WAT IS DIE DRIE-EENHEID? (1)

AKTUELE VRAE

Daar is vandag mense wat hulself as gelowiges beskou maar ewe gerus verkondig dat hulle nie in die Drie-eenheid van God glo nie. So 'n stelling kan slegs op een van twee redes dui: dat die persoon werklik oningelig is oor wat die Bybel ons leer hieromtrent; of anders dat hy daarmee die Bybel as 'n leuen verklaar. Die Bybel leer ons dat God drie Persone in een natuur is. Die drie Persone is gelyk in aard, onderskeie in Persoon en ondergeskik in take. Dit is 'n moeilike konsep vir ons om te verstaan. Nogtans is God drie Persone in een aard. Jesus is 'n Persoon. Die Heilige Gees is 'n Persoon. 1 Johannes 5:7-8 sê: "Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen." Studente van die Bybel wys daarop dat hierdie vers nie in sommige van die oudste manuskripte van die Nuwe Testament voorkom nie. Maar daar is baie ander verse waar daar geen tekstuele probleem is nie en wat verkondig dat God drie Persone maar een God is.

Die woord drie-eenheid kom nie in die Bybel voor nie maar word deur Christene gebruik om die drievoudige aard van God te definieer en te beskryf. "Ons aanbid een God in drievuldigheid en drievuldigheid in die eenheid sonder om die Persone te vermeng of die substansie te deel." – Geloofsbelydenis van Athanasius. Hierdie geloofsbelydenis verduidelik dat daar een God is maar dat Hy drie Persone is: Vader, Seun en Heilige Gees. Daar is nie drie gode nie maar een God.

Die Apostoliese Kerk het verkondig dat die beste plek om die Drie-eenheid te sien is om die Jordaanrivier, waar Jesus gedoop is, te besoek. Die Vader het hoorbaar uit die hemel gepraat, die Heilige Gees het sigbaar verskyn en die Seun was besig om gedoop te word. "Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het."  -Matt 3:16-17.

Twee aparte Persone word in Lukas 23:34 gesien: Terwyl Jesus die Seun aan die kruis was, het Hy tot God die Vader gebid: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" In Psalm 2:7 het God die Vader aan God die Seun gesê: "Ek en die Vader is een." Toe het Jesus aan Filippus gesê: "Wie My sien, sien die Vader" – Joh 14:9. En in Kolossense 2:9 word van Jesus gesê: "In Hom is die volle wese van God beliggaam."

Jesus het self van die Heilige Gees as 'n Persoon gepraat: "Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees... en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het." – Joh 14:16-17, 26.

God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees word as drie onderskeibare Persone gesien. Jesus sê vir ons dat Hy en die Vader in Christene sal woon deur middel van die teenwoordigheid van die Heilige Gees: "Jesus antwoord hom: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon." Joh 14:23.

Let daarop dat God beide 'n Drie-eenheid en 'n Eenheid is; drie, maar tog een; God uit God. Die eenheid van God beteken daar is net een God en dat die goddelike natuur ongedeeld en ongeskeie is. Daar kan dus slegs een oneindige en volmaakte wese wees. Daar word in die Skrif gesê dat die goddelike natuur ongedeeld en ongeskeie is: "Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here." – Deut 6:4, Mark 12:29, Jak 2:19. God bestaan nie uit dele nie en Hy kan ook nie in dele verdeel word nie. Sy wese is enkelvoudig, numeries een, sonder die menslike samestelling wat deels materieel en deels immaterieel is. God is Gees en kan nie daarvolgens verdeel word nie.

Hoe kan God dan drie Persone wees?

Beide die Ou en Nuwe Testamente leer ons dat God 'n Eenheid sowel as 'n Drie-eenheid is. Die Drie-eenheid beteken die Vader, Seun en Heilige Gees is elk gelyke Persone en ewig Een. Die Persone van die Godheid is gelyk in aard, onderskeie in Persoon, maar ondergeskik in die take wat hulle verrig.

In die Ou Testament word daar op die Drie-eenheid gedui wanneer die Godheid met Homself praat: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld..." – Gen 1:26. "Kom laat Ons afgaan..." – Gen 11:7. "Wie sal ons boodskapper wees?" – Jes 6:8. Daar word op die drievoudige Drie-eenheid gedui deur die drievoudige verwysing na die Godheid van die skepping: "So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm, gemaak het, dit gereedgemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie maar om bewoon te word: Ek is die Here; daar is geen ander nie." – Jes 45:18. Weer eens word die drievoudige aard van God in Jesaja 48: 16 gesien: "Van die begin af al het Ek niks geheim gehou nie, vandat iets begin gebeur het, is Ek nog altyd daar. En nou, die Here God het My en sy Gees gestuur." Die spreker is natuurlik God die Vader, die 'My' is 'n verwysing na Jesus Christus, die Messias, wat praat, en die 'Gees' is die Heilige Gees.

Die Nuwe Testament leer ons van die Drie-eenheid wanneer Jesus sê: "Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur... sal Hy oor My getuig." Joh 15:26. Dit is die Heilige Gees, wat die Trooster is, wat deur Jesus Christus van die Vader af gestuur word. Die doopformulier verkondig ook die Drie-eenheid: "... doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees..." – Matt 28:19.

Jesus, die enigste Seun van die Vader (Joh 3:16), het ook daarop aanspraak gemaak dat Hy God is toe Hy gesê het: "Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige." – Op 1:8.