BEHOORT CHRISTENE IN DIE HOF 'N EED AF TE LÊ?

AKTUELE VRAE

Daar is sommige Christene en sommige kerke wat hulle lede leer om nie 'n eed in die hof af te lê nie. Hulle baseer hul beginsels op die volgende verse: 'Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom. Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie want dit is die troon van God; nie by die aarde nie want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle 'ja' eenvoudig 'ja' wees, en julle 'nee', 'nee'. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose. ' (Matt 5:33-37)

In die tyd van Christus se aardse bediening het baie Jode 'n fyn uitgewerkte stelsel ontwikkel om 'n eed af te lê, wat hulle dikwels beskerm het daarteen om die waarheid te praat. Iemand mag byvoorbeeld sweer dat hy die waarheid gepraat het volgens die koepel van die tempel en die ander sweer by die goud op die koepel van die tempel! Daar was met ander woorde grade van waarheid, en dus grade van leuens, binne hul stelsel van 'n eed aflê. In ons tyd het hierdie gewoonte verskeie frases na vore laat kom soos ' Ek sweer voor die Here', 'Mag ek dood neerval', of  'Op my moeder se graf'. Jesus het gesê dat hierdie tipe eed onnodig is. Hy het sy volgelinge geleer om uit gewoonte die waarheid te praat.

Volgens Jesus moet die Christen nie by die hemel, aarde of die stad Jerusalem 'n eed aflê nie. Hy moenie op grond van sy eie kop of enige ander fisiese eienskap 'n eed aflê nie. Hy moet op so 'n manier die waarheid praat dat sy 'ja' ja beteken, en sy 'nee' nee. Dit beteken nie noodwendig dat dit verkeerd is om in 'n hof 'n eed te sweer "om die waarheid te praat" nie. Die punt is dat dit onnodig is om 'n ware Christen te vra om te sweer om die waarheid te praat.

Die Christen leef egter onder wet wat van hom vereis om te sweer om die waarheid te praat. Die Christen bevestig dus net wat hy in sy hart onderneem om te doen. Om van die woord 'eed' weg te kom is dit vir die getuie wetlik toelaatbaar om te 'onderneem om die waarheid te praat' sonder dat hy of sy die standaard-eed van die hof hoef af te lê.