IS DIE BYBEL WAAR? (2)

Dr JP Botha

Is die Bybel die waarheid? Hoe wéét ons die Bybel is waar?

Op die vraag of die Bybel werklik die Woord van God is, moes die gelowige van die afgelope ongeveer honderd jaar gedurig weer ‘n antwoord gee.  Die rede hiervoor is die ontstaan van die  sogenaamde radikale Skrifkritiek waardeur dele van die Bybel of soms selfs die ganse Bybel as ‘n bloot menslike boek bestempel word. Tog bely ons, nieteenstaande die Skrifkritiek, dat die Bybel nie voortgebring is deur die wil van ‘n mens nie, maar dat die skrywers deur die Heilige Gees gedrywe (geïnspireer) is om die Bybel te skryf. (2 Pet 1:21).  Ons kan die volgende redes noem om die egtheid van die Bybel aan te toon:

Die getuienis in die Bybel self

Ons vind in die Bybel getuienis dat hierdie boek nie deur mense geïnspireer is nie, maar van God af kom.  Die volgende gedeeltes in die Bybel toon dit duidelik aan:  2 Tim 3 : 16:  “Die hele Skrif is deur God ingegee....”; Heb 1 : 1: “ Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (2 Pet 1:21) “ Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

In die Ou Testament was die profete, die Psalmdigters en die skrywers van die wysheidsboeke (Spreuke, Prediker, Job) diep onder die indruk daarvan dat dit God is wat deur hulle spreek (2 Sam 23:2;  Ps 44:20; Ps. 77; Jer 28:12).

Wat belangrik is, is dat Jesus Christus getuig het dat die Ou Testament die Woord van God is. Telkens het Hy Hom op die goddelike gesag daarvan beroep (Mat 22:29-31;  Mar 12:10).  Christus het ook gesê dat sy apostels God se Woord verkondig (Mat 10:20). Jesus Christus getuig voorts van sy eie prediking dat dit woorde van God is (Joh 14:10). En die apostels het geëis dat hulle prediking as die Woord van God ontvang moet word. (1 Tess 2:13).

So getuig die Skrif self baie duidelik dat dit die Woord van God is.

Die aard en karakter van die Bybel

Die Bybel is geen “dooie” boek nie.  Dit is lewendig en kragtig en skerper as enige  tweesnydende swaard (Heb 4:12).  As ‘n mens lees wat Cecero en Arestoteles of enige van die klassieke wysgere geskryf het, dan word jy daardeur beïndruk.  Maar as jy by die Skrif uitkom, sal dit jou, of jy wil of nie, só aangryp dat die woorde van die wysgere inderdaad verdwerg word.

  • Die Bybel het gesag. Dit is so omdat die Bybel die boek is waarin en waardeur God spreek.  In artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis word gesê dat in die Woord gesien kan word dat dit nie van mense nie, maar van God afkomstig is.
  • Die Bybel is betroubaar. Hiervan verneem ons verskeie kere in die Skrif self (1 Tim 1:15; Luk  1:4; 2 Pet 1 : 19)  Die betroubaarheid van die Bybel is nie los te maak van sy oorsprong en sy boodskap nie.  God het gespreek.  God se Woord is onder leiding van die Heilige Gees in die Skrif opgeteken.  Daarom is die Skrif betroubaar.
  • Die Bybel is genoegsaam en volkome. As ons sê dat die Bybel genoegsaam is,  beteken dit dat daar geen aanvulling of toevoeging nodig is nie (Openb 22: 18,19). Die heil waarvan die Skrif getuig, mag deur niks en deur niemand verdring of vervang word nie (Gal 1 : 8;  2 Kor 11 : 4).
  • Die Bybel is duidelik. Die Bybel is ‘n boek van openbaring, bekendmaking. Dáárom kan die Psalmdigter sê:  “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad (Ps 119 : 105).  Die Bybel sê vir ons duidelik en helder hoe ons tot eer van God moet lewe en wat ons nodig het om salig te word.  In die Bybel maak God sy wil duidelik bekend  (Joh 18: 20;  Matt 10: 27).  Soos ‘n egte skildery in teëstelling met ‘n afdruk self getuig dat hy eg is, so getuig die Bybel dat dit van God is.

Die Bybel is ‘n eenheid

Hoewel die Bybel deur verskillende mense in verskillende tye en op verskillende plekke geskrywe is, vorm dit tog ‘n hegte samehangende eenheid, waarin die een boek voortbou op die ander.  In die sentrum van die Bybel staan Jesus Christus.  In Hom het ons die begin van alle dinge en die einde van alle dinge (Openb 21 : 6). En nou moet enige regdenkende mens erken dat dit onmoontlik is dat gewone mense op hulle eie, oor ‘n tydperk van soveel eeue, saam ‘n boek kan skryf wat so’n eenheid vorm as daar nie ‘n ewige, alomteenwoordige en alwetende God is wat dit so beskik het nie.

Beloftes in die Skrif is en word bewaarheid

As ons die Skrif lees, sien ons dat dit vol beloftes en voorspellings is wat inderdaad – soms eeue later – bewaarheid word.  Daaruit weet ons dat ons in die Bybel te doen het met die Woord van God.  Al die profesieë wat ons in die Bybel vind en wat vervul is in Christus en op ander maniere, bewys vir ons die goddelike oorsprong daarvan (Deut 18: 21, 22).

Opgrawings

Op baie punte is die waarheid van die Bybelse mededelings ook bevestig deur opgrawings wat veral sedert die begin van die vorige eeu gemaak is. Die ontdekking van vroeëre Bybeltekste en vertalings en die opgrawing van antieke stede en dorpe uit Bybelse tye, het die waardigheid van die Bybel bevestig.

Historiese getuienis

Gedurende al die eeue wat verby is, was nie net Christene nie, maar ook die vyande van die Christendom voortdurend met die Bybel besig. Nog nooit kon iemand, of enige beweging, bewys dat die Bybel nie die Woord van God is nie.

Deur die eeue heen is verskillende teorieë opgebou om die egtheid van die Bybel as die Woord van God te betwis.  Dit is opmerklik dat hierdie teorieë soos hulle gekom het, weer verdwyn het.  Die Franse filosoof Voltaire het meer as twee eeue gelede verklaar dat dit in sy leeftyd met die Bybel gedaan sou wees. Min het hy geweet dat dieselfde huis waarin hy dié woord uitgespreek het, later aan ‘n Bybelgenootskap sou behoort!

Hoewel die bogenoemde argumente duidelik die betroubaarheid van die Bybel as die Woord van God aantoon, moet ons onthou dat die mens uit homself nooit die Bybel so kan aanvaar nie. Nog altyd moet die Heilige Gees in jou hart, deur gebruikmaking van die Woord, getuig dat die Bybel die Woord van God is. Die Heilige Gees gee ons die oë om die lig te sien.

Ons almagtige, liefdevolle, getroue en alomteenwoordige hemelse Vader, baie dankie dat U vir ons u Woord gegee het om ons deur hierdie aardse duisternis te lei tot in u hemelse teenwoordigheid!

A  M  E  N