AKTUELE VRAE
DIE SABBATDAG
Ons hoor dikwels dat die vraag gestel word: “Wie het die sewende dag verander na die eerste dag van die week?” Dit kan egter baie duideliker gestel word: “Wie het bepaal dat die eerste dag (Sondag) vir die Nuwe Testamentiese gemeente die dag van samekoms vir godsdienstige doeleindes geword het en nie meer die sewende dag (Saterdag), soos dit in die Ou Testament was nie? Indien ons dit só stel, verstaan elkeen wat bedoel word, want die sewende dag is nooit na die eerste dag verander nie. Dit bly nog altyd die sewende dag.
God het self hierdie bepaling gemaak deurdat Hy sy Seun op die eerste dag van die week uit die dood opgewek het.
Jesus bevestig hierdie werk van sy Vader deur sy herhaalde verskynings op die eerste dag van die week. Die Heilige Gees verseël dit deur sy sigbare verskyning in die midde van die dissipels op Pinksterdag wat ook op die eerste dag van die week geval het. In die Ou Testament is die sewende dag die teken van God se voltooide skeppingswerk en van sy voltooide verlossingswerk toe Hy Israel uit die slawehuis verlos het. In die Nuwe Testament word die eerste dag deur die daad van die Drie-enige God wat aan die begin van die antwoord genoem is, die teken van God se voltooide verlossingswerk. Daarom vergader sy gemeente sedert Jesus se opstanding en sedert die uitstorting van die Heilige Gees wat albei op die eerste dag plaasgevind het, nog steeds op die eerste dag, of, soos dit in Openbaring 1 vers 10 genoem word: “ ...die dag van die Here."