat in die hel is beleef ellende: 'Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op...' (v 23) 'En hierdie mense sal die ewige straf ontvang...' (Matt 13:42, 24:51). Dié wat in die hel is, smeek nie om uit te kom nie en beleef ook nie verdriet nie; hulle getuig eerder van woede en 'n haat teenoor God. Hulle verwerping van God is in die dood groter as in die lewe.
Die onbekeerde mens maak dikwels grappies oor die hel en sê: 'As ek hel toe gaan, sal ek nie eensaam wees nie want al my vriende sal ook daar wees.' Maar die teenoorgestelde is waar! Die hel word die 'tweede dood' genoem (Op 2:11, 20:6, 14, 21:8). In die Bybel beteken dood nie die einde van 'n bestaan nie maar verwys dit na skeiding. Sondaars sal vir ewig van God en van ander geskei wees. Laastens is die hel 'n plek van duisternis wat ongetwyfeld die sondaar van die geselskap van onbekeerde vriende sal skei.