WAT BETEKEN “VERVUL MET DIE HEILIGE GEES"?

AKTUELE VRAE

Dit is moontlik dat iemand wat tot bekering gekom het hom nie daagliks van sy vroeëre sondige weë bekeer nie en ‘n leë, sinlose lewe voer.  Die Christen moet met die Gees vervul word.  Hy moet vol word van die Heilige Gees, dan sal hy ‘n lewe van sin en betekenis lei. Dit gebeur wanneer sy lewe deur die Gees ten volle in beslag geneem is.  Onder andere sal die Gees sy verstand open om Gods Woord te verstaan en so sal hy insig in die lewe en in sy verwarde probleme kry.

Die vrugte van die Gees word in  Gal. 5 vers 22 en in Ef. 5 vers 9 genoem, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, geregtigheid en waarheid.

Dit is ‘n verklaring van die term “vol van die Gees” en “vervul met die Gees”:  Ons wat uit onsself leeg is, moet toelaat dat die Gees ons lewe vol en sinvol maak en ons lewe beheers.  Die Bybel sê dat ons uit onsself swak is en geneig tot alle kwaad.  Alleen as ons van buite af  krag ontvang, kan ons die bose oorwin en krag tot die goeie ontvang.  Die Bybel noem die Gees van God hierdie krag wat ons verstand open en ons tot die goeie aanspoor en ons daadwerklik help. Dan doen ons dit in die krag van die Heilige Gees.

Die uitdrukking  “bid in die Gees” het ook hiermee verband.  Die Bybel sê  ons weet nie hoe om te bid nie, maar die Gees kom ons swakhede te hulp en tree vir ons in by God met onuitspreeklike sugtinge.  Niemand kan Christus as Verlosser en Saligmaker aanneem (en dus tot die Vader bid) sonder dat die Gees van God hom nie die genade, geloof en vrymoedigheid daartoe skenk nie.